Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Coetzer se motors: Veiling laat legende voortleef
Die 1967 Mercedes-Benz Fintail-stasiewa sal een van die mees gesogte items op die veiling van wyle Louis Coetzer se private motorversameling wees.

Klassieke motors wat eens net deur koninklikes en hoë amptenare in Europa en Amerika besit was, word binnekort as deel van die private versameling van miljoene rande van wyle Louis Coetzer opgeveil.

’n Mercedes-Benz Coupé en ’n Pontiac Parisienne uit die 1960’s en Chevrolet Corvette uit die 1970’s is enkele van die veteraan-spogmotors uit die legendariese motorman van Bloemfontein se versameling wat op 5 Desember aanlyn opgeveil sal word.

Coetzer en sy vrou, Hermien, is vroeër vanjaar in ’n ongeluk dood toe hul motor by ’n krans in die Naudesnek-pas in Barkly-Oos in die Oos-Kaap afgestort het.

Die veiling is deur hul kinders, Hermie Matthysen, Lida van der Merwe en Jan, gereël om te verseker dat hul pa se legende deur sy motorversameling, waarvoor hy só lief was, voortleef.

’n 1957 Mercedes-Benz Ponton 19-stasiewa.

In die eerste van twee veilings sal 140 motors van die klassieke versameling onder die hamer kom.

Volgens Joff van Reenen , uitvoerende hoof van High Street Auctions, maak veral die merkwaardige Mercedes-Benz-motors, wat oor ses dekades heen kom en ’n groot deel van die versameling is, dit só spesiaal.

“Daar is gesogte motors in die versameling. Selfs kranige versamelaars het nie eers geweet modelle bestaan nog nie,” sê hy.

Hierdie seldsame Mercedes-Benz-motors sluit ’n Fintail-stasiewa, ’n Ponton-stasiewa, en ’n Adenhauer in.

“Dit was van die duurste en raarste motors van die 1950’s en 1960’s. Dit was eintlik net bekend dat koninklikes en staatsamptenare van Europa met dié motors gery het, maar hier staan hulle al vir soveel jare in ’n skuur in die hartjie van Suid-Afrika in Louis Coetzer se besit.”

Netwerk24 het vroeër berig dat die egpaar, soos soveel keer tevore, ’n 4x4-roete in Barkly-Oos se omgewing afgemerk het toe hul Toyota-bakkie se linkervoorwiel op los gruis gegly en hulle sowat 100 m oor ’n krans gestort het. Albei is op slag dood.

Lida sê dit was ’n lang en moeilike besluit om uiteindelik die motors op ’n veiling te plaas.

Omtrent 100 uit die 240 voertuie in die versameling wat opgeveil word is ou Mercedes Benz-motors.
'n Seldsame Mercedes 300. Teen die muur is Coetzer se merkwaardige wieldop-versameling.
’n 1979 Chevrolet Corvette.
’n 1964 Mercedes-Benz Coupe.

“Hoewel ons baie herinneringe aan ons ouers het vanweë die motors gaan die gedagtes nie verlore as ons nie meer die motors het nie.

“Ons het lank gedink wat ons pa sou gedoen het en toe besef dit sal die beste sal wees om die motors aan nuwe eienaars oor te dra, wat nét so ’n passie vir hulle soos ons pa sal hê. Dan kan die legende voortleef.”

Van der Merwe sê baie mense het hulle aangeraai om ’n museum te stig waarin die versameling kon wees, maar dit was net nie ’n volhoubare opsie nie.

“Ek dink nie mense verstaan hoeveel motors in die versameling is nie,” sê sy oor haar pa se klassieke versameling wat meer as 350 motors in het.

“Buiten dit kon my pa tussen sy motors loop en ’n ongelooflike kennis oor elke liewe een van hulle lewer. Ons het nie daardie intensiewe kennis wat hy gehad het nie. Dit is iets wat ons nooit sal kan vervang nie.

“Dit sou hom ook baie hartseer gemaak het om te sien dat die motors staan en verweer.”

Van Reenen sê bieërs wat belang stel kan die motors van 30 November tot 4 Desember aanlyn besigtig.

Die virtuele veiling sal op 5 Desember regstreeks plaasvind waar kopers op verskeie aanlyn platforms op die motors kan bie.

Louis en Hermien Coetzer se kinders, Hermie Matthysen, Lida van der Merwe en Jan, is hier by Louis se mees geliefde motor. Dit was sy Mercedes-Benz, 250SE Cabriolet. Lida sê dit is die motor wat haar pa altyd gesê het hy nooit sal verkoop nie. Foto: Mlungisi Louw
Louis en Hermien Coetzer.
Meer oor:  Louis Coetzer  |  Klassieke Motors  |  Veiling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.