Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Laingsburg: 25 Januarie bly ’n gestoei met emosies
Hierdie foto is geneem suid van die treinspoorbrug en toon hoe die dorp binne ’n natuurlike kom lê. Die water het nóg hoër geraak en toe die brug kort na 17:00 meegee, is die meeste van die oorstroomde huise in ’n suig-aksie meegesleur. Foto: Klasie Steenkamp-versameling

As Laingsburgers vroeg op 25 Januarie 1981 kon weet ’n woedende waterdraak was op pad om 70% van hul dorp te verrinneweer, sou minder mense tyd vermors het om ornamentjies op hoër rakke te pak of groentetuine te red.

Want toe watergolwe teen 14:00 so hoog soos huisdakke op Laingsburg afkom, was dit vlug vir lewe of dood. Watermassas teen 21,6 km/h met boomstompe, meubels en diere daarin het selfs in die middedorp 5 m hoog gewoed en huise en mense meegesleur. Brugrelings wat N1-verkeer dra, is verwoes.

Op ’n Sondagmiddag in die andersins droë Karoo.

Adrenalien het mense op dakke laat klouter waar hulle nie weer kon afklim nie; ’n intense oorlewingsdrang het sintuie maksimaal ingespan. Daarom onthou oorlewendes steeds fyn stukkies detail asof dit gister gebeur het; kom lê die groot bewe telkens in jou lyf wanneer vloedsake bespreek word. Om in daardie vloedwater te beland en te oorleef, was grootliks geluk en genade – so vertel almal wat dit beleef het.

Minstens 104 mense dood; 46 liggame nooit gevind nie. Talle gesinne vir altyd verbrokkel. Heeltemal te veel mense se gemoedsrus gesteel. Jaarliks rondom 25 Januarie ’n gestoei met die emosies. Al is dit 40 jaar later.

’n Mens sou hoop die gebrekkige berading ná die vloed en langdurige trauma as resultaat daarvan sou sorg dat toekomstige rampe met voldoende berading opgevolg word. Laat ons daardie belangrike les nooit vergeet nie.

Steeds sien slegs enkele persone kans om oor die vloed te gesels.

‘Daar het die rivier “see gemaak" '

Flip van der Westhuizen

Flip van der Westhuizen, in 1981 ’n 31-jarige spoorwegwerker, moes op die vloeddag aankomende treine uit die dorp wegkeer. Dit het hom ’n onverwagte vloedfliek vanaf die treinbrug laat beleef.

“Kyk ’n mens van die treinbrug af oor die dorp sien jy duidelik Laingsburg is binne-in die rivier se pad gebou.

“Daai middag sien ek hoe die treinbrug die watervloed vaskeer, soos ’n damwal. Plus twee ander riviere wat daar naby die treinbrug saamsmelt met die Buffelsrivier – daar het die rivier see gemaak, vloedwater 400 m weerskante van die rivierwalle laat hardloop.

“Rondom 17:10, met riviervlakke op sy hoogste, toe maak die rivier boeppens – so erg dat ek sommer self wou vlug.”

Die geweldige drukking van 8 000 ton per sekonde teen die treinbrug het opvulwalle weerskante van die brug weggespoel – ’n redding vir Laingsburgers in die boonste deel van die dorp. Maar ongelukkig ook die finale breekspul vir vasgekeerdes op dakke suid van die hoofstraat, toe ’n meedoënlose suigaksie ontstaan en talle huise meegesleur is.

“Toe daai brug breek, kom hang ’n swart wolk bo-oor Laingsburg. En skielik is àlles hieronder leeg. Weggeveeg. Nie die beste swemmer sou dit oorleef nie.

“Ek hoor eers later my broer se 12-jarige seun, Bernie Williams, is ook van die treinbrug af weggespoel.”

Daardie aand moes Flip oudergewoonte sy vrou wat by die hotel werk, gaan haal.

“Dit was donkermaan, jy raak vir jou eie hande bang! Snags slaap ek sleg, ek onthou pal hoe ’n vrou en kort daarna ’n reuseteddie op ’n matras by dieselfde huis uitgly; en die magteloosheid, geen mens kan gaan help nie. Dan raak ek wakker met ’n gril – ek kan die vloed nooit vergeet nie.”

Selfs twee weke gelede, toe Laingsburg reddingsreën na vreeslike droogtes kry, kon Flip niks daarvan geniet nie. “Nee. As jy die vloed gesien het soos ek daai middag . . .”

Flip was 33 jaar lank Spoorwegman en bewerk deesdae die Vloedmuseum se gemeenskapstuin.

“Dié plek om vars groente te kom koop,” belowe hierdie veelsydige sportman – marathondrawwer, tennisspeler en losskakel tot op 46 jaar. (“Ek wou tot op 60 gespeel het!”)

Flip is nou 71 jaar oud.

