Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
KYK: Vernon al meer as 67 dae in wynvat op 26 m hoë paal

Drie dae nadat Vernon Kruger (52) sy eie Guinness-wêreldrekord verbeter het deur vir langer as 67 dae in ’n wynvat op ’n paal te woon, raak sy voete steeds nie aan Moeder Aarde nie.

Hy het in 1997 sy eerste rekord op 29-jarige ouderdom opgestel toe hy 67 dae en 14 minute lank in ’n 500-liter-wynvat op ’n 21 m hoë paal deurgebring het.

Kruger, ’n kommersiële duiker van Plettenbergbaai, het Maandag omstreeks 11:30 reeds dié rekord in Dullstroom, Mpumanlanga, verbeter. Tog bevind hy homself teen Donderdag – drie dae later – vir die 70ste dag in die vaatjie.

Dié keer is die paal 5 m langer as 22 jaar gelede, maar die wynvat is dieselfde grootte.

Vernon Kruger (52) het sy eie Guinness-wêreldrekord in Dullstroom in Mpumalanga verbeter deur langer as 67 dae in ’n wynvat op ’n paal deur te bring. Foto: Henry O Photography

Kruger is op 14 November per helikopter opgeneem na die eikehoutwynvat wat op ’n 26 m hoë paal gemonteer is. Die bloekomhoutpaal is sowat 3 m diep in die grond geplant en word met drie kabels gestut.

“Die wynvat is klein. Ek sukkel om te slaap en kan skaars opkrul om in ’n fetusposisie te lê – dit is maar baie moeilik,” sê Kruger.

“As ek regop staan, steek die helfte van my lyf uit.”

Daar is darem ’n klein kussing in die vat om die ongemaklikheid effens draagliker in te maak.

Wanneer kom hy af?

Hy het nog nie besluit wanneer hy uit die vaatjie wil klim nie, maar om dit te doen sal ’n helikopter weer ingespan moet word. Maar hy weet reeds wat hy gaan doen as sy voete weer grond raak.

“Ek gaan in sirkels rondhardloop om te kyk of ek nog kan,” sê hy.

“Maar ek dink die aand gaan die beste wees, want ek gaan ’n warm bad vat en in ’n bed slaap. Dit gaan wonderlik wees om te kan uitstrek vir die eerste keer (in ’n lang tyd).”

Kruger mis sy kinders William (8) en Umber (6) die meeste. Dan ook die luukshede van ’n bed, ’n bad en om te kan swem.

Hoekom op aarde?

Kruger het besluit om hierdie uitdaging weer aan te pak om ’n verskil te maak in die lewe van Suid-Afrika se kwesbare kinders. Benewens die feit dat hy sy eie rekord wou verbeter, samel hy geld in vir die Belfast-kinderhuis en Epilepsie Suid-Afrika (Mpumalanga en Limpopo).

Kruger sê hy kon hom nie vir die uitdaging voorberei nie omdat hy te besig was met die beplanning. Hy is net met sy selfoon en die klere aan sy lyf die wynvat binne.

“Toe ek hier bo kom, het ek net die beste daarvan gemaak en dit dag vir dag gevat. Die vorige keer was dit meer ’n fisieke uitdaging, terwyl dit dié keer meer geestelik is,” sê hy.

“Ek moet probeer positief bly en nie aan die negatiewe dink nie. Dit het my geduld geleer.”

Kruger het ’n emmer met ’n tou waarmee hy al sy benodigdhede – beddegoed, water, klere en kos – kan optrek. Enigiemand kan iets in die emmer vir hom sit en moet dan drie keer teen die pal kap – dit is die kode. Hy is dus heeltemal afhanklik van die mense op die grond wat na hom kyk. Hulle is die heeltyd daar tot sy beskikking.

“Ek het ’n tweerigtingradio wat ek gebruik om met die span onder te gesels,” sê Kruger.

Een van die vreemdste items wat hy al in die emmer gekry het, is ’n baksteen. Hy het darem ook lekker goed soos biltong gekry.

“Ek weet nooit wat hier gaan aankom nie, so dit hou dit ’n bietjie interessant.”

Alle afval en vuil water gaan met ’n pyp langs die paal af tot in ’n ondergrondse tenk.

Vernon Kruger (52) kyk ondertoe vanuit die 500-liter-wynvat. Foto: Henry O Photography

Wat maak hy met homself?

Kruger sê hy is nie so geïsoleerd soos party mense dink nie.

“Dit is nie so stil soos dit 22 jaar gelede was nie. Dit is nogal bedrywig, want ek is op sosiale media en daar is hommeltuie wat vlieg en foto’s neem,” sê hy.

“Ek kommunikeer baie met mense op die selfoon en antwoord vrae op Facebook.”

Baie mense sal ook met hom oor die tweerigtingradio gesels.

Dikwels vang hy homself dat hy die dorp “dophou”.

“Ek het ’n baie mooi uitsig en die weer verander baie,” sê Kruger.

Elke oggend om 08:00 het Kruger ’n halfuur lange oefensessie om sy spiere aan die gang te hou.

Iemand staan op die grond en wys vir hom wat hy moet doen. Hy draf onder meer op een plek en doen strekoefeninge.

“Dit help baie, want ek voel nog goed. Die vorige keer was ek swak in my bene toe ek afgeklim het,” sê Kruger.

Hy beoefen ’n stokperdjie deur koffiebekers uit bamboes te maak en hy het ’n vlieër wat hy vlieg.

Kruger kon ook darem vleis braai en potjiekos maak danksy iemand wat vir hom ’n braaiplek gebou het wat aan die kant van die vaatjie haak.

“Gewoonlik as ek braai, braai die gemeenskap saam met my onder die paal om my te ondersteun.”

Hy beplan ook om in ’n stadium die wynvat vol water te maak en daarin te swem. Dalk op sy laaste dag in die vat.

“Ek raak ’n bietjie verveeld en ’n bietjie gefrustreerd op die oomblik, seker omdat ek weet die einde is naby,” sê Kruger.

‘Die liggaam pas aan’

Kruger is deur die paramedici ondersoek voordat hy boontoe is en hulle is heeltyd op bystand.

“Ek was drie weke gelede so twee dae lank baie siek. Ek het koors gehad en dit was moeilik,” sê Kruger.

“Ek was naar en net lus vir niks, maar ek het antibiotika gekry en daarna was ek weer reg.”

Sy grootste vrees was dat hy tandpyn sou ontwikkel.

Hy sê die eerste week was die ergste omdat hy in die klein ruimte moes aanpas.

“Ek is nie ’n persoon wat kan stilsit nie, maar die liggaam pas aan,” sê hy.

Soggens is hy vroeg uit die vere en die meeste aande kry hy net sowat drie uur slaap in.

En dan was daar die weerlig.

“Ons het baie groot donderweer gehad en dae waar dit aanhoudend gereën het. Daar was baie weerlig baie naby, maar ek is darem nog nie getref nie.”

Wanneer dit reën, het hy ’n spesiale dakkie wat hy op die vaatjie kan sit. Wanneer die son te warm raak, skuil hy onder ’n sambreel.

Boonop is hy ook naby aan die hoofpad geleë, so wanneer vragmotors verbyry, skud die hele paal.

Wanneer alles verby is

Sodra Kruger uit die wynvat klim, sal alle nodige dokumente en bewyse aan Guinness gestuur word vir goedkeuring.

Hou sy vordering dop op die Facebook-blad “Up the pole in Dullstroom”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.