Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
KYK: Van kinderhuis tot kampioen op stoeimat

Tanki Tau (22) se deursettingsvermoë, asook die liefde en toewyding van sy stoei-afrigter het van ’n kinderhuisseuntjie ’n Suid-Afrikaanse stoeikampioen gemaak.

Tau is Noordwes se eerste senior Proteastoeier in 16 jaar. Hy is ook die eerste stoeier in dié provinsie wat ’n dubbele nasionale stoeikampioen kon word. Tau het by die Suid-Afrikaanse stoeikampioenskap einde Junie die tweede jaar agtereenvolgens goue medaljes in onderskeidelik die Vrystyl en Grieks Romeinse-styl-kategorieë verower.

Tanki Tau (22) en Jannie Taljard, sy mentor en stoei-afrigter, in die Klerksdorp-stoeiklub. Die twee goue medaljes wat Tau by die onlangse Suid-Afrikaanse stoeikampioenskap verower het, hang om sy nek. Foto: Susan Cilliers

Hy is in Maart vanjaar in Tunisië as die vyfde beste stoeier in Afrika aangewys.

Tau was tien toe albei sy ouers aan natuurlike oorsake dood is en hy na die Rethabile-kinderhuis in Klerksdorp is. Sy liefde vir stoei het twee jaar later, in 2008, by die Klerksdorp-stoeiklub begin.

“Dirkie, my maat by die kinderhuis, het gevra waarvan ek hou. Ek wou nog altyd boks, het ek geantwoord. Dirkie het gesê hier is ’n plek naby waar die kinders stoei. ‘Regtig?’ het ek gevra.”

Tau het twee dae later vir sy eerste stoeiles gegaan. Daar het die 12-jarige seun se pad met Jannie Taljard (68) s’n gekruis. Taljard het in die laat 1960’s vir Suid-Afrika in die VSA gestoei en later begin afrig. Die afgetrede mynbou-ingenieur is al byna 30 jaar by die Klerksdorp-stoeiklub betrokke en leer kinderhuiskinders al 20 jaar stoei.

Tanki Tau (22) in die Klerksdorp-stoeiklub, waar hy leer droom het.Foto: Susan Cilliers

Die Klerksdorpklub waarvan Taljard nou voorsitter is, het vele SA kampioene uit die kinderhuis opgelewer, waarvan vyf internasionaal deelgeneem het. Taljard is ook president van Noordwes se stoei-vereniging en erepresident van die Suid-Afrikaanse Stoeifederasie.

“Tanki was nooit op die voorgrond toe hy in 2008 by ons begin stoei het nie,” sê Taljard. “Ek het mettertyd gesien dié outjie het potensiaal. Hy het hard geoefen, sy hele hart was daarin. Ek het hom grepe geleer en emosioneel bemoedig. Hy het ’n harde pad geloop, maar sy wilskrag het hom tot sukses gedryf. Hy het in 2013 sy eerste SA medaljes begin inryg. Tanki het gesien iemand glo in hom. Hy is soos ’n seun vir my, my champ.”

Vir Tau het stoei ’n anker geword.

Tanki Tau (22), met die twee goue medaljes om sy nek wat hy onlangs by die Suid-Afrikaanse stoeikampioenskap verower het, by sy foto (regs) wat in die Klerksdorp-stoeiklub pryk.Foto: Susan Cilliers

“Wanneer ek stoei, wil ek niks baklei nie. Ek wil net op die mat wees, dan vergeet ek van my probleme. Oom Jannie is nes ’n pappa vir my. Hy was nog altyd daar vir my.”

Tau het in 2014 ’n smousbesigheid in Klerksdorp se middestad begin nadat hy skool sonder ’n matrieksertifikaat verlaat het. Hy het onder meer lyfgordels en pette verkoop. Tau het egter steeds gestoei. Taljard het hom dikwels gehelp om sy goedere heen en weer te vervoer en het vir Tau blyplek by die stoeiklub gereël.

Tau het die smousbesigheid vroeër vanjaar gelos nadat hy besteel is. Taljard het hom daarna gehelp om ’n vaste werk by ’n plaaslike wegneemrestaurant te kry.

“Ek probeer die kinders ophef en hulle ’n plekkie in die son gee,” sê Taljard wat die bynaam Miyagi onder die stoeikinders het – Mr. Miyagi was die karakter wat die seun in die rolprent The Karate Kid leer veg het. “Dis stukkende kinders, jou hart sal breek as jy hul stories hoor.”

Klerksdorp se Mr. Miyagi gee dié kinders vlerke en laat hulle droom. Tau se volgende droom is om aan die Olimpiese Spele en die Wêreldstoeikampioenskap deel te neem.

Taljard, die Klerksdorp-stoeiklub en ander borge dra al die kinderhuiskinders se stoeikoste. “Dit het ons byvoorbeeld R33 000 gekos om Tanki vroeër vanjaar na Tunisië te stuur. Hy is ook gekies om vandeesmaand in Spanje te gaan stoei, maar ons kon nie genoeg geld daarvoor insamel nie.”

Tanki Tau (22) in aksie.
Meer oor:  Noordwes  |  Kinderhuis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.