SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Leef
KYK: Versorgers, inwoners van tehuis se gedans verbly harte

’n Video van inwoners en personeel van ’n tehuis vir bejaardes in Olifantshoek in die Noord-Kaap wat vrolik dans, verbly nie net harte nie, maar is al honderde kere op Facebook gedeel.

Anita du Toit, wie se suster Nella serebraal verlam is en al jare lank in die Berg-en-Rus-tehuis bly, het die video gedeel waarop vrolike personeel Saterdagmiddag saam met van die inwoners dans.

Al is dit net ’n skuifelstappie na links of regs, hoor ’n mens hoe hulle aangemoedig word met ’n “lig die bene ’n bietjie” of “daar gaan Tannie”.

Du Toit sê ’n mens sien altyd net die negatiewe dinge op sosiale media.

“Hier is iets positiefs – Saterdagmiddae by die Berg-en-Rus-Tehuis in Olifantshoek. Die personeel het harte van goud en ek praat uit ondervinding, want ons Nella is al ’n klompie jare daar!”

Du Toit sê haar ma, Wilna Groenewald, het die video gemaak en vir haar gestuur, waarna sy besluit het om dit op Facebook te deel.

“Ek het gedink ek moet die video deel omdat ’n mens altyd net die video’s sien waarin mense verniel word, terwyl daar soveel goeie versorgers ook is,” sê Du Toit.

Op haar beurt sê Isabel Smit, bestuurder van die tehuis, Saterdagmiddae luister hulle die program Vastrap op RSG. Op ’n Saterdag is die personeel nie so besig met hul dagtake nie, so daar is besluit om ’n slag lekker te dans.

Twee weke gelede met die Springbokke se sege was daar ook groot jolyt in die tehuis. Almal het bymekaargekom. Die inwoners wat bedlêend is se radio’s is aangesit en versorgers het by elkeen gesit en seker gemaak dat hulle nie afgeskeep word nie. Almal was deel van die opwinding.

“Ons doelwit is ’n positiewe gesindheid. Nie almal het die geduld om iemand drie maal ’n dag te voer nie. Dit moet lekker wees vir versorgers om werk toe te kom,” sê Smit.

Sy sê net Dinsdagoggend het een van die personeellede gesê sy kom met ’n lied in die hart werk toe.

Meer oor:  Noord-Kaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.