Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
KYK: Moordwalvis keer nie 4 jong swemmers

Vier laerskoolkinders van Somerset-Wes en hul onderwyser het Maandag ysige waters getrotseer om van Robbeneiland na die vasteland te swem.

Langs die pad het hulle verskeie stukke plastiek, ’n moordwalvis en ’n paar otters teengekom, maar daar was geen onmiddellike gevaar nie en hulle het die swemtog suksesvol voltooi.

Lukas Ochsenbein (13), Kate Allwood (12), Sarah Oscroft (12) en Sarah Stenslunde (13) het in aflos-styl geswem en elkeen sowat 2,5 km afgelê in seewater van sowat 11 °C.

“Ek sal altyd die oomblik onthou toe ons klaargemaak het,” sê Lukas. “Ons het dit gedoen! Daar was tye dat ek gedink het ek gaan dit nie maak nie, maar dan het ek net gedink aan die lekker kos wat ek ná die tyd gaan eet.”

Hy sê hy was “vreeslik bang” toe die moordwalvis in die omtrek was.

Lukas en James Chavallier, hul gr. 7-onderwyser by die onafhanklike skool Somerset House, het die aflos begin aan die Robbeneiland-kant.

Die vier kinders wat geswem het. Van links is Kate Allwood, Sarah Oscroft, Sarah Stenslunde en Lukas Ochsenbein.

Soos gebruiklik, het hulle eers aan ’n rots aan die eiland se kant geraak voordat hulle begin swem het. Hulle moes daarna deur ’n klomp seebamboes stoei en albei was verras deur die warmer watertemperatuur, sê Lukas se ma, Imke Lombard.

“Dit het hulle natuurlik laat dink die swem gaan veel makliker wees as wat hulle verwag het. Hulle was verkeerd. Die oomblik toe hulle by die seebamboes uitswem, het die yskoue water hulle getref.

“Veral hul neuse en monde het baie koud gekry. Ons glo dit was rondom 9 °C,” sê sy.

“Die vier kinders moes ’n behoorlike aflosformaat volg en Lukas het begin, waarna Kate by hom oorgeneem het. Ná haar was dit Sarah S. en laaste Sarah O.

Kate Allwood in die water.

“Hulle moes die denkbeeldige ‘aflosstokkie’ in die water oorgee aan die volgende swemmer. Sarah S. moes byvoorbeeld eers aan Sarah O. in die water raak voordat sy kon begin swem.

“Elke kind het twee skofte van 20 minute elk geswem en hulle het die laaste 500 m saam uitgeswem tot op die strand." 

Chavallier het die hele afstand geswem. Die span is ondersteun deur twee bote wat heeltyd langs die swemmers gebly het.

Chavallier sê: “Dit was ’n ware voorreg om die kinders te vergesel en deel te wees van hul reis,” sê hy. “Dit is altyd wonderlik om uit ’n klaskamer te kom en ’n verhouding met kinders in ’n ander omgewing te bou.”

Hy sê die koue water was sonder twyfel die grootste uitdaging. Die lekkerste deel was om die moordwalvis te sien. “En ook die ongelooflik pragtige uitsig op Tafelberg.

James Chavallier, ’n gr. 7-onderwyser by die onafhanklike skool Somerset House, en die leerlinge Sarah Stenslunde, Sarah Oscroft, Lukas Ochsenbein en Kate Allwood, met ballonne.

“Op sowat 2 km was my hande en voete heeltemal lam. Ek moes myself moed inpraat om aan te gaan.”

Sal hulle dit weer doen? Beslis ja! “Ek wil dit graag solo doen,” sê Lukas.

Voorheen is berig Kate is doof gebore en het ’n kogleêre inplanting gehad. Sy het haar eerste gehoorapparaat op ses maande gekry en daarna weer op 11 maande. Kate sal Mei volgende jaar deelneem aan die Olimpiese Spele vir Dowes.

Die swemtog vorm deel van hul skool se gr. 7- leierskapsprogram, waar kinders uitgedaag word om hulself fisiek uit te daag.

Ter voorbereiding het hulle gewone oefensessies in die swembad, maar hulle moet ook aan verskeie swemuitdagings in damme en in die see deelneem.

James Chavallier swem langs een van die bote.

Meer oor:  Robbeneiland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.