Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Voet in die hoek:
Leer vróég al oor seks

Terwyl Suid-Afrikaners wroeg oor die nuwe, baie reguit kurrikulum vir seksvoorligting in skole, leer vierjariges in Nederland vir jare al die korrekte name vir hul geslagsdele en kinders so jonk as agt weet wat masturbasie is, skryf Inge Kuhne.

Wys jou kind die verskil tussen meisies en seuns.

Nederlandse tieners het gemiddeld ’n jaar later seks as hulle eweknieë elders in Europa. Vyftig persent van tieners hier is nog maagde teen die tyd dat hulle 18 jaar oud word.

Wanneer dit by tienerswangerskappe kom, vaar die Nederlanders ook uitstekend. Volgens die Verenigde Nasies (VN) word net vier babas jaarliks gebore vir elke 1 000 ma’s jonger as 19. In Suid-Afrika staan die syfer volgens die VN op 42,8.

Nederland haal ook die derde plek op die VN se indeks van geslagsgelykheid, terwyl Suid-Afrika, onder meer deur die hoë voorkoms van tienerswangerskappe afgetrek word tot in die 90ste plek.

’n Omvattende studie oor seks en jongmense (“Seks onder je 25e”) wat in 2012 en 2017 in Nederland gedoen is, het getoon dat 92% van seuns en 94% van meisies voorbehoedmiddels gebruik wanneer hulle die eerste keer seks het.

Maar ewe belangrik vir die Nederlanders is die feit dat nege uit tien meisies en 94% van jong mans sê dat hulle seks genotvol vind.

Dis jou keuse en dis lekker

En presies dáár lê die kern van die Nederlandse benadering tot seks-onderrig. Die oogmerk van seksopvoeding is om kinders beheer te gee oor hulle seksualiteit. Hulle leer van kleins af dat seks goed en lekker is en dat dit jou reg is om te besluit hoe en wanneer jy daaraan wil meedoen.

Elsbeth Reitzema is ’n spesialis in seksvoorligting vir laerskoolkinders by die Rutgers-instituut, ’n hoogs gerespekteerde Nederlandse navorsingsinstelling wat al in 1949 sy eerste leerplan oor seksonderrig ontwikkel het.

“Wat ons weet is dat as jy iemand van ’n jong ouderdom af onderrig oor seksualiteit sal hulle meer verantwoordelik wees wanneer hulle uiteindelik besluit om seks te hê. Hulle sal hulself beter beskerm en hulle sal meer geneig wees om nee te sê as hulle iets nie wil doen nie. Dit is wat ons weet.

“Ons weet ook dat om bloot weerhouding te predik nie werk nie. Ons het ’n lang geskiedenis van seksonderrig in Nederland vir kinders van ’n jong ouderdom af, en ons kinders wag langer voordat hulle die eerste keer seks het,” sê sy.

Openhartige gesprekke oor seks bemagtig kinders.

Dr. Anisha Abraham, ’n Amerikaanse pediater wat spesialiseer in tienergesondheid en die afgelope vier jaar in Amsterdam werk, sê sy was verbaas toe sy met haar aankoms hier sien hoe reguit die ouers en onderwysers met kinders oor seks praat.

“Totdat ek hier aangekom het, was al die seksopvoeding wat ek teëgekom het gegrond op een boodskap: Moet dit nie doen nie!”

In plaas daarvan om jongmense weerbaar te maak, dryf ons met daardie boodskap seks ondergronds, sê sy.

Die Nederlanders leer hul kinders dat seks geen taboe-onderwerp is nie. “Ons leer hulle dat jy kan sê wat jy wil hê en wat jy nie wil hê nie. En dat jy jou liggaam moet ontdek sodat jy weet waarvan jy hou en waarvan jy nie hou nie. Jy moet self daaroor besluit,” sê Elsbeth.

Anisha sê uit ondervinding weet sy dat as kinders besef seks is iets waaroor hulle beheer het en wat hulle met hul seksmaats kan bespreek, gee dit hulle ook die selfvertroue om te besluit om dit nie te doen nie.

“Deur seks as ’n taboe te hanteer maak ons daarvan iets wat vuil is of iets wat nie behoort te gebeur nie. Maar tieners eksperimenteer steeds en wanneer iets fout gaan – as hulle dink hulle is swanger of het ’n infeksie opgedoen of selfs as iets seksueel sonder toestemming gebeur het – het hulle nie die vrymoedigheid om vir hulp te vra nie,” sê Anisha.

Skole en ouers moet saamwerk

Maar hoekom kan ouers nie sommer self hulle kinders oor seks leer nie? Hoekom die skool betrek?

“In ’n ideale wêreld moet kinders van ’n vroeë ouderdom af seksonderrig in die huis kry, maar nie alle ouers voel gemaklik om met hul kinders oor seks te praat nie. Jy moet onthou baie ouers het self nie behoorlike seksopvoeding by húl ouers gekry nie. En oor sekere onderwerpe, soos seksuele diversiteit, het sommige ouers bloot self nie die kennis nie,” se Anisha.

