Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
KYK: Tjeers op die ‘oudste’ kroegman in Bfn!

Nick “Kannetjie” van der Westhuizen, ’n afgetrede treindrywer, werk op 80 nog volstoom as kroegman in sy eie kroeg, Old Uncle Charly’s Pub, in Bloemfontein.

Nick van der Westhuizen is op 80 nog kroegman in sy eie kroeg, Old Uncle Charly's Pub, in Bloemfontein. Foto: Marita Herselman
Nick van der Westhuizen, skink ’n dop in sy kroeg Old Uncle Charly’s Pub in Bloemfontein. Foto: Marita Herselman

Vrydag sal die gereelde gesigte in dié kroeg, waar die nommerplate teen die houtbalke pronk, hul glase op die gasheer se 80ste verjaardag klink.

Van der Weshuizen, oorspronklik van Warrenton en gebore op Barkly-Wes in die Noord-Kaap, reken hy is die oudste kroegman in die Rosestad.

Die vliegtuig het reeds voormiddag oor die versteekte kroeg in Vleilaan gevlieg met ’n handjievol mense wat agter die kroeg sit en iets drink of eet.

Old Uncle Charly’s Pub in Bloemfontein, waar nommerplate teen die houtbalke pronk. Foto: Marita Herselman

Prente van treine is ook op die muur geplak, terugverwysend na Van der Westhuizen se agtergrond. Hy het in 1959 as skoonmaker op die spoorweg begin werk.

Hy het uiteindelik sy spoorwegloopbaan as treindrywer afgesluit. Dit is ook hoe een van sy gereelde klante, Ertjies van Biljon, hom onthou.

“As hy ’n dop ingooi, voel dit asof hy steeds kole met die graaf gooi,” skerts Van Biljon.

’n Ruk nadat Van der Westhuizen afgetree het, het hy kroegman en later vloerbestuurder geword by ’n klub waarvan hy lid was. In die vroeë 2000’s het hy sy eerste kroeg, Kanna’s Pub, in Noordhoek, Bloemfontein, oopgemaak. Hy het sowat vyf jaar later na die huidige kroeg geskuif. Nou trakteer Van der Westhuizen, met die swart strepe in sy silwer haredos, klante reeds sowat agt jaar hier.

“Ja jis, dis lekker. Jy leer mense ken, vernaam hier; elke dag kom hier nuwe mense met die hoofpad in. Dis net lekker vir my om met mense te werk, maar ’n ou moet lekker wees – nie ’n bakleiery en daardie dinge nie,” sê Van der Westhuizen. Die gereelde gesigte by sy plek is soos familie.

Twee vroue werk saam met hom agter die kroeg. Bedags gaan hy vir ’n ruk huis toe, kom weer teen 17:00 in en bly dan totdat die deure gewoonlik teen 20:00 toemaak.

Jagtrofeë in Old Uncle Charly’s Pub. Foto: Marita Herselman
Tjeers, op 80! Nick van der Westhuizen en Kleintjie Fourie, wat agter die toonbank werk, klink glase op sy verjaardag. Foto: Marita Herselman

Sy vrou van ongeveer 30 jaar, Francina, help hom ook met van die kroeg se sake.

Die Here is goed vir hom, sê hy. Op 80 is hy nie sieklik nie. “Ek moet pille drink om sleg te voel.”

Op die groot dag Vrydag sal versnaperinge bedien word, maar Saterdag is die eintlike partytjie waar ’n vlakvark en skaap op die spit gebraai gaan word. Hy sien daar word pap en sous vir die geleentheid voorberei. Besoekers aan die kroeg sal deel van die partytjie wees.

Een keer ’n maand maak hy ook potjie, waarvan almal wat ’n dop kom drink, gratis saameet.

Sý gunsteling-drankie is whiskey met Sprite Zero, maar Black Label is die gewildste onder sy klante.

Dit is nie altyd ’n maklike bedryf nie, en soms wonder hy of hy die huur sal kan betaal. Jy moet baie drank verkoop om die huur te betaal, sê hy.

Hy ken die “lekker en die swaar van die lewe”. Twee van sy seuns is reeds oorlede, met sy ander twee seuns, Jacques en Johan, wat in Bloemfontein woon. Sy kinders is almal uit sy eerste huwelik.

Maar hoe voel dit om dié ouderdom te haal?

“Ek voel maar net soos ek altyd voel. Ek dans nog hier saam met hulle, alles. As ek te grys word, sit ek streaks in my hare.”

Die Old Uncle Charly’s Pub in Bloemfontein. Foto: Marita Herselman
Die naambord van Old Uncle Charly’s Pub in Bloemfontein. Foto: Marita Herselman

Meer oor:  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.