Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
KYK: 14 keer in 20 uur op en af teen Tafelberg

Dit is welbekend hoe uitmergelend dit is om Tafelberg uit te klim en daarna af te klim. En om die Platteklipkloof-roete binne die bestek van 20 uur 14 keer op en af te klim, sit nie in enigeen se broek nie!

Dit is presies wat die dapper AJ Calitz van Melkbos en Christiaan Greyling van Stellenbosch Maandag 10 Mei doen in ’n poging om die Guinness-wêreldrekord te verbeter vir ’n vertikale afstand wat te voet (op en af) deur ’n span afgelê word.

Die twee manne, albei kranige hardlopers, sê hoewel die bestaande rekord in 24 uur aangeteken is, verhoed die nasionale staat van inperking se aandklokreël hulle om die volle 24 uur te benut.

AJ Calitz en Christiaan Greyling het in 2016 as span aan die Tankwa-veldwedloop deelgeneem.

Die huidige rekord word deur 11 deelnemers aan die Reek Challenge gehou wat die berg Croagh Patrick in Murrisk, Ierland, aangedurf het. Hulle het 18 086 m afgelê.

Calitz en Greyling se doel is om die uitdaging binne 20 uur te voltooi en die span is al sedert 04:00 Maandag besig om teen Platteklip op en dan weer af te hardloop.

“Ons wil die rekord met vier uur verbeter en boonop ’n ekstra 1 000 m by die rekord voeg,” sê Greyling.

Die twee beoog om met elke poging 692 m op en 692 m af te hardloop.

Calitz en Greyling voor hul eerste poging vroeg Maandagoggend.
Calitz en Greyling omstreeks 10:10 ná hul vyfde poging.
Calitz en Greyling ná hul tweede poging.

Sondagaand het die manne aangedui dat hulle senuweeagtig is.

“Ek het Platteklip al baie uitgeklim,” sê Calitz. “Niks berei ’n mens egter voor om daardie roete 20 uur lank op en af te klim nie. Jy weet jy gaan pyn ervaar; dit is onvermydelik. Ek dink ons het nogal ’n uitdaging voor ons, maar ons het alles goed beplan.”

Greyling sê hoewel hy en Calitz baie ervaring het, het die uitdaging letterlik soos ’n berg voor hulle gelê.

“Dit gaan nie maklik wees nie. Die berg wat ons so goed ken, gaan ons baie pyn besorg,” sê hy.

Calitz is geen vreemdeling as dit by Guinness-wêreldrekords kom nie. Hy hou tans die rekord vir die beste vertikale hoogte wat in 12 uur behaal kon word. Hy het in 2014 altesaam 10 257 m aangeteken, ook op die Platteklipkloof-roete.

Met hul jongste rekordpoging wil die twee atlete ook bewustheid verhoog rakende Edunova, ’n maatskappy sonder winsbejag wat fokus op die doeltreffende gebruik van tegnologie in minderbevoorregte skole oor Suid-Afrika heen.

John Thole, uitvoerende hoof van Edunova, sê sy maatskappy voel geëerd.

“Ek kan my net indink hoeveel pyn dit gaan veroorsaak om so baie teen die berg op en af te moet klim,” sê Thole.

“Die twee moet net weet hulle is besig om baie leerlinge se lewe met elke poging te beïnvloed.”

Greyling en Calitz was omstreeks 10:55 reeds vir die sesde keer bo-op Tafelberg. Teen druktyd was dit nog nie bekend of hul doelwit binne bereik was nie.

Calitz en Greyling ná hul derde poging bo-op die berg.
Greyling en Calitz toe hulle die vierde keer bo-op Tafelberg was.
Meer oor:  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.