Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Lees maak hele wêreld oop, sê boekversamelaar

Jy kry gesoute lesers wat skrywers en boeke kén. Dan kry jy ’n Bloemfonteinse leser en boekversamelaar wat al die ander boekwurms op hul neuse laat kyk.

Dit was die geval op ’n boekgesprek met drie van die grootste Afrikaanse misdaadskrywers, Deon Meyer, Rudie van Rensburg en Chris Karsten, waar sy in die ry gestaan het om eerste uitgawes te laat teken.

Janetta Nel, ’n onderwyskundige, is nie net ’n boekliefhebber nie, maar versamel ook eerste uitgawes van Afrikaanse, Engelse, asook oorsese skrywers se boeke. Foto: Mlungisi Louw

Janetta Nel, ’n onderwyskundige, is nie net ’n aanhanger en boekeliefhebber nie, maar versamel ook eerste uitgawes van elke liewe boek wat dié drie skrywers al geskryf het. So versamel sy ook eerste uitgawes van honderde ander Afrikaanse, Engelse en oorsese skrywers.

“En ek het twee Koorse,” verwys sy na Meyer se groot treffer, Koors.

Daar is iets spesiaals aan ’n eerste uitgawe van ’n boek, sê sy. Sy het kaste vol.

En baie is geteken. “Al my Etienne van Heerdens en Ingrid Winterbachs is geteken. Maar Karel Schoeman het mos nie eintlik boeke geteken nie.”

Sy versamel ook unieke boeke, soos Die agste plaag, ’n lapboek deur wyle Harry Kalmer en die visuele kunstenaar Hannelie Coetzee.

Boeke is haar bedmaats en sy lees twee-twee op ’n slag.

Janetta Nel, ’n onderwyskundige, is nie net ’n boekliefhebber nie, maar versamel ook eerste uitgawes van Afrikaanse, Engelse, asook oorsese skrywers se boeke. Foto: Mlungisi Louw

Haar groot liefde vir boeke het begin op ’n plaas by Gobabis in Namibië.

“Elke boer het ’n possak gekry. Ek kon nie wág vir die kindertydskrif Die Jongspan nie. Ek onthou daar was ’n vervolgverhaal ‘Klein klokkie steenbokkie en groot klokkie steenbokkie’. Dít was nou my gunstelingstorie.”

Haar boeke is vol plakkers om wyshede te merk wat sy weer later gaan nodig kry. “Ons onthou die oomblikke van vrees, verlies en vernedering die beste,” lees sy voor uit Deon Meyer se Koors.

“Dis ’n feit. As ek nou terugdink oor my lewe, onthou ek goed op skool wat vir my sleg was.”

Sy het waardering vir die navorsing wat skrywers van misdaadfiksie doen. “Lees maak ’n wêreld vir ’n mens oop. Hier, tussen vier mure, kan ek my inleef in ’n wêreld daarbuite.”

Om goed te kan skryf, moet jy ook goed lees. Het sy al gepoog om self te skryf?

Sy vertel in 1975 toe sy in st. 6 was, het die Israeliese weermag ’n vliegtuig gestuur wat gyselaars van ’n gekaapte Air France-vliegtuig op die Entebbe-lughawe in Uganda moes red, Operasie Entebbe. Hulle het die nuus oor die gyselaars gevolg en niemand het geweet hoe dit gaan eindig nie.

Midde-in dié spanning skryf sy toe ’n gedig daaroor, waarop die onderwyser dit opskeur omdat sy nie geglo het Nel het dit self geskryf nie.

“Toe het ek nooit weer ’n gedig geskryf nie.”

Meer oor:  Janetta Nel  |  Boeke  |  Boekversamelaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.