Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Leer ken Anet Pienaar-Vosloo van ‘Mooi’

Die styljoernalis Anet Pienaar-Vosloo reis wyd om van haar gunsteling-mense se mooiste huise, plase en plekke met ons te deel in VIA se program Mooi, wat tans terug op die TV is vir ’n derde seisoen. Lees verder om dié stylvolle vrou beter te leer ken.

Anet Pienaar-Vosloo

Waar kom die idee vir die reeks vandaan?

Izelle Venter (VIA se kanaalhoof) het my sommer eendag informeel gevra watter soort program ek graag eendag sou wou maak. My antwoord was: “ ’n Mooi een!”

Dit was nie op my radarskerm om TV te maak nie, maar die woord het vasgesit in my kop en ek het innig begin dink oor alles wat vir my mooi is. Dit was baie maklik om die konsepvoorstel te skryf. Suid-Afrika is mooi, ons mense is mooi. Mense wat die beste van hul omstandighede maak en hard werk om ’n verskil aan hul omgewing te maak.

Wat beteken erfenis vir jou?

Erfenis is nie net materieel nie. Dis ons taal, ons ritme vir dieselfde musiek of ’n reusevuur in ’n lapa. Dis ook ’n inherente liefde vir gemeenskaplike dinge soos re­spek en goeie maniere. Ek glo daaraan dat ons die dinge wat ons geërf het moet koester en eer. Dit wys ons kom iewers vandaan en ons voorsate het soveel goeie dinge vir ons nagelaat wat ons moet oppas en bewaar. Die swaarkry en opbou is dinge wat ek respekteer en mens moet nooit vergeet dat vorige generasies onder soms moeilike omstandighede wonderlike dinge reggekry het nie.

Restoureer jy self graag?

En hoe! Ek is mal oor ’n ou huis, meubelstuk of vintage-rok. Ek het al baie restourasieprojekte op my kerfstok.

Waar kom jou liefde vir mooi dinge vandaan?

Ons reis baie en was al oor die wêreld heen en kon onder meer die grootste kunsgalerye besoek van Moskou tot Madrid, Parys en Brittanje. Alles wonderlik, maar ek dink ek het dit by my ma geërf. Sy is so lief vir mooi teekoppies, geborduurde tafeldoeke, kuns, blomme, rokke en lap.

Hoe het jou styl of smaak verander namate jy ouer geword het?

Frankryk was vir die afgelope 17 jaar ’n groot deel van my lewe. My vriende Louis Jansen van Vuuren en Hardy Olivier het ’n groot rol met die heerlike lewensreis gespeel, asook antieke markte op die Franse platteland.

Wat het jy die meeste geniet terwyl julle die program opgeneem het?

Natuurlik die vriende en verruklike omgewing, maar ook die produksiespan van Afrokaans. Ek is net mal oor ’n ieder en ’n elk van hulle onder leiding van Jaco Spies. Dit was ’n voorreg.

Wat hoop jy sal mense wegneem van die reeks af?

Ek sou hoop hulle geniet die halfuur van terugsit, ontspan, loer na die mooiste plekke, maar hoop ook dat dit kykers gaan inspireer om met nuwe oë na ons land en sy mooi mense, kultuur en natuur te kyk soos dit vir my inspireer. Ek hoop dit gaan mense moed gee. Ons het so baie om op trots te wees.

  • Nuwe episodes van Mooi word elke Maandag om 19:30 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.
Meer oor:  Via  |  Anet Pienaar-Vosloo  |  Tv  |  Mooi  |  Realiteitsreeks  |  Vermaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.