Ouers is geneig om verkeerdelik te glo dat kinders nie blootgestel is aan dinge nie lank nadat die kinders deur maats of selfondersoek of die internet kennis gemaak het met die seksuele.

Dit is net so belangrik dat ouers nie net moet staatmaak op die skool om vir hulle kinders seksonderrig te gee nie.

Anisha sê die baie belangrike, bemagtigende boodskappe oor seksualiteit moet verkieslik nie net van een bron kom nie.

“Wat die Nederlanders hier reg doen, is om in die huis en by die skool openhartige gesprekke oor seks te voer en dit verder te rugsteun deur toeganklike inligting by klinieke beskikbaar te maak en deur baie goeie openbare opvoedingsprojekte.”

Rolspel bemagtig jou kind

Net soos in Suid-Afrika is daar in Nederland ook ouers wat vrees dat as hulle kinders byvoorbeeld oor voorbehoeding ingelig word, die kinders dit kan beskou as aanmoediging of toestemming om seks te hê.

“Dit help nie jy begin eers met kinders oor voorbehoeding praat as hulle reeds seksueel aktief is nie. As jy vir kinders kondome gee, gaan hulle nie skielik begin seks hê net om daardie kondome te gebruik nie. Maar wanneer hulle wel besluit om seks te hê, gaan hulle meer verantwoordelik wees.

“Dink net hoe moeilik dit vir ’n tiener is om in ’n winkel in te stap en vir kondome te vra. Dit is vreeslik hoeveel hindernisse ons plaas in die pad van ’n tiener wat op ’n verantwoordelike manier probeer optree.”

Sy glo rolspel, soos ook vervat in die Suid-Afrikaanse leerplan, kan help om jongmense te bemagtig in situasies waar hulle druk ervaar om iets te doen waarvoor hulle nie gereed is nie.

“So ons skep die scenario: Hier is ’n outjie by ’n partytjie en hy is regtig oulik, maar hy wil met jou seks hê en jy voel nie gereed nie. Hoe hanteer jy dit?

“Jy moet hieroor dink voordat jy in daardie situasie is. Die antwoord kan wees: ‘Ek gaan nie nou seks hê nie, want ek is in beheer van my liggaam en ek wil seker maak dat ek dit doen wanneer die omstandighede vir my reg is en wanneer ek veilig voel.’

Deur dit te oefen, bemagtig jy die kind met die woordeskat vir wanneer dit gebeur.”

Gemaklik met die onderwerp

Anisha sê ons onderskat waaraan ons kinders op ’n jong ouderdom reeds blootgestel is, en oor hoeveel kennis hulle beskik.

“’n Goeie 60 tot 70% van 14-jariges sê vir my hulle het al pornografie gesien. Ons moet vir hulle inligting gee, sodat hul verstaan dis nie die regte lewe nie. Met die internet het kinders toegang tot baie meer as wat ons besef, selfs al vertel hulle ons nie daarvan nie.”

Elsbeth sê dis noodsaaklik dat kinders weet wat pornografie is.

“Hulle moet weet jy kan kies om nie daarna te kyk nie en dat dit wat jy daar sien buitengewoon is. Doen jy dit nie, word dit wat kinders van seks dink en verwag, gevorm deur pornografie.”

Kinders moet die korrekte name van hul geslagsdele ken, voordat hulle nodig het om dit te gebruik, sê Elsbeth.

“As jy nie eens weet dat jy dit ’n penis of ’n vagina noem nie, kan jy ook nie vir iemand sê as iets slegs daarmee gebeur het nie. As jy nie die woorde het nie, kan jy nie hulp vra nie,” sê sy.

Net so moet kinders oor puberteit ingelig wees voordat die veranderinge in hul eie liggame begin en hulle moet van geboortebeperking leer voordat hulle seksueel aktief raak.

Seksonderrig is nie verpligtend in Nederlandse skole nie, maar verreweg die meeste skole kies om ’n leerplan oor seksonderrig te volg.

Rutgers se leerplan vir jong kinders, Kriebels in je buik, is vir meeste Nederlandertjies so bekend soos die eertydse Sus en Daan-boeke vir Suid-Afrikaanse ouers.

Die leerplan is ook belyn met die voorskrifte van die Wêreldgesondheidsorganisasie.

Maar selfs die oopkop Nederlanders raak soms angstig wanneer hulle hoor dat hulle kinders by die skool seksonderrig gaan kry.

Dis waarom Rutgers aanbeveel dat die ouers behoorlik ingelig word oor die leerplanne en die filosofie daaragter.

“Wanneer hulle eers die materiaal gesien het en hulle besef dit gaan nie net oor seks nie, maar ook oor verhoudings en aanvaarding, voel hulle gemakliker,” se Elsbeth.

Meer oor:  Skole  |  Suid-Afrikaners  |  Seksvoorligting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.