‘Ek vervang kwelvrae met dankbaarheid’

Rita en Dennis Vermeulen het langs die rivier in Krigestraat gewoon. Hulle kon net hul tweejarige seun Niel red voordat die water hul huis en motor wegvee.

“Ek was kwáád vir die Here,” vertel sy. “Elke keer as ek wou tee drink en ek onthou my mooi teekoppies raak ek kwaad! Ons moes tydelik in ’n spoorweghuis ver buite die dorp gaan woon. Dan bejammer ek myself heeldag omdat Dennis baie hard werk om telefoonverbindings te herstel en ek alleen sit in ’n tyd voor selfone.

“My pa het altyd so mooi met my gepraat oor my woede, gesê ek is nog jonk, met harde werk kan ons weer van voor af alles opbou. Ek wou nie luister nie.

“Totdat ek drie maande later by Ina Goodman inloer. Haar man is van die N1-brug weggespoel, sy liggaam onopgespoor. Ina was altyd die deftige een onder ons. In ons oë het sy alles aan aardse goed gehad, goeie goed.

“Toe ek by Ina en haar drie kinders instap, was haar eerste woorde: ‘Rita, ek soek nog altyd na Alfred.’

“Om te dink – Ina soek nie na mooi aardse goed nie. Dit wat vir haar dié belangrikste was, kon sy nie vervang nie.

“My woede het stadigaan verminder. Ek en Ina het groot vriende geraak, ek het haar leer motor bestuur.”

Rita en Dennis het later na Knysna verhuis waar hulle ’n groot ou huis gerestoureer het.

Toe brand Knysna in 2017.

“Ons buurhuis het verbrand, ons huis veilig. Onverstaanbaar, daardie vlammepad.

“Matrasse het nog gesmeul toe ek ná ’n Pretoria-kuier hier aanland. My seuns is bly dat ek nie hier was nie: ‘Ons sou met Ma gesukkel het,’ ” sê hulle vandag nog.

Deesdae maak Rita gratis gesigmaskers om die pandemie te help hokslaan.

“Hoekom gebeur alles dan met jou?” vra mense soms vir haar. Maar op 67 kyk sy en Dennis (69) anders na dinge. “Ek vra nie meer vrae vra nie, ek vervang kwelvrae met dankbaarheid vir alles wat ek wel het!”

‘Ek onthou alles steeds helder’

Wouter Jordaan

Wouter Jordaan, toe ’n 25-jarige Spoorweg-amptenaar in Kaapstad, het die vloednaweek by sy ouers gekuier. Hy het as ’n guns iemand oor die N1-padbrug hospitaalkant toe van Laingsburg geneem. Met die terugry besef hy die water raak gevaarlik hoog.

“Ek hoor ’n helder boodskap in my agterkop dat ek my bakkie op die koppie Kaapse kant van Laingsburg moet parkeer, maar ek ignoreer dit – ons almal het mos geglo die water gaan nou-nou terugsak.

“Ek onthou alles steeds helder, gesprekke daar op die brug met manne wat kort daarna sou sterf: Gerrie van den Bergh en Alfred Goodman, die 42-jarige prokureur wat bloot deur Laingsburg moes ry.”

Wouter, nou 65, onthou die boomtak as reddingsboei in die water, drenkelinge saam met hom by spesifieke bakens, rolgeluide van reuseklippe onder die watermassa.

“Ek is ’n sterk swemmer, maar groot voorwerpe het dit onmoontlik gemaak om op te kom boontoe. Iewers kon ek my met twee, drie sterk skoppe bo die water uitskop.”

Met geen beheer oor hoe die watermassa hom vorentoe gooi nie, het hy Floriskraaldam (die groot opvangsdam 21 km suid van Laingsburg) bereik.

Het jou pa regtig vir die rektor van die Universiteit Stellenbosch in ’n brief vertel jy het die Buffelsriviermarathon gewen?

“Ek weet nie! Maar Andries van Wyk was voor my daar.” Wouter en Andries – albei Laingsburg-oudleerlinge, sopnat en gehawend – het saam met waterfiskaal Willem Beukes op sy bootjie vier drenkelinge van ’n gewisse dood gered. “Dit was donkermaan, sewe van ons in daardie viermanbootjie is in ’n stadium amper bo-oor die damwal van 21,96 m.”

Toe hulle nanag terugstap na Beukes se huis, besef almal die waterfiskaal se huis het weggespoel.

“Daar sit die klompie van ons, knaend onseker oor ons familielede, terwyl mev. Beukes uit haar karavaan vir ons koffie en haar dogtertjie se verjaardagkoek aanbied. Later ook brood, vleis en pampoen.”

Vroegoggend red hulle Reg Taylor uit die dam ná ’n alleennag op ’n selfgeprakseerde, wankelmoedige vlot tussen stampende opdrifsels en reënbuie.

