Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Leef groener in 2020

Vanjaar is die jaar wat jy klein veranderings kan maak om groener te leef. Karla Janse van Vuuren het toegewyde groenaktiviste gevra vir hul topwenke om groener leefstylkeuses te maak. 

Maak 2020 jou jaar van ’n groener leefstyl.

Basta met plastiek

  • As jy nog plastiekstrooitjies gebruik is dit eenvoudig, hou dadelik op. As jy regtig ’n strooitjie nodig het, belê in ’n herbruikbare een van glas, vlekvrye staal of bamboes, dié strooitjies is deesdae vrylik beskikbaar.
  • Hou altyd materiaal-inkopiesakkie in jou motor en maak dit ’n doelwit om vanjaar nie een plastieksak te koop nie. Dit is ’n eenvoudige verandering wat almal kan maak.
  • Vermy plastiekwaterbottels ten alle koste. As jy nie van kraanwater hou nie, plaas ’n filter op jou kraan, of kry ’n ander manier om jou water te filtreer. As jy hou van borrelwater, skaf ’n SodaStream-masjien aan.
  • Enkelgebruik plastiek-items is ’n euwel en moet sover as moontlik vermy word. Kry vir jou ’n herbruikbare koffiebeker vir jou gunsteling wegneem-boeretroos, en koop jou vars groente en vrugte los en plaas in moeseliensakkies in plaas van plastieksakkies.
  • Los die stortjel en sjampoebottels op die rak en kies natuurlike seep wat nie in ’n plastiekverpakking is nie om jou lyf en hare mee te was. Zero Bar (zerobar.co.za) maak sjampoe-stafies wat jou hare silwerskoon was en jy kan dit vir tot 70 wasse gebruik.
  • Lees verpakking en voed jouself op oor wat herwin kan word, en wat nie. Vermy produkte in verpakking wat nie herwin kan word nie (soos plastiek nommer 7), en maak seker jy herwin alles wat wél herwin kan word. Dit sluit in glas, papier, blikkies en plastiek met nommers 1, 2, 4, 5 en 6. Onthou om alles wat jy wil herwin deeglik uit te was en te laat droog word.
  • Plastiek wat nie herwin kan word nie (nommer 7), kan in ’n eko-baksteengedruk word. Dis ’n 2 literkoeldrankbottel wat jy dan volprop met plastiek tot dit kliphard is en so 450 g weeg. Skoon, droë nie-afbreekbare afval is ideaal vir ’n eko-baksteen. Daar is verskeie landwye afsetpunte hiervoor en dit word gebruik in allerlei projekte – tot klaskamers is al van eko-bakstene gebou! Besoek www.getaway.co.za/travel-news/eco-brick-today vir ’n handige lys van afsetpunte in die Kaap en Gauteng.

Doen dit self

  • Plant jou eie kos, selfs al is dit net kruie op ’n vensterbank. Tamaties, blaarslaai en selfs komkommers is maklik om in ’n klein tuin te kweek, en hoe lekker is dit nie om ’n slaai uit jou eie tuin te maak nie!
  • Maak items wat gebreek het, maar nog bruikbaar is, reg. Maak jou eie konfyt, blatjang, gebak, jogurt en grondboontjiebotter – dit is maklik en jy sal boonop baie geld spaar terwyl jy jou plastiekverbruik verminder.

Mors minder

  • Gebruik jou gryswater, want water is ons kosbaarste hulpbron. Jy kan gryswater gebruik om jou tuin nat te lei, en as jy plek het, skaf ’n reënwatertenk aan.
  • Koop tweedehandse klere, ruil klere uit met vriende, en snuffel rond in tweedehandse winkels vir ander handige gebruiks­items in plaas daarvan om alles nuut te koop. Maak dit ’n prioriteit om te weet waarvan jou klere gemaak is, en deur wie. Al wat jy eintlik nuut hoef te koop, is onderklere en sportdrag.
  • Begin ’n komposhoop. Voedselafval, soos groenteskille, moenie in stortingsterreine beland nie. Kos wat vasgevang is tussen plastiek laat metaangas vry, ’n sterk kweekhuisgas wat bydra tot aardverwarming. Skep eerder ’n komposhoop in jou tuin of as jy nie plek het nie, skaf twee Bokashi-komposhouers (gaan kyk by bokashishop.co.za) aan om jou voedselafval in te gooi. Dié houers skep gratis kompos en kunsmis wat jy in jou eie tuin kan gebruik of skenk dit aan ’n plaaslike gemeenskapstuin.
  • Sanitêre ware is ’n groot besoedelaar, dus is dit ekovriendelik vir vroue om oor te skakel na lapdoekies, menstruele silikoonkoppies (jy gebruik dit soos ’n tampon, maar dit kan vir tot vyf jaar hergebruik word) of maandstonde-onderbroekies wat soveel as twee tampons kan absorbeer. Dié produkte spaar ’n mens geld, en jy verbruik minder plastiek.

Koop slim

  • Vervang jou gloeilampe en gebruik eerder LED-ligte – dit gebruik ’n fraksie van die krag van gewone gloeilampe en gee net so goed lig, indien nie beter nie. Jy kan ook in gehaltesonkragliggies belê wat veral goed werk in ’n mens se tuin.
  • Doen jou inkopies by laeverkwisting-winkels, daar is heelparty landwyd. Hier vat jy jou eie houers soos glasflessies of ou plastiekbottels wat jy skoongewas het, en vul dit op met alles van meel tot skottelgoedseep. Dit is goedkoper en jy verbruik minder plastiek. Loer in by byvoorbeeld The Refillery in Cedar Square (Gauteng), Shop Zero SA (Kaapstad), Good Source SA (KwaZulu-Natal) en Waste-Not Groceries (Port Elizabeth).
  • Kies koraalrif-vriendelike sonskerm: Chemiese sonskerms is dodelik vir koraalriwwe. Lees die lys van bestanddele en vermy sonskerms wat oxybenzone en octinoxate bevat. Kies eerder dié met sinkoksied en titaandioksied wat ’n mineralebasis het. Plaaslike, plastiekvrye opsies sluit in Wild Zinc en Back2Nature.

Inligting verskaf deur: Helen Moffett, die skrywer van Wise about Waste – 150+ Ways to Help the Planet; Angela-Lee Wright van Sustainable.co.za, ’n aanlyn ekovriendelike winkel; Jacqueline Viljoen van Discover Green SA; en Rhian Berning, ’n aktivis en die stigter van Eco Atlas (ecoatlas.co.za), ’n webwerf wat ’n mens bemagtig om groener leefstylkeuses te maak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.