Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Leer jou hond om beleefd te groet

Is jy skaam vir jou vierbeenkind wat alewig teen mense opspring en ongevraagd soene uitdeel? Adele Myburgh het gaan uitvind wat jy kan doen om dié gedrag stop te sit.

Somtyds is die hondekinders so bly om jou te sien, dat hulle ’n bietjie té entoesiasties groet. Daar is gelukkig maniere om te verhoed dat diere jou of jou kuiergaste by die voordeur omspring. Foto: Pixabay

Die grootste rede waarom jou hond teen mense opspring, is omdat niemand hom geleer het dat dit verkeerd is nie! Nes kinders soek honde gedurig aandag en die maklikste manier om dit te kry, is om teen jou op te spring – of jy dit verwelkom of kwaai reageer, aandag is aandag en honde sal altyd gedrag herhaal wat vir hulle lonend is.

In hondeland is dit heel normaal om aan mekaar te ruik en in die gesig te lek – dis immers die aanvaarde manier van groet. Onder wilde wolwe is dit ook algemene gebruik dat volwassenes kos opbring om die kleintjies te voed, vandaar die gewoonte onder welpies om aan die volwassenes se monde te lek. Wanneer jong hondjies dit met mense doen, dink almal dis baie oulik en moedig hulle selfs aan om soentjies uit te deel.

’n Paar maande later is dit egter nie so snaaks as die outjie volgroeid is en vir Ouma uit die aarde hardloop nie. Dan gaan dit nie help om die hond te straf vir sy gedrag nie, jy gaan hom net verbouereer.

Die beste raad is om jou hondjie van kleins af te leer om nie teen mense op te spring nie, maar dis moontlik om ’n hond van enige ouderdom op ’n positiewe manier te leer om beleefd te sit wanneer jy kuiermense kry.

Hier is ’n paar basiese stappe wat jy kan volg:

1. Kry iemand van wie jou hond baie hou om jou te help. Sit die hond se leiband aan en gee hom opdrag om te sit. Die ander persoon moet ’n paar tree weg staan terwyl jy dit doen.

2. Sodra die hond gaan sit, vra die persoon om nader te kom. Omdat die hond van die persoon hou, sal dit hom vir die sit-slag beloon. Maar, hy gaan ook nader aan die persoon wil beweeg omdat hy so dol oor hom of haar is. As hy dit doen, moet die persoon dadelik stop, omdraai en wegstap.

3. Vra die hond dadelik weer om te sit en laat die persoon nader stap. Indien die hond opstaan, herhaal stap 2.

4. Na drie of vier probeerslae kan jy ophou om vir die hond te sê hy moet sit. Tel net stadig tot vyf in jou kop. Die hond sal vinnig genoeg agterkom dat sy vriend net sal naderkom as hy bly sit. Beloon jou vierpootkind tussendeur met lekker eetgoedjies of laat hom toe om die persoon te gaan groet elke keer as hy suksesvol bly sit het. Sodra hy egter probeer opspring, moet die persoon omdraai en wegstap.

5. Oefen dieselfde stappe met verskillende mense en op plekke in die huis waar die hond gewoonlik besoekers sal groet. Dit is met hondeopleiding altyd baie belangrik om die gedrag te veralgemeen.

6. Sodra hy redelik konsekwent bly sit, haal die leiband af en oefen daarsonder. As Wagter ’n fout begaan, begin weer van voor af met die leiband aan.

7. Moenie al jou en die hond se harde werk in die wiele ry wanneer jy regtig kuiermense kry nie. Maak die hond buite of in ’n ander vertrek toe tot almal hulself tuisgemaak het en bring dan die hond aan ’n leiband binne om almal rustig te groet.

Meer oor:  Troeteldiere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.