Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
KYK: Leeu se brul laat man vinnig ja-woord vra

Die laaste ding waarvan Sandy Bosman kon droom, was dat haar beminde, John Peiser, sy knie op die maat van ’n maanhaarleeu se gebrul in die Kalahari sou buig om haar om haar hand te vra.

Asof dié verrassing nie klaar haar voete onder haar uitgeslaan het nie, kom verras die einste leeu die paartjie sekondes later – so asof hy hulle self wou kom gelukwens.

Peiser en Bosman, twee natuurliefhebbers van die Kaap, het in April saam met hul vriende John en Becca Senior van Johannesburg deur die Kgalagadi-oorgrenspark getoer.

Peiser sê Bosman het seker al alle hoop laat vaar dat hy die groot vraag sou vra, maar sy plan was om haar ten tyde van die toer te verras.

Sandy Bosman en John Peiser nadat hulle in die Kgalagadi-oorgrenspark in Botswana verloof geraak het.

“Sandy het seker al moed opgegee. Haar verjaardag het gekom en gegaan en niks het gebeur nie, Nuwejaar het gekom en gegaan en niks het gebeur nie en Valentynsdag het gekom en gegaan – en steeds niks, maar ek het ’n plan gehad en die Kgalagadi sou daarin 'n rol speel omdat ons albei so ’n groot liefde vir die Afrika-bos het.”

Op 3 April het die vriende in die Mpayathutiwa-kamp net lekker om die kampvuur gemaklik geraak toe die groot leeumannetjie brul.

“Dit was 18:15 en ek het besef dit is die regte oomblik. Niemand het geweet ek beplan om Sandy te vra om verloof te raak nie, daarom was dit perfek.”

Hy het sy selfoon vir John Senior gegee en gevra of hy gou ’n foto van hom en Sandy kan neem met die mooi pan op die agtergrond.

“Sandy was in haar nagklere en wou eers nie vir die foto poseer nie, maar het tog ingestem,” lag Peiser.

Hy het toe soos ’n regte heer op sy een knie gesak, die ring uitgehaal en Sandy gevra om met hom te trou.

Op die agtergrond het die leeumannetjie diep gebrul.

Peiser sê Bosman het stil geraak en begin huil.

“Ek het nie geweet of dit ’n ja of nee is nie, maar toe sê sy ja.”

Sekondes daarna het die leeumannetjie uit die lang gras te voorskyn gekom en die vriende het gou in hul voertuie gaan sit en hom op video vasgevang.

Sekondes daarna het die leeumannetjie uit die lang gras te voorskyn gekom en die vriende het gou in hul voertuie gaan sit en hom op video vasgevang.

Hy het ’n rukkie getalm op die plek waar die paartjie verloof geraak het en toe weer weggestap.

Bosman sê dit voel steeds asof sy sweef.

“Ek het dit glad nie verwag nie.”

Sy sê toe die foto geneem moes word, met die leeu wat daar naby brul, het sy gedink: “Kry nou net klaar.”

Maar toe Peiser op sy knie afsak, het haar oë glaserig geraak en ’n warm gloed het oor haar gespoel.

“Ek het skoon van die leeu vergeet.”

Bosman glo die leeu het haar ring kom seën.

“Ek is Rooms-Katoliek en ’n priester seën jou verloofring. Nou ja, die leeu was op daardie oomblik die een wat die ring kom seën het en dit was volmaak.”

Meer oor:  Sandy Bosman  |  John Peiser  |  Ja-Woord  |  Trou  |  Leeu  |  Afrika-Bos  |  Romanse  |  Liefde  |  Huwelik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.