Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Lizz Meiring pleit: ‘Neem ’n dier aan, moenie koop’
Lizz Meiring ontvang Woensdagaand ’n skenking vir P.A.W.S in die dierehok waar sy die nag deurgebring het. Foto: Verskaf

Moenie ’n hond of kat koop nie, neem een aan.

Dit is die pleidooi van die aktrise Lizz Meiring nadat sy en diereliefhebbers in Potchefstroom Woensdagaand in die dierehokke by die P.A.W.S-diereskuiling geslaap het.

Herman van der Sluis, bestuurder van dié dierewelsynsorganisasie, het Donderdagoggend gesê sedert die woord versprei het oor Meiring se betrokkenheid by Projek P.A.W.S, is daar al R38 000 ingesamel.

“Dis vir ons ’n groot hupstoot want ons kon (sedert einde Maart) tydens die streng inperking nie ander fondsinsamelingsprojekte aanpak nie. Ons kan hierdie geld gebruik om ons kosrekening te betaal.”

Lizz Meiring en Herman van der Sluis, bestuurder van P.A.W.S, by van die honde wat versorg word. Foto: Verskaf
Baie mense laai hul diere by P.A.W.S af in hierdie tye omdat hulle nie meer vir hulle kan sorg nie. P.A.W.S wys niemand weg nie.

P.A.W.S versorg 190 honde en 80 katte, en is hoofsaaklik afhanklik van skenkings en hul eie fondsinsamelingsprojekte om die diere te versorg en die infrastruktuur te onderhou.

Van der Sluis sê tien mense, wat sakelui en prokureurs insluit, het Woensdagaand in tien hokke by die skuiling geslaap. “Die honde wat gewoonlik daar slaap, is verskuif. Ons het die hokke behoorlik ontsmet en skoongemaak. Die meeste van die slapers het slaapsakke saamgebring. Ons het hier van middernag begin koud kry toe die wind opsteek en ’n paar reëndruppels geval het.”

Dié hokslapery en ander geldinsamelingsbedrywighede Woensdag het saamgeval met Internasionale Hondedag wat jaarliks op 26 Augustus gevier word. Meiring het besluit om deel te word van Projek P.A.W.S nadat sy gehoor het van Van der Sluis se plan om in ’n hok te slaap vir fondsinsameling. Meiring het self vroeër haar parmantige foksterriër-kruising Volpina (Italiaans vir “wolfmeisie”) by P.A.W.S aangeneem.

“Hier is die mooiste honde en katte, en hulle word so mooi versorg,” sê Meiring.

“Die hokke waarin ons geslaap het, was pragtig reggemaak.” Meiring was deur die loop van Woensdag ook betrokke by ander bedrywighede om geld in te samel. Ondernemings kon hul produkte verkoop en ’n gedeelte van die wins aan P.A.W.S skenk, terwyl daar fotograwe was wat mense saam met diere kon afneem. ’n Gedeelte van die winste uit die fotonemery gaan ook aan P.A.W.S.

Lizz Meiring Woensdagaand in die dierehok waar sy geslaap het. Foto: Verskaf
Lizz Meiring en Zalizna Smit van P.A.W.S in Potchefstroom. Foto: Verskaf

Die organisasie bedien die Potchefstroom- en Ventersdorp-omgewing.

“Hulle het net een bakkie om diere in nood te help,” sê Meiring. Die bakkie is al vodde en moet óf herstel óf vervang word. Dit sal wonderlik wees as iemand hiermee kan help,” sê sy. “Baie mense laai hul diere by P.A.W.S af in hierdie tye omdat hulle nie meer vir hulle kan sorg nie. P.A.W.S wys niemand weg nie.”

Van der Sluis en Meiring benadruk dit dat Projek P.A.W.S ’n deurlopende inisiatief is. “Ons skuld wat ons elektrisiteit- en dierekosrekening insluit, is sowat R180 000,” sê Van der Sluis.

“Dan is daar nog die daagliks bedryfkoste.”

Mense wat nie geld kan skenk nie, kan ook help deur warm beddegoed en kos te gee. Mense wat betrokke wil raak by die voortgaande projek om P.A.W.S. te ondersteun, kan Jak Brits op 072 905 1356 bel.

Die rekeningbesonderhede waar skenkings inbetaal kan word:

P.A.W.S, Nedbank, Rekeningnommer: 1120 758 521, Tak: Potchefstroom, Takkode: 198 765

Die besonderhede is ook beskikbaar op Meiring, Brits en P.A.W.S se onderskeie Facebook-bladsye.

Meer oor:  Lizz Meiring  |  Potchefstroom  |  Geldinsameling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.