Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
KYK: Paartjie se Bloem-kuier eindig toe in troue

’n Pretoriase paartjie sal met hul terugkeer van die Vrystaat die provinsiale grense met ’n ander huwelikstatus oorsteek nadat weldoeners onverwags vir hulle ’n troue gereël het.

Johan Beneke (58) en Sonja Davel (44) het gedink hulle kom bloot by familie in Bloemfontein kuier, nou is hulle in die eg verbind!

Die twee het Donderdagmiddag ná ’n verhouding van net meer as twee jaar – ’n jaar en ’n half as verloofdes – in ’n kort en intieme seremonie die trou aan mekaar beloof.

Ds. Robbie du Toit van die NG kerk Estoire het die huweliksbevestiging net ná 16:00 in ’n vertrek in die kerkgebou waargeneem.

Dit is albei se tweede huwelik nadat elkeen ’n huweliksmaat aan die dood afgestaan het. Saam het hulle vyf volwasse kinders uit hul vorige huwelike.

Die egpaar kon weens ’n gebrek aan inkomste nie, soos beplan, in Desember verlede jaar trou nie.

Beneke, ’n voertuig-bakbouer, is verlede jaar medies ongeskik verklaar. Dit was kort nadat sy geliefde haar werk verloor het by ’n kleuterskool wat sy deure moes sluit.

“Ons kuier by my oorlede vrou se suster. Ons het net kom kuier en sy het met die trou-ding begin,” sê Beneke.

Sonja Davel (44) en Johan Beneke (58) van Pretoria het Donderdagmiddag by die NG kerk Estoire in Bloemfontein die knoop deurgehak nadat weldoeners vir hulle ’n troue gereël het. Foto: Mlungisi Louw
Die bruidspaar Sonja Davel (44) en Johan Beneke (58) op hul troudag saam met hul gaste by die NG kerk Estoire in Bloemfontein. Foto: Mlungisi Louw
Sonja Davel (44) en Johan Beneke (58) het Donderdagmiddag ná ’n verhouding van net meer as twee jaar, waarvan ’n jaar en ’n half as verloofdes, met ’n kort en intieme seremonie in die NG kerk Estoire vir mekaar ringe aangesteek. Foto: Mlungisi Louw

Lindie Botha, sy skoonsuster, en Karen Rhind, haar vriendin, het besluit om vir hulle ’n troue te reël en die idee het tot by Hester Bekker van die welsynsorganisasie Guardian and Angel uitgekring.

Dié paartjie se troue is waarskynlik die tiende wat Guardian and Angel help reël het.

Netwerk24 het verlede jaar berig hoe Bekker saam met ander weldoeners Angie en Hennie McPherson van Ehrlichpark in Bloemfontein se eenvoudige en vinnige troue in ’n droomdag omskep het. Die paartjie sou ’n bring-en-braai-onthaal hou.

Bekker sê sy het aangebied om vir die Pretoriase paartjie ’n troue te reël, nadat hulle gevra het of sy van ’n dominee weet wat hulle kan trou.

“Hulle het gesê al is dit net in ’n kamertjie, is dit vir hulle reg.”

Die onthaal sou by ’n familielid se huis wees.

“Toe vra ek – waarom net in ’n kamertjie trou? Dit is die mooiste dag in enige mens se lewe. Ek het toe gevra of ek kan help.”

Bekker sê Beneke en Davel was oorstelp deur dié aanbod.

Dié welsynswerker sê sy het die troue vandeesweek begin reël, maar sê sy het al baie troues op selfs korter kennisgewing gereël.

Bloemfonteiners se harte en hande is oop en sy bedank hulle daarvoor.

Die bruidspaar Sonja Davel en Johan Beneke by die vroue wat die troue gereël het. Van links is Lindie Botha, Beneke se skoonsuster, Hester Bekker van Guardian and Angel en Karen Rhind, Botha se vriendin. Foto: Mlungisi Louw
Die troukoek by die onthaal. Foto: Silwerfotografie
Die gedekte tafels vir die onthaal in Casabello in Bloemfontein:Foto: Silwerfotografie

“Dis net vir my lekker om te gee en hulle so gelukkig te sien.”

Helene Scott, direkteur van die organisasie, het Bekker help reël.

Bekker het onder meer op Facebook gevra hoe mense tot die troue kan bydra en so het die troukar, die bruidspaar se klere, koek, kos, ruiker en fotograaf en die bruid se hare naels en grimering in plek geval.

Die onthaal is by Casabello in die stad gehou.

Die bruidegom se enigste verwagting van die troue was dat Sonja mooi sou lyk. Dié Bloemfonteiner van oorsprong bedank almal wat ’n aandeel in die reëlings gehad het.

Hulle is verheug om uiteindelik getroud te wees.

“Ek’s eintlik bly hulle het die troue gereël, anders sou ons nooit getrou het nie,” sê die bruid.

Die troukoek saam met ander soetgoed op die onthaal. Foto: Silwerfotografie
Versnaperinge op Johan Beneke en Sonja Davel se onthaal. Foto: Silwerfotografie

Meer oor:  Troue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.