Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
KYK: Skukuza-gholfbaan bied meer as ’n voëltjie, arend

Gholfspelers by die Skukuza-gholfklub in die Krugerwildtuin het Maandag maar katvoet gespeel toe hulle besef van die toeskouers sluit ’n trop leeus in.

Vir die groot katte het dit egter oor die effense lafenis van die sagte groen gras, ’n waterfonteintjie en koeltebome by die vyfde setperk gegaan, al moes hulle bly rondkyk vir wanneer die baanopsigter hulle weer wil kom verjaag.

“Hulle moet maar lidmaatskapgeld betaal as hulle wil saamspeel. Reëls is reëls,” skerts Jean Rossouw, baanopsigter en klubkaptein.

Die trop leeus wat hulle Maandag in die versengende hitte op die Skukuza-gholfbaan se groen gras tuisgemaak het.Foto’s: Jean Rossouw

Met die kwik wat Maandag tot aan die verkeerde kant van 47 °C in Skukuza geklim het, vermoed Rossouw die kraagmannetjies en hul ander helftes het bloot skuiling teen die hitte gesoek.

“Die gholfbaan is nie omhein nie. Dis die enigste een ter wêreld waar jy die Groot Vyf tussen die putjies sal kry,” sê hy.

Talle diere, insluitende bokke, besoek gereeld die gholfbaan, veral in die winter, omdat die gras daar groener is. Daar is ook ’n groot dam voor die klubhuis en ’n waterfonteintjie naby die vyfde setperk. Dit is letterlik ’n oase wat aan die vaal veldgras grens.

Die droogte en afgelope paar weke se hittegolf het ook die koning van die diereryk genoop om uit sy ruie gemaksone te kom.

“Ek het Maandagoggend so by 06:30 met ’n gholfkarretjie gery en die gholfbaan geïnspekteer. Toe lê agt leeus onder die boom,” sê hy.

Dit was die derde keer in twee weke dat die leeus hulself op die gholfbaan kom tuismaak.

“Die groot trekpleister is die koel gras en die baie water hier beskikbaar,” sê Rossouw.

Hy verstaan dit, maar daar is ook mense wat betaal om op die gholfbaan te speel en wat heelhuids wil wegstap.

“Ek het maar teruggery en die bakkie gaan haal om die leeus te versoek om te skuif, want die gholfkarretjie sou tweede kom as ek hulle daarmee probeer jaag het,” sê Rossouw.

Die trop het padgegee, maar nie te ver nie.

Die enkele besoekers vir die dag is soos altyd ingelig van die gevaar van wilde diere op die baan. Rossouw het ook gevra om te help oog hou oor die vierpotige betreders, terwyl hy self kort-kort gaan seker maak het dat die leeus nog op ’n veilige afstand bly.

“Toe ek so by 12:00 weer gaan kyk, was hul weer onder daardie selfde bome op dieselfde setperk,” sê hy.

Dié slag was daar tien leeus wat al hygende die skadukol opgesoek het.

Hul het mooi soet en stil gelê, maar so dat hulle binne twee tree die bosse in kon verdwyn, sou Rossouw weer sy stem dik maak.

Meer oor:  Jean Rossouw  |  Skukuza  |  Gholfbaan  |  Omgewing  |  Leeus  |  Hittegolf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.