Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
KYK: Spesiale verjaardag vir Michelle

Dit was ’n jolige konvooi wat Saterdag nie-so-stigtelik agter die blosend-rooi loeiende 1932-Leyland brandweerwa na Michelle Rautenbach se huis in Villieria, Pretoria, gery het.

’n Mondigwording bly selfs tydens die staat van inperking spesiaal, maar in Michelle se geval, nog meer. Sy moes al soveel gesondheidsprobleme oorkom dat sommige mense stilweg gewonder het hoeveel lewensjare die sprankelvrou nog gegun sou word.

Daar was die diabetes-diag­nose op agtjarige ouderdom en daarna varkgriep, asma- en epileptiese aanvalle en hipertensie. In 2016 het Michelle in ’n koma gegaan en haar hart het vir ’n ruk gaan staan.

Tydens haar hoërskoolloopbaan was sy vir lang rukke in die hospitaal.

“Maar die Here het telkens my kind vir my teruggegee – en nou word sy 21!” straal haar ma, Louisé Rautenbach (46).

Dat ma en dogter ’n mondigwording saam kan vier, is ’n spesiale kersie op die verjaardagkoek. kanker én lupus, ’n outo-immuunsiekte, is in 2017 by Michelle se ma gediagnoseer en Louisé moes ook ’n pasaangeër kry. “Ek en Michelle veg dus maar die heeltyd terug – en saam. Ons probeer die mooi in elke dag vind,” vertel Rautenbach.

Michelle Rautenbach
Ben Minnaar van die Wonderboom-militêre museum neem vir Michelle Rautenbach en haar verloofde, Schandré Jude, vir ’n vinnige bederf-rit as deel van Michelle se verby-ry-verjaardagviering. Foto: Christiaan Kotze

Uit dankbaarheid vir die 21 jaar wat sy haar dogter kon hê, het sy reeds twee maande gelede aan Saterdag se verrassing beplan. “Ek is net met geleende tyd hier. Ek is bang hierdie is die laaste ding wat ek vir haar kan doen. Sy het so ver gekom en so hard geveg,” vertel Rautenbach. Die verrassing moes Saterdag geskied, want Rautenbach moet weer hospitaal toe vir chemoterapie.

“En ek moes die planne stilhou! Tot die afgelope Donderdag het net ek en ’n jarelange familie- en gebedsvriend, André Oosthuysen, geweet, want ek het hom gevra of hy ’n brandweerwa sal kan reël. André het iemand geken, maar kon niks belowe nie.

“Dit was so senutergend. Ek kon nie eens my man, George, vertel voordat alles nie bevestig is nie, ingeval hy van opgewondenheid iets laat glip,” vertel Rautenbach.

Donderdag het Oosthuysen laat weet: Ben Minnaar van die Wonderboom-militêre museum het ’n 1932-Leyland brandweerwa in sy private versameling.

“Dit het gevoel of Tafelberg van my skouers afval van verligting!” sê Rautenbach.

Michelle Rautenbach met die verjaardagboodskappe wat sy ontvang het. By haar is haar verloofde, Schandré Jude. Foto: Christiaan Kotze

’n Intieme groepie vriende en familie sou deelneem aan die verby-ry-gelukwensing. Die plan was dat Michelle se pa en haar verloofde, Schandré Jude, kamtig iewers heen sou ry. Dan sou George terugkom en Michelle sou hek toe gestuur word.

Net voordat die wa en die vyf-kar-konvooi met groot fanfare om die hoek sou kom, het die rooi wa egter hakke ingeslaan en net daar gevrek.

“Die mans wat deel van die konvooi was, kon niks fout vind nie. Toe begin hulle bid. En die wa skakel aan en kom die pad af met die sirenes aan.

“Jy moes my kind se gesig gesien het!” straal die ma.

En toe haar dogter van die grootse oomblik begin huil, het Ma haar soos altyd om die skouers gevat. “Dit was so spesiaal. Ek weet ek verjaar eers eintlik more, maar ek dink nie iemand gaan iets kan doen wat Saterdag top nie!” sê Michelle.

Sy het ook ’n spesiale verjaardagkaartjie gekry, met Openbaring 3:8 as boodskap: “Ek weet alles wat julle doen. Kyk, Ek het ’n deur voor julle oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie. Ek weet dat julle min krag het, en tog het julle aan my boodskap vasgehou en My nie verloën nie.”

Meer oor:  Michelle Rautenbach  |  Villiera  |  Pretoria  |  21Ste Verjaarsdag  |  Brandweerwa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.