Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Kykers se keuses ál groter

Ál meer stromingsdienste is deesdae beskikbaar. Leon van Nierop vertel van dié waarop hy sy gunstelingflieks en -reekse kyk.

Die verskeidenheid van stromingskanale wat in Suid-Afrika beskikbaar is, word al hoe groter. foto: Getty Images

Rolprente voer ’n verbete stryd teen die kassie, veral teen die groeiende groep stromingskanale wat een ná die ander op die toneel verskyn en stoei vir ’n plekkie op jou skerm.

Die meeste van hierdie kanale het ’n aanloklike, gratis toetsperiode voordat jy moet begin betaal.

Daar is soveel keuses en soveel moontlikhede dat dit jou kan oorweldig. Maar dit kan jou natuurlik ’n aardige bedraggie uit die sak jaag, afhangende van watter kanale of pakkette jy kies.

Die 1950’s se foefies

Interessant dat rolprente hulle op dieselfde moeilike plek bevind as in die 1950’s, toe televisie as ’n feitlik onoorkombare bedreiging bestempel is.

Toe dink Hollywood die wyedoek-Cinemascope uit. Cinerama, waarin drie projektors en drie rolprentskerms gebruik is om ’n groter ervaring te skep, was veral in die 1950’s gewild. Dit het herinner aan vandag se Imax.

Ander foefies was Smell-O-Rama, waar ’n mens die rolprent kon ruik, The Tingler, waar ’n elektriese lading ligweg deur die stoel gestuur is wanneer ’n rolprent spannend raak, en Sensurround, wat in die 1970’s uitgedink is en waarin die hele teater geskud het. Alles is uit die hoed gepluk om mense van die kassie weg te lok.

Teaters al hoe groter en beter

In Suid-Afrika bied viermuur-rolprentteaters deesdae opwindende nuwighede aan om fliekgangers in hul stoele te hou. In Nu Metro se 4DX-teaters beweeg die stoele saam met die aksie. Hul Xtreme-teaters het ongelooflike Dolby Atmos-klank en reuseskerms. Daar’s VIP-teaters, waar mense spesiale disse kan bestel en eet terwyl hulle fliek in ultra-gemaklike leerstoele wat amper soos ’n bed of diep leunstoel kan terugsak.

Ster-Kinekor het reuse-Imax-teaters na die land gebring met ’n rolprentdoek wat tot vyf verdiepings hoog kan wees, en fliekteaters wat spesiaal vir kinders ingerig is, kompleet met ’n glybaan in die teater langs die veelkleurige stoele.

Hulle het ook die luukse en intieme Cine Prestige-teaters met diep leunstoele wat apart van mekaar staan, en spesiale kos wat in die voorportaal gemaak word. In hul D-Box-teaters beweeg die stoele ook.

Tog sien hulle nie werklik die stromingsdienste as kompetisie nie, maar as ’n parallelle bedryf, sê Walter Gelderblom, bemarkingsbestuurder van Nu Metro. “Navorsing wys dat fliekvlooie wat Netflix kyk, steeds gereelde fliekgangers in die teaters is.”

So, wat is jou keuses?

As jy wil stroom na jou skerm (nie eens almal gebruik meer ’n ware televisie nie), is daar ’n magdom keuses. Jy benodig natuurlik behoorlike internettoegang, sodat jy die inhoud blitsig kan aflaai. Anders hang jou reeks of fliek gedurig. Showmax sê jy moet minstens ’n lyn met ’n minimum spoed van 2 megagrepe per sekonde (2 Mbps) hê, maar hulle beveel eintlik een met onbeperkte data en ’n spoed van 4 Mbps aan. ’n Lyn van 10 Mbps sal jou toelaat om beelde in hoë definisie te sien.

Foto:

1.Netflix staan voor in die tou.

Ozark, You (tans reeks 2) en die veelbesproke Sex Education en The Messiah, wat almal aan die praat het, is maar enkeles van die duisende reekse wat net op hierdie platform aangebied word.

Teen R99 per maand (dit hang af wanneer jy by die kanaal aangesluit het), het jy feitlik ’n onbeperkte keuse van veral internasionale vermaak. Vir ’n bietjie meer, tussen R139 en R169, kan jy op meer as een toestel kan kyk en ook hoëdefinisie-beeld sien.

