Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Laerskool samel skenkings in ná leerling se huis afbrand

Nadat ’n laerskoolleerling se gesin alles in ’n brand verloor het, het sy skool in Bellville, Kaapstad, Vrydag Bok-dag gehou om skenkings vir die gesin in te samel.

Johann Mostert, hoof van die Laerskool Bellville-Noord, sê ’n gr. 1-leerling se ouerhuis het sowat twee weke gelede ná vermoedelik ’n kortsluiting afgebrand.

Die gesin het hul huis en besittings in die brand verloor.

’n Foto wat vroeër op ’n “Bok-dag” van leerlinge van die Laerskool Bellville-Noord geneem is. Foto: Verskaf

“Ons leuse is ‘Die omgee-skool met die plattelandse hart’. Daarom wou ons help. Die seuntjie is pragtig, maar ons wou nie net help omdat hy by ons skoolgaan nie, maar ook omdat sy ouers nederige mense is wat baie betrokke by die skool is.”

Hy sê die onderwysers het koppe bymekaar gesit nadat hulle van die brand te hore gekom het.

Elizma Williams, die leerling se klasonderwyseres, het die insameling gekoördineer en die skenkings ontvang. Sy het alle verseëlde koeverte met kontant en briefies van leerlinge toe aan die gesin oorhandig.

Van die skenkings wat die Laerskool Bellville-Noord vir een van hul gr. 1-leerlinge ingesamel het.Foto: Verskaf

Leerlinge kon Vrydag net soos in die verlede Springbok-rugbyklere of groen klere aantrek.

Hierdie keer het die skool besluit om dit “BokVrydag-vir-Gabriel” te noem.

Die geld wat leerlinge betaal het om gewone klere aan trek, word ook aan die gesin geskenk.

“Ander skole praat van ‘sivvies’, maar ons wou weer met die Bokke assosieer en skenkings vir die gesin insamel,” sê Mostert.

Die skool het gevra vir skenkings van onder meer geld, kos en klere. Bok-dag was baie suksesvol en die skenkings stroom steeds in, sê Mostert.

Die leerling se ouers het die skoolgemeenskap in ’n boodskap bedank.

“Ek kan nie genoeg dankie sê vir wat julle ouers vir ons gesin gedoen het nie. Dit is merkwaardig dat daar so baie mense is wat omgee,” lui ’n deel van die boodskap.

“Ek sal dit nooit vergeet wat julle almal gedoen het nie. Mag die Here julle almal seën. Deur julle kan ons nog opstaan en weet dat alles oukei is. Werklik dankie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.