Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
KYK: Op skool geboelie, nou ’n vegter van formaat

Terwyl hy op ’n plaas in die Robertson-distrik grootgeword het, het Denver Isaacs (24) nie die maklikste lewe gehad nie.

“Alkohol was orals om my en dit het gevoel asof die armoedige omstandighede in die omgewing almal insluk. Asof dit nie genoeg was nie, was ek op laerskool ook gereeld die teiken van boelies. Dit is eers toe ek besluit het om gevegskuns aan te leer dat my lewe drasties verander het.”

Denver Isaacs besig om te oefen.

Isaacs, wat nou in Observatory, Kaapstad, bly en tans ’n graad in sielkunde voltooi, is vaardig in skopboks, Brasiliaanse jiu-jitsu en Muay Thai, ook bekend as Thaise boks.

Op 10 April vanjaar het die 24-jarige, wat 59 kg weeg, sy teenstander in sy derde professionele geveg in 29 sekondes uitgestof. Hy het ook albei sy vorige gevegte gewen.

Alles was egter nie altyd maanskyn en rose vir Isaacs nie.

Denver Isaacs
Denver by die huis op die plaas in die Robertson-distrik waar hy grootgeword het.

“Ek kon maklik tou opgegooi het. Kinders om my het skool gelos om op dieselfde plaas te werk waar hul ouers gewerk het. Hulle het ook baie alkohol gedrink. ’n Mens kon sien hoe ongelukkig hulle in hul omstandighede is.

“Ek het besef daar is soms ’n gravitasiekrag wat betref omstandighede waaruit mense net nie weg kan kom as hulle nie alles insit nie.”

Toe hy agt jaar oud was, het hy besef dat hy bo sy omstandighede wil uitstyg.

“Ek was altyd die kort een. Ek was ook ligter as die res van die kinders en het groen oë gehad. Ek is gespot omdat ek anders is en mense het my daaroor geboelie, veral omdat ek kort was.

Ek het besef terwyl ek grootgeword het, was die lewe my oefenmaat – die lewe het my gevorm en getoets om die rol te kan vervul waarvoor ek bedoel is.

“Dit was nie die pyn daarvan om geskop en geslaan te word wat die seerste was nie. Die ergste was die vernedering van iemand anders wat jou voor ’n klomp mense klein laat voel het en hul wil op jou wou afdwing. Ek is vertel dat ek nooit iets sou word nie.”

Isaacs sê hy kon hom vereenselwig met die skoolmeisie wat vandeesweek vermoedelik haar eie lewe geneem het nadat sy by haar skool geboelie was.

“Ek het gewoonlik met kinders gespeel wat jonger as ek was. Ek het op ’n dag as gr. 8-seun saam met gr. 6-kinders rugby gespeel. Selfs tussen hulle was ek klein.

“Terwyl ons gespeel het, het een van die gr. 6-kinders iemand anders geboelie. Ek het vir daardie kind opgestaan en toe slaan die boelie my.

“Ek as ’n gr. 8-leerling is deur ’n gr. 6-kind geslaan. Dit was vernederend. Selfs die kind vir wie ek opgestaan het, het my uitgejou omdat ek nie die geveg kon wen nie.”

Daardie gebeure het hom diep laat nadink.

Denver Isaacs is nou lid van die Top Primate-klub.
Denver Isaacs op 10 April in sy derde professionele geveg, waarin hy sy teenstander in 29 sekondes uitgestof het. Foto: Skermgreep

“Ek het gedink: ‘Wat het van my ’n teiken gemaak?’ Ek het ’n hoekie by die huis op die plaas gehad waar ek normaalweg sou gaan staan en huil en oor die lewe besin het. Daardie dag het ek in daardie hoekie besluit genoeg is genoeg.”

Isaacs het by sy enkelma op Robertson gebly en het tydens skoolvakansies vir sy pa in Franschhoek gaan kuier. Toe hy in 2011 daarheen getrek het, het hy professionele gevegskuns begin aanleer.

“Ek en my een broer, Edward, het altyd pouses ons gevegskuns geoefen. Een van ons ander vriende het hom by ons aangesluit en ons het elke pouse na bome geskop en geoefen.

“Kinders het ons die three ninjas begin noem.

“Ek het besef hoe meer ek professioneel begin veg het, hoe minder is ek geboelie. Ek dink kinders het begin besef hoewel ek kort is, kan ek vir myself opstaan.”

Denver Isaacs en sy huidige afrigter, Juan-Dré Blaine.

Isaacs droom daarvan om eendag aan die Ultimate Fighting Championship (UFC) vir gemengde vegkuns in Amerika deel te neem.

“Ek voel lewendig in die kryt. Ek het besef terwyl ek grootgeword het, was die lewe my oefenmaat – die lewe het my gevorm en getoets om die rol te kan vervul waarvoor ek bedoel is.

“Ek hoop ander mense leer hieruit dat jy wel groot kan droom, al kom jy uit watter omstandighede. Solank jy hard werk, is jou toekoms in jou hande.”



Meer oor:  Skool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.