Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
KYK: ‘Reisfees’ ten bate van kunstenaars in VS gehou

Met vers, klank en Vrystaatse cuisine het die reiskring van De Oude Kraal Landgoed buite Bloemfontein dit Saterdag reggekry om besoekers op ’n eg Vrystaatse kos-en-kunsreis te neem.

Danksy die mini-kunstefees, ten bate van kunstenaars van die provinsie wat weens die Covid-19-pandemie gebuk gaan onder geldelike druk, kon sowat 87 reisigers “smul” aan eg Vrystaatse kuns.

Groepe van sowat 20 mense kon verskillende stasies, die meeste op die landgoed, besoek waar hulle elke keer aan ’n ander Vrystaatse dis kon peusel terwyl hulle deur kunstenaars op drama of musiek getrakteer is.

Marie Lombard (regs) en haar dogter Marie-Louise Nel het ’n demonstrasie van ’n kos-en-wyn-kombinasie gehou, terwyl Anton Esterhuyse klavier gespeel het. Foto: Jóhann Thormählen
Ilne Fourie, vryskutaktrise van die Vrystaat, het in haar eenvrouvertoning vertel van die Anglo-Boereoorlog en hoe om Covid-19 “te begrawe”.Foto: Jóhann Thormählen

Marie Lombard, mede-eienaar van De Oude Kraal, sê daar moet innoverend gedink word om weer bo te kom.

“Ek is nog altyd dol op die Vrystaat. Almal moet dit ken en die Vrystaat se disse proe. As ons dit vir mense kan wys en mekaar boonop daardeur finansieel ondersteun, dan móét ons dit doen.”

Mario Lategan van Phoenix Productions, organiseerder van die kunstefees, sê hulle beplan om die fees gereelder aan te bied.

“Mense is so honger vir dit wat eg is. Die egte dinge is tog dit wat ’n mens se lewe geur en waarde gee.

“Veral nou is mense honger om ’n bietjie van die werklikheid te ontsnap.”

By Ilne Fourie se eenvrouvertoning het besoekers die geleentheid gehad om die Covid-19-pandemie en 2020 “in ’n graf te gooi om begrawe te word”. Foto: Jóhann Thormählen

By die enigste oorblywende blokhuis in die Vrystaat – op ’n buurplaas – kon reisigers hul geskiedeniskennis opknap met biltong, boeretroos en beskuit in die hand.

Dr. Johan Hattingh, senior dosent in toerisme aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie in Bloemfontein, het vertel van die blokhuise se bestaan en voortbestaan as geskiedenismonumente in Suid-Afrika.

In ’n eenvrouvertoning het Ilne Fourie reisigers na gister en die gebeurtenisse van die Anglo-Boereoorlog teruggeneem.

Langs haar was ’n oop graf waarin reisigers hul verlies weens die pandemie kon gooi en “begrawe”.

Fourie sê die oop graf is simbolies van die reis wat sy as kunstenaar deur die inperking moes meemaak.

“Baie het gedink die inperking sal die dood van die kunste beteken, maar hier is ons weer op die been.

“Waar dood verwag is, het nuwe lewe uitgespruit.”

’n Geskiedenispraatjie by ’n blokhuis wat een van die stasies van die mini-kunstefees was. Foto: Jóhann Thormählen
Koffiepotte prut langs die blokhuis. Foto: Linkie Bessinger
Gaste Saterdag op die De Oude Kraal Landgoed buite Bloemfontein. Foto: Jóhann Thormählen
Cézanne Yzelle en Petrus van Wyk vermaak die reisigers op die jenewer-en-jazz-stasie. Foto: Jóhann Thormählen
Teresa de Wit, begelei deur Lesley-Ann Matthews, het die reisigers in die hoofhuis op De Oude Kraal Landgoed met opera en vonkelwyn vermaak. Foto: Jóhann Thormählen

Sy sê hoewel mense kunstenaars se inkomste en materiaal vir stories bepaal, was dit lekker om te leer om aan te pas met dit wat tot jou beskikking is.

“Niemand het begroot vir dié jaar nie, maar ons kon duur lesse uit die jaar leer.

“Of dit nou op die verhoog of met ’n aanlyn Zoom-vertoning is, die kunste sal aanhou veg.”

By ’n ander punt kon reisigers met ’n glas jenewer in die hand na ’n jazz-vertoning van Cézanne Yzelle, met Petrus van Wyk se kitaarspel, luister.

Daar was ook geleentheid om in die hoofhuis na die operaklanke van Teresa de Wit te luister, begelei deur die pianis Lesley-Ann Matthews, terwyl aan vonkelwyn geteug is.

Lombard en haar dogter, Marie-Louise Nel, het reisigers ook in hul kombuis ingenooi en gewys hoe om die lekkerste Vrystaatse skaapboud voor te sit met raad oor watter wyn om daarby te geniet.

Die gaste was vol lof vir die fees en het die versugting uitgespreek dat daar nog baie soortgelyke geleenthede sal wees.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Kunstefees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.