Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
KYK: Seun maak blink plan vir ingeperkte gholfspelers

’n Vrystaatse plaasseun van Bultfontein, Jedri Janse van Rensburg (13), het pas ’n eenvoudige oefenapparaat ontwerp waarmee gholfspelers hul dryfhoue tuis kan oefen.

Jedri is die seun van Michris Janse van Rensburg, ’n bekende ontwerper van landbouwerktuie.

Janse van Rensburg sê dit lyk asof sy seun die liefde om planne te maak en dinge te ontwerp by hom geërf het.

Jedri het die patent om dryfhoue tuis te oefen gedurende die huidige staat van inperking bedink. Hy sê hy het eers ’n bal aan ’n tou en ’n paal vas gemaak maar die tou het die heeltyd gekoek. Dis toe dat hy ’n plan met ’n rek en ’n teengewig bedink het.

“Ek kan sien dit verbeter my gholf,” sê hy.

Jedri Janse van Rensburg van Bultfontein oefen hier sy dryfhoue met sy nuut ontwerpte oefenapparaat.

Jedri het ook in Maart vanjaar ’n staander ontwerp vir handreiniger by winkels. Dié plan het hy nie gepatenteer nie, maar sy gholfapparaat is reeds gepatenteer.

Janse van Rensburg sê hy het vir sy twee sportiewe kinders, Jedri en Annemé (16), 100 gholfballe gekoop waarmee hulle gedurende die inperkings op die plaas kon oefen.

Die balle het gou minder geword en dit het Jedri aan die dink gesit. Hy wou iets ontwerp waarmee ’n mens jou houe kon verbeter sonder om die balle te verloor.

Janse van Rensburg sê daar was al voorheen ’n soortgelyke apparaat te koop wat met ’n rek aan ’n paal vas was. Dié patent was egter gevaarlik omdat dit teruggebons het en mense kon beseer. Jedri se plan is baie veiliger.

Twee gholfballe is met ’n rek aanmekaar vas. Die een gholfbal word geslaan terwyl die ander een as teengewig dien.

Die manier waarop die balle deur die lug trek, wys ook vir die speler of sy tegniek reg is en of hy die bal reg tref, sê Janse van Rensburg.

Hy sê as ’n speler die hou skeeftrek, sal die teengewig links of regs van die bal deur die lug trek. Wanneer die hou suiwer en reg uitgevoer word, trek die twee balle gat oor kop.

“ ’n Bal wat 280 m ver sou trek, sal danksy die teengewig net 10 of 15 m ver trek. Dis veilig in jou agterplaas en die bal raak nie weg nie.”

Dit is ideaal vir mense wat nie gereeld op ’n gholfbaan kan oefen nie of wat soos nou weens die inperking nie kan gaan oefen nie.

Die oefenapparaat wat Jedri Janse van Rensburg ontwerp het, bestaan uit twee gholfballe wat met ’n rek verbind is.

Meer oor:  Gholf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.