Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Leraar skryf prontuit op Facebook oor haar kankerstryd

Sy skryf van die pyn in haar aar waar die chemoterapie toegedien word en oor die gesukkel om raad te kry oor hoe om jou kopvel te versorg nadat jou hare uitgeval het.

Dr. Carin van Schalkwyk (50), ’n leraar van Philippolis en skriba van die Vrystaatse sinode van die NG Kerk. Foto: Verskaf

Dr. Carin van Schalkwyk (50), ’n leraar van Philippolis en skriba van die Vrystaatse sinode van die NG Kerk, hou op Facebook van haar kankerstryd dagboek om die “angel” daaruit te haal.

Daar is in Mei by Van Schalkwyk, predikant van die NG kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk op die dorp, kanker van die eierstokke in ’n vroeë fase gediagnoseer. Sy is nou in haar tweede siklus van chemoterapie.

“Ek het ’n ding daaroor – as mense na jou kyk, of hulle hoor jy’t kanker, dink hulle jy’t ’n doodsvonnis gekry.

“Ek skryf juis dié goed so eerlik as moontlik sodat mense weet dit is nie altyd ’n maklike pad om te loop nie, maar dat daar hoop is,” sê sy aan Netwerk24.

Sy wil mense ’n blik op die ervaring van ’n kankerpasiënt gee en die inskrywings help haar ook om perspektief van haar situasie te behou.

Van Schalkwyk skryf nie vir simpatie nie, en of dit nou ’n goeie of slegte dag was, sy noem dit op die naam.

Sy sê dit gaan goed met haar gesondheid en sy gaan met haar werk voort.

“ ’n Bietjie stadiger as gewoonlik, maar ja, ek gaan elke dag aan en doen wat gedoen moet word.”

Jy voel letterlik hoe ander mense se gebede jou deur dié goed dra.

Maar hoe bring sy hoop na die gemeenskap wanneer sy self deur diep waters gaan? Dit is ’n wisselwerking van bemoediging tussen haar en die gemeentes.

“Die gemeente bemoedig ’n mens ook maar. Dis mos maar wat gelowiges doen, ons dra mekaar se laste en ons bemoedig mekaar so op die pad,” sê Van Schalkwyk.

Sy kry in die oggende en aande boodskappe van mense landwyd wat aan haar dink en vir haar bid.

“Jy voel letterlik hoe ander mense se gebede jou deur dié goed dra.”

Die feit dat die Here se genade altyd genoeg is, dra haar deur, sê sy.

“ ’n Mens ontvang elke dag genoeg krag van die Here om deur die dag te kom.”

In die oggende vra sy Hom vir krag en in die aande bedank sy Hom daarvoor.

Van Schalkwyk sê mense is so in die Covid-19-pandemie vasgevang, hulle vergeet daar is ander siektes en probleme waarmee geworstel word.

Meer oor:  Kankerstryd  |  Facebook
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.