Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Liefde vir ander en hulp waar nodig, is sy wens op 100

Dit was ’n eeu van genade waarin die Here Willie Smit se “kompas” was.

Wanneer hy Donderdag die spreekwoordelike 100 kersies op sy koek doodblaas, is dit met die wens dat mense mekaar onvoorwaardelik – met probleme en al – moet liefhê, en help waar hul kan.

Willie Smit
Willie Smit vier 100 jaar op aarde.

“Oom Willie” verduidelik dan: “want, as jy nie hemel toe gaan nie, wag daar moeilikheid vir jou”.

Dit is nie net Smit se merkwaardige ouderdom wat as ’n mylpaal beskou word nie. Hy het net tien dae voor sy 100ste verjaardag by die Ons Tuis: Rivera in Pretoria ingetrek.

Op die ouderdom van 99 was hy dus die oudste inwoner wat daar toegelaat is, sê sr. Sonja Stander, die bestuurder van die tehuis.

Tog blyk dit dat Smit reeds nes geskrop het in sy nuwe blyplek en nog heerlike staaltjies van sy lang lewe onthou.

Op 10 Junie 1921 gebore as Willem Frederick Jacobus Smit, was hy die middelste van ses kinders.

Tydens sy kinderjare in die Boksburg-omgewing moes hulle destyds “die vreeslike afstand” skool toe stap.

“Meestal was dit boonop met my jonger sussie, Hanna, op my rug. Sy was die kleinste en het vinnig moeg geraak.”

Smit onthou ook die Tweede Wêreldoorlog. Hy was net-net uit sy kinderskoene. Dit was moeilike jare en almal het gesukkel om werk te kry.

“Ek het my ambag by Simmer & Jack (-mynmaatskappy) begin.”

Hy het tot in sy veertigs by die Vrystaatse Goudvelde rondom Welkom by die goudmyne gewerk.

Hy dink met vreugde terug aan die jare daarna toe hy na die hoëveld getrek het om met skape en beeste te boer, sy geliefde vrou, Henriëtte, en hul vier kinders saam met hom.

Ná hul drie dogters en een seun het sewe kleinkinders, tien agterkleinkinders en een agter-agter-kleinkind gevolg.

Smit glo dit is belangrik vir vooruitgang dat daar in Suid-Afrika se jong mense se opvoeding belê word.

“Lank gelede het ons begin om veral jong seuns aan te moedig om geleerdheid te kry, hetsy praktiese vaardighede of akademiese opleiding.

“In my tyd was daar ’n tekort aan ambagsmanne – manne wat sinvol met hul hande kon werk, soos ’n passer-en-draaier, wat nou nie meer die geval is nie, voeg hy by.

Ná sy jare van arbeid het “Oom Willie” en sy vrou in Hartenbos afgetree, voordat hulle weens die ouderdom na Pretoria moes trek.

Tydens sy baie lewensjare moes Smit egter ook die seer van Henriëtte se afsterwe, asook dié van twee van sy kinders, beleef.

Die verjaardag-vreugdevlamme gaan egter Donderdag steeds hoog brand wanneer sy naaste geliefdes koek en tee saam met hom geniet.

“Ek het ’n lewe vol hartseer, geluk en vreugde beleef. Bowenal was die genade en seën van die Here vir ’n 100 jaar my kompas,” som Smit sy baie lewensjare op.

Meer oor:  Willie Smit  |  100Ste Verjaardag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.