Toe tien oorlewendes omstreeks 14:00 in die helikopter sit, roep iemand – daar’s ’n dooie gryskopman onder ’n bos. Wouter wou dadelik uitspring.

“Dis dalk my pa!”

Maar die vlieënier weier dat iemand uitklim en met ’n agterkop vol twyfel land Wouter en hierdie gehawende, emosioneel oorstelpte mense naby die Laingsburg-hospitaal, waar kameramanne op hulle wag.

“Ons familielede was almal veilig – al moes my pa broekloos uit die vloedwater beur, my ma, sus en jongste broer is ternouerdood uit ’n huis gered. Van ons woonhuis het slegs die fondasie oorgebly, my pa se bakkie opgefrommel in ’n boom.”

Wouter was vir 24 jaar ’n elektroniese tegnikus by Nasionale Pers en het vier jaar by Die Burger gewerk.

“So ’n katastrofe veroorsaak beslis ’n geestelike verdieping. Ek is steeds lief vir alle soorte watersport. Omdat mense my pal voorgekeer en uitgevra het oor my vloedondervindings, het ek vinnig ’n baard gegroei as kamoeflering!”

‘Genade dat ek bly leef het’

Twee gr. 11-seuns is ook deur vloedwater meegesleur ná reddingswerk by die ouetehuis. Bertus Conradie en Antonie Botes onthou hoe hulle gate in die plafon moes maak om bejaardes dak toe te help, die predikant se kalmerende gebed kort voordat die ouetehuis onder hulle wegbreek en die skokkende blitsrit rivieraf, die opgooi weens modderwater en skok, die onverwags kalmer water en die wete: “Ek is waaragtig in die Floriskraaldam. Sterk skemer, ’n see vol opdrifsels – hoe haal ’n mens ooit die wal?”

Antonie moes ’n reusegeelslang van kant maak uit vrees dat hy én die slang die nag op ’n klein eilandjie deurbring. Willem Beukes het laataand albei seuns opgelaai.

“Dis ’n genade dat ek destyds bly leef het, want in gr. 11 was die kanse damn groot dat ek warmplek toe sou gaan,” verklaar Antonie, nou 56 en ’n Merweville-boer.

“Hoe vars kom lê die herinneringe vandag weer in my – die beklemming klim elke keer vanself weer terug in my borskas.”

‘Genesing het stadig, tree vir tree gekom’

Klara Jacobs

Klara Jacobs het op 42 weduwee geraak nadat haar man, ds. Malan Jacobs, by die outehuis gaan help en saam met ander helpers meegesleur is. Haar man wat pas 50 geword het, wat jaarliks vir haar ’n nuwe voorsieningsplan opgestel het vir ingeval hy vroeg sterf, wat genoeg lewenspolisse uitgeneem het sodat sy en hul kinders nooit tekorte beleef nie.

“Ons het sy jongste brief (vol slik) in sy studeerkamer gevind, nogal met die vermaning, ‘Hou jou oog gevestig op Jesus’, daarby. Sy voorstel was dat ons Stellenbosch toe trek vir die kinders se universiteitstudies.”

Vir die eerste agt jaar sou Klara, nou 82 jaar, oënskynlik suksesvol funksioneer, maar depressie en foutiewe medikasie het haar energie getap. Eers nadat die medikasie reggestel is, kon sy weer lewensgehalte geniet.

“Ons gesin praat baie oor die vloed. Genesing het stadig, tree vir tree gekom, vir elkeen op ’n ander tydstip. Laingsburg se 30 jaar-vloedherdenking in 2011 het vir ons almal baie gehelp op pad na genesing.

“Ek kan regtig aanbeveel dat ’n mens moet aanhou soek na ’n goeie geestelike berader, totdat jy vrede vind,” sê sy.

“Ná 40 jaar ontstel die Januariedatums my nie meer nie. Maar: As dit nie was vir Sy genade nie, was ek vandag nie meer hier nie. In 1981 was ons ’n gesin van ses (ek plus vyf kinders), maar deesdae bid ek daagliks vir ’n volle 35 gesinslede – ’n vyfde agterkleinkind is laas week gebore.”

Blye weersiens. Die foto is op 26 Januarie 1981 geneem, die dag waarop Antonie Botes se pa, Hans Botha, kilometers ver teen die rivierwalle op en af gestap het op soek na sy seun. Pa en seun wat mekaar omhels nadat Antonie en nege ander per helikopter op Laingsburg geland het, is hier verewig. Dit het op die 28ste in ‘Die Burger’ verskyn.

*Bronne:

Ons het op die dakke gesit – skrywer G.F. Marais

Nog Laingsburgvloed – skrywer C.A. van Wyk

Vloedramp – skrywer W.O. Kühne

Die Laingsburg-vloedmuseum (waar tot 50 mense steeds die museum daagliks besoek) Tel: 023 551 1868.

Meer oor:  Laingsburg-Ramp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.