Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
KYK: Mak kees jaag dosent die skrik op die lyf

’n Mak bobbejaan wat aapstreke aanvang in die arms van ’n student het ’n dosent in ’n aanlyn klas aan die IMM Graduate School of Marketing in Stellenbosch behoorlik die skrik op die lyf gejaag.

Ruben Lambrechts (21) het sy dosent stomgeslaan toe sy kamera tydens die klas skielik aangaan en Cindy, hul mak kees, haar bakkies vir die kuberwêreld wys.

Cindy is nie sommer ’n hierjy kees nie. Sy is genoem na die model Cindy Crawford en is Ruben se “suster”.

Vir die Lambrechts-gesin van die plaas Simmenau, sowat 60 km wes van Windhoek in Namibië, is Cindy al 25 jaar soos ’n kind in die huis.

Barista Lambrechts, Cindy se “ma”, sê spottend dat sy ’n wittebrood-baba is.

Cindy glimlag groot toe sy vir mense vra om mense in nood as gevolg van die droogte te help.

“Ek en my man, Malan, was skaars getroud toe ons die twee weke oue bobbejaantjie by ons buurman gekry het.”

Barista sê sy kon dit nie weerstaan om die diertjie in te neem nie, maar het nooit gedink dit gaan ’n langtermyn-reëling wees nie.

“Die aanvanklike plan was om haar te speen en sterk te maak sodat sy by ’n trop in die natuur kon aansluit.”

Nou is dit 25 jaar later en Cindy is deel van die Lambrechts-gesin. Sy het selfs haar eie troeteldier, ’n vlakvark genaamd Mika.

Cindy mag dalk na ’n internasionale model genoem wees en hoewel sy dalk pragtig is, was sy as jong bobbejaantjie vreeslik stout.

“Malan wou haar al ’n paar keer weggegee het. Sy het op al wat gordyn is, gehang, kos gesteel en goed gebreek.

Al dra ’n aap ’n goue ring bly sy ’n ydele ding. Cindy is van kop tot tone vol borrels in die bad.
Haar beste maatjie is die vlakvark, Mika. Die twee kan mekaar vir ure besig hou.

“Ons het haar ook ’n paar keer bos toe geneem sodat sy by ’n trop kan aansluit, maar sy wou nie. Sy het elke keer net agter die bakkie aan gehardloop om terug te kom huis toe.”

Barista sê nou dat Cindy ouer is, is sy baie rustiger.

“Sy wil ’n mens net groom, so nou en dan ’n entjie gaan stap en The Bachelor kyk.”

Cindy het die Lambrechts as haar familie aangeneem en hoewel sy baie beskermend is, is sy oor die algemeen lief vir mense en sit altyd haar beste pootjie voor.

“Sy is veral lief vir mans,” sê Barista. “Wanneer daar vreemde mans by ons kom, swaai sy sommer haar boude vir hulle.”

In die afgelope 25 jaar, sê Barista, het sy dinge van en by Cindy geleer wat jy op geen webtuiste sal kan raaklees nie.

Cindy is glad nie as ’n huisdier grootgemaak nie en druk haar stempel af as baas van die plaaswerf.

Sy is lief vir al die diere, maar laat hulle mooi verstaan wie in beheer is.

“Haar beste maatjie is die vlakvark, Mika. Die twee kan mekaar vir ure besig hou.”

Cindy het haarself as ouma van Mika se kleintjies aangestel.

Soos enige supermodel geniet Cindy dit ook om spa-dae in die bad te hê waar sy van kop tot tone met skuim bedek word.

“Eendag sal ek nog ’n boek moet skryf oor al Cindy se staaltjies,” sê Barista.

Cindy en haar ander ‘broer’, Tersius (21).
Ruben en Cindy.
Cindy en haar ‘ma’, Barista.
Cindy ontspan saam met Ruben (21) in die son.
Cindy en haar troeteldier en beste maat, die vlakvark Mika.
Cindy en haar vlakvarkvriend.
Cindy vertroetel een van die vlakvarke.
Die oomblik gedurende die aanlyn klas toe Ruben se dosent vir Cindy sien.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.