Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
KYK: SA se grootste hamburger na komediant genoem

Selfs al is jy so honger dat ’n gewone burger eenvoudig nie die ding vir jou gaan doen nie, sal jy twee keer moet dink voordat jy gaan weglê aan die grootste hamburger in die land wat Donderdag in Kaapstad gemaak is.

Dié burger wat deur The Grillfather-restaurant in Mitchells Plain, Kaapstad, gemaak is, het die skaal op 19,6 kg laat kreun.

Voor van links is Donovan Goliath, die komediant na wie die burger genoem is, Naeem Hussain en Shane Swiegelaar, eienaars van die restaurant. Swiegelaar lek sy lippe af vir die yslike Goliath & Goliath Tsek-hamburger. Agter is van die restaurant se personeellede. Foto: Adrian de Kock

Dié Goliath & Goliath Tsek-hamburger, wat genoem is na die komediant Donovan Goliath, het bestaan uit 3,2 kg hamburgerfrikadelle, 1,5 kg boerewors, 50 snye kaas, gebraaide uie en 24 snye gebraaide pynappel, blaarslaai, tamatie en komkommer. ’n Sampioensous word daarby voorgesit.

“Dit is die Tsek-hamburger op steroïede,” sê Shane Swiegelaar, eienaar van die restaurant.

Dit is byna 30 keer die grootte van die gewone Tsek-hamburger wat bestaan uit ’n sesamerolletjie, ’n geheime sous, blaarslaai, tamatie, komkommer, ’n hamburgerfrikkadel, ’n kaasskyf, gebraaide pynappel, gesmoorde uie, nóg ’n frikkadel, nóg ’n kaasskyf, nóg gebraaide pynappel, nóg gesmoorde uie, ’n stuk boerewors en sampioensous. Dit word saam met aartappelskyfies bedien.

Die Goliath & Goliath Tsek-hamburger van naderby. ’n Personeellid gooi van die restaurant se geheime sous oor die massiewe hamburger. Foto: Adrian de Kock

Goliath, die komediant na wie die enorme hamburger genoem is, het die hamburger een kyk gegee en reguit gesê hy is bang om dit te eet.

Hy skerts dat hy twee dae nie kon slaap nie nadat hy ’n paar weke gelede die YOH-hamburger geëet het.

Dié burger, op ’n broodrol van 30 cm, bestaan uit ’n frikkadel van 1 kg, kaas, pikantrissies, ’n sampioensous, blatjang en skyfies. Dit weeg 2,8 kg.

Dit is na die radiostasie YOH genoem.

Hulle het toe saam met Swiegelaar en sy vennoot,

Naeem Hussain, besluit om ’n nog groter hamburger te maak.

“Ons het besluit om Goliath & Goliath aan boord te bring om humor by ons kos te voeg,” sê die restaurant in ’n verklaring.

Goliath sê dit is ’n absolute eer dat die burger na hom genoem is.

“Hoeveel mense het daardie voorreg?”

Die komediant Donovan Goliath saam met die halfklaar hamburger wat na hom genoem is. Foto: Adrian de Kock
Die personeel is in hul noppies toe die Goliath & Goliath Tsek-hamburger die skaal op 19,6 kg laat kreun nadat hulle aanvanklik gedink het dit sou 16 kg wees. Foto: Adrian de Kock

Swiegelaar sê enigiemand kan die grootste hamburger maak, maar hulle gaan dit nou gereeld maak en op hul spyskaart sit.

Klante kan die hamburger drie dae voor die tyd bestel.

Toe Netwerk24 by die restaurant aankom, het Swiegelaar aanvanklik gesê die hamburger gaan sowat 16 kg weeg en sal 60 cm breed wees.

Daarom kon niemand hul oë glo toe die hamburger in werklikheid byna 4 kg swaarder is nie.

Dit het vyf personeellede en ’n braaier gekos om dit binne anderhalf uur te maak. En toe eet 25 mense hom in ’n halfuur op.

Die restaurant het drie jaar gelede geopen en het takke in Wynberg en Woodstock. Hulle beplan ook om later vanjaar ’n nuwe tak in Kuilsrivier te open, sê Swiegelaar.

Shane Swiegelaar nadat hy die Goliath & Goliath Tsek-hamburger in twee gesny het. Foto: Adrian de Kock
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.