Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
KYK: ’n Onvergeetlike, ‘wankelrige’ verlowing

Sy het nie verwag om ’n ring aan haar vinger te kry nie. Ook nie dat iemand die hele ding sou afneem nie, maar toe Megan Edwards uiteindelik die video van die groot oomblik sien, het sy net uitgebars van die lag.

En baie Suid-Afrikaners lag nou saam nadat dié video wyd op sosiale media versprei is.

Die 26-jarige Edwards en Ian Share (31) van Pretoria het op 4 Mei op Kogelbaai buite Kaapstad verloof geraak.

Megan Edwards en Ian Share in hul liefdeshartjie nadat hy die ring aan haar vinger gesteek het. Foto: Verskaf

In die video wat op sosiale media versprei is, kan jy sien hoe Edwards se suster aanhoudend struikel terwyl sy die gebeure probeer afneem.

“Ian het vir my gesê ons gaan op die strand braai,” sê sy.

“Toe ons daar aankom, het ek die hartjies en eetgoedjies gesien en toe besef ek die groot vraag kom.”

Die meisie wat die groot oomblik so effe gesteel het met haar gestruikel terwyl sy die video van die verlowing neem, is Edwards se suster, Celine Edwards (23).

Share se neef, Jakkie Booysen, het haar van die oorkant afgeneem en in sy video kan ’n mens sien hoe Celine sukkel om haar balans te hou en telkens val.

Die paartjie het op 4 Mei verloof geraak. Foto: Verskaf

Oor die video sê Edwards sy dink die oomblik was te groot vir haar suster. “Sy het self nie geweet hy gaan my vra om te trou nie.”

En toe die groot vraag gevra is en sy antwoord, was sy en haar nuwe verloofde so betrokke by wat met hulle gebeur, dat hulle nie besef het hoe Celine sukkel nie.

“Ek het eers besef iets is fout toe sy om hulp skree,” vertel Edwards laggend.

Hulle weet nie een regtig hoe dit gebeur het dat die video so wyd versprei het nie.

“Ons het dit net met familie gedeel. Ek wou nie hê dit moet uitkom nie, want ek wil nie my suster in die verleentheid stel nie,” sê Edwards.

“Sy het gelukkig nie seergekry nie, en ek sal daardie dag nooit vergeet nie.”

Ian Share en Megan Edwards. Foto: Verskaf

Share sê hy en Edwards is al langer as drie jaar saam en hy weet al lankal dat dié meisie sy trouvrou is.

“Sy beteken die wêreld vir my en ek is opgewonde om die nuwe hoofstuk in my lewe saam met haar te begin.”

Hy dink Celine het die hele gedoente goed hanteer.

“Ons het almal gelag. Maar op daardie dag was daar net ’n warm gevoel van blydskap in my. Ek is baie opgewonde oor die troue.”

Celine sê sy het beslis nie die verlowing verwag nie.

“My ouers het geweet as ek weet, sou ek my suster vertel,” sê sy.

Celine Edwards (23) Foto: Verskaf

Sy het later ook maar net gelag vir die video.

“Ek het my foon vinnig probeer uithaal om die oomblik af te neem. In die proses het ek nie gekyk waar ek loop nie en toe val ek oor ’n klip. Ek het opgestaan en weer geval. En weer geval. Ek was seker maar geskok oor die verlowing wat hier reg voor my afgespeel het,” skerts Celine.

Edwards sê mense herken haar nou van die video af.

“Vanoggend het hier ’n klant ingestap en gesê ‘hallo famous’. Dit het ’n bietjie weird gevoel,” sê sy.

Celine sê sy het nooit gedog ’n val sal enigiemand so bekend maak nie.

Share en Edwards beplan om op 28 Mei 2022 te trou.


Meer oor:  Ian Share  |  Megan Edwards  |  Pretoria  |  Verlowing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.