Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
KYK: Vrou van Ceres verwag 2de tweeling

’n Gesin van Ceres is verheug dat hulle vir die tweede keer ’n tweeling verwag.

Simonetta Lima (37) en haar man, Franco (47), het Dinsdag uitgevind hulle verwag weer ’n tweeling.

Lima is nege weke swanger.

Die egpaar, wat albei ondernemings op die dorp besit, het reeds negejarige tweelingdogters, Olivia en Allegra.

Hulle het ook ’n ouer dogter, Lillian (11).

Pa Franco Lima, ousus Lillian, die tweeling, Olivia en Allegra, en ma, Simonetta.

Lima sê dié keer gaan hulle eers die tweeling se geslag by geboorte uitvind.

“Ons wil baie graag seuntjies hê om ons van voort te dra. Maar as dit dogtertjies is, sal dit makliker wees omdat ons weet wat om te verwag.”

Daar is tweelinge in albei ouers se families.

Lima sê hulle is geskok oor die vooruitsig van nog ’n tweeling, maar nie teleurgesteld nie.

“Dit is wonderlik. Ons het altyd gesê as ons weer ’n baba sou hê, moet dit twee wees. Ek kan nie dink dat ’n kind alleen moet grootword nie.”

Sy sê die swangerskap is net so moeilik soos die vorige een. Sy is die heeltyd naar en slaap ook meer.

“Ek onthou met die vorige swangerskap het my man gesê dis definitief ’n laaitie, want ek is baie moeilik. Dit was voordat ons geweet het dis ’n tweeling.”

Lima sê destyds was dit moeilik omdat Lillian ook nog bottel gedrink en op die doeke was.

Op die vraag oor hoe hulle die tweeling en hul drie oudstes gaan hanteer, antwoord sy laggend: “Ek weet nie!”

Met die vorige swangerskappe het hulle baie ondersteuning gehad.

“My ouers en my skoonouers woon naby. Almal het uitgehelp.”

Die Lima-gesin met vakansie.

Sy sê haar man is baie opgewonde oor die babas se koms.

“Hy het dadelik vir die dokter gesê dit kan nie waar wees nie. Hy het ook gesê hy voel ’n bietjie naar. Maar hy is baie opgewonde,” sê sy.

Lima het haar ma, Annemari Pileggi (59), op video van die swangerskap vertel. Sy het vir haar ’n sonarfoto gewys en dit eers laat blyk dat daar net een baba is.

Sy het agterna gebieg haar ma was effens teleurgesteld omdat daar net een baba was.

“Nee, hier, dit is een bo,” sê Lima eers op die video en gee voor dat dit net een baba is.

Dan gaan sy voort en sê: “ . . .en een onder . . . en die twee saam.”

Wanneer Pileggi besef dit is ’n tweeling, is sy duidelik oorval deur emosie. Sy moes selfs in ’n stadium gaan sit.

Hul drie dogters kan nie meer wag om die babas se geslag uit te vind nie.

“Hulle moet maar net leer om geduld te hê,” sê Lima.

Sy sê die dogters hoop dit is seuntjies.

“Hulle is mal oor hul jonger nefies en hulle hoop vir ’n boetie of twee.”

Sy sê die drie gaan beslis popspeel en haar help om doeke om te ruil.

Meer oor:  Franco Lima  |  Simonetta Lima  |  Ceres  |  Viral Video  |  Tweeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.