Foto:

2.Disney+ is vlieg in Netflix se salf.

Die opkoms van Disney+ gaan Netflix verarm.

Disney is besig om al hul produkte van Netflix te onttrek, wat beteken die nuwe Disney-kanaal plaas nou alle Pixar-, Marvel- en Disney-rolprente en strokies daarop. Dit kos R96 per maand. Onthou, dis ook enigiets wat met die Star Wars-franchise te doen het.

Foto:

3.Showmax is eg Suid-Afrikaans.

Dis ons gewildste plaaslike stromingskanaal en kos R99 per maand.

Dan kan jy gelyktydig op twee verskillende toestelle (soos ’n tablet en televisie) kyk.

(DStv Premium-intekenare - wat R809 per maand betaal - kry dit gratis en DStv Compact en Compact Plus-intekenare betaal R49).

Showmax kos R49 as jy net op jou selfoon of tablet kyk. Showmax bied heelwat internasionale rolprente en reekse, maar die beste verkoopspunt is al die plaaslike reekse en rolprente wat jy daarop kan kyk. Dit wys baie van kykNET se reekse, soos Fynskrif en Die Byl, nadat dit op die kanaal gewys het – en jy kan selfs goue oues, soos Song vir Katryn, hier vind. Kyk uit vir die fliek Stropers.

Jy kan Showmax op die meeste televisies, selfone, tablette of rekenaars kyk.

Foto:

4.Apple TV+ is nuut.

Vir my begin hierdie diens alle verwagtings oortref. Dit is wonderlik dat al die inhoud eksklusief is en die treffer The Morning Show het by die pas afgelope Golden Globes geskitter.

Hul grootste demper is egter ook dat ál hul inhoud eksklusief en dus beperk is.

Maar Apple het reeds aangedui dat hy sowat R90 miljard begroot het vir inhoud, so die kwantiteit sal waarskynlik ook vinnig groei. Jy’t net die Apple TV-app nodig. Dis beskikbaar op al Apple se toestelle.

Teoreties moet jy dit ook op Android-toestelle kan kyk, maar ek het dit nie getoets nie. Ons kyk dit deur die Apple TV-toestel, wat ek verlede jaar vir R3 500 gekoop het. Jy kan die eerste twee episodes van ’n reeks gratis kyk, maar daarna betaal jy R48 per episode. Dis egter ’n beter idee om vir R84,99 per maand in te teken.

Foto:

5.Koop soos jy kyk op iTunes TV, asook iTunes Films.

Op hierdie platforms kan jy rolprente koop of huur. Jy’t ’n iTunes-rekening op een van jou toestelle nodig en kan dan inkopies doen soos dit jou pas. ’n Rolprent kos gewoonlik so R250 of meer, terwyl jy dieselfde flieks teen ongeveer R96 per rolprent kan huur, afhangende van die soort rolprent. TV-reekse kos sowat R32 per episode, of ’n lompsom as jy die hele reeks koop.

Foto:

6.Betaal net een keer vir OpenView.

’n OpenView-dekodeerder kos jou ’n eenmalige R499. Daarna betaal jy nie weer nie. Dit gee jou onder meer toegang tot e.tv se kanale, waaronder die Afrikaanse kanaal e-extra, waarop ook oorgeklankte telenovellas gewys word.

Jy kan ook na rolprente, nuus en sport op die ander e.tv-kanale kyk en wêreldnuus volg op BBC World News.

Foto:

7.Amazon Prime Video bied jou die nuutste Star Trek.

Amazon Prime Video is miskien nog nie so bekend nie, maar as jy nou spring, kan jy vir ses maande inteken vir net R44.

Reekse soos Man in the High Castle word hierop gewys, asook Grand Tour – die opvolg van Top Gear – en Tumble Leaf.

Die nuutste Star Trek-reeks, Picard, het ook pas daarop begin wys. Ná die ses maande gaan dit jou R96 per maand kos.

Jy kyk dit deur Amazon Prime se app op jou foon of ander toestel af te laai.

Meer oor:  Stromingsdienste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.