Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
LUISTER: Onvergeetlik: Vrede in die storm se oog

Gillian Denempont tydens ’n wedloop in die kleure van haar hardloopklub, Run Zone in Johannesburg, kort voordat Covid-19 haar vir bykans ’n jaar ingeperk het.
Die wedloop wat Gillian Denempont op 14 Junie verlede jaar gehardloop het was nie haar vinnigste nie. Dit was nie eens haar verste nie. Maar dit was onvergeetlik, skryf Inge Kühne.

Gillian Denempont (62) het al dosyne marathons en ultramarathons agter die rug. Sy hou van uitdagings.

Maar die klippe wat 2020 in haar pad gerol het, was amper te veel vir haar.

Ernstige depressie is in 2019 by haar gediagnoseer. Die siekte het haar platgeslaan.

Sy woon sedert middel 2019 in ’n sorgsentrum in Johannesburg. Haar staatspensioen betaal die huur. “Ek kon nie myself onderhou nie. Jy weet, ek het my werk verloor. En ek wou nie ’n las vir enigeen wees nie,” sê sy.

Soos alle sorgsentrums waar bejaardes woon moes die Park Care-sentrum in Parktown-Wes, waar Gillian woon, streng voorsorgmaatreëls tref om die inwoners te beskerm teen die Covid-19-virus.

Vir Gillian veral was dit ’n groot slag.

Twee dae voor die virtuele Comrades is Gillian in kennis gestel dat sy glad nie meer die perseel van Park Care mag verlaat nie. Sy was verpletter.

Om te hardloop was nog altyd vir haar terapeuties en sy was vasbeslote om dié jaar haar 14de Comrades-medalje te verwerf, maar soos die virus sy kloue dieper ingeslaan het, het haar wêreld al hoe kleiner geraak. Die amptelike Comrades is gekanselleer en vervang deur ’n virtuele wedloop (elkeen hardloop op sy eie en meet sy tyd en afstand met ’n digitale toestel).

Twee dae voor die virtuele Comrades is Gillian in kennis gestel dat sy glad nie meer die perseel van Park Care mag verlaat nie. Sy was verpletter. Maar op die oggend van die Comrades het sy besluit om tóg te hardloop.

Die vet syfer 9 wat Gillian se roete aantoon in die sorgsentrum waar sy weens die Covid-19-inperking honderde kilometer afgelê het.
Elkeen hardloop teen sy eie berg uit

Gillian het in die 1980’s begin hardloop nadat haar babadogtertjie by geboorte dood is.

Toe haar 12-jarige seun, Andrew, in 1993 in ’n motorongeluk dood is, was hardloop haar lewensaar.

“Ek was absoluut gebroke. Ek kan jou sê, as ek nie gehardloop het nie, was ek waarskynlik nie vandag hier nie.”

Sy bly vir ’n oomblik stil. “Kyk, ek weet ander mense het alles verloor, soos hul hele gesin in ’n tsoenami of ’n vloed.

“Elkeen het hul uitdagings, en dit was myne.”

Tussendeur dit alles het haar sport haar gedra. “Dit gee vir jou ’n wonderlike gevoel van vryheid en vrede. Jy kry al daardie lekker endorfiene en die goedvoelhormone en dit vat daardie aaklige gevoel weg.”

Dit het ook haar lewe gevul met vriende. “Ek ken waarskynlik duisende mense,” sê sy.

Dis hulle wat haar aan die gang hou en namens haar vir wedlope inskryf wanneer sy dit nie kan bekostig nie.

“Daar is altyd pret en plesier . . . maar baie van daardie hardlopers het hul eie verliese gely en dis waarom hulle begin hardloop het. Party het ook kinders verloor.

“Jy kry nuwe perspektief wanneer jy in die Comrades-ry staan en jy sien mense daar met kanker wat iets wil doen voordat hulle sterf. Daar is blinde hardlopers.

“Daar is mense sonder ledemate.

“Daar is hierdie een ou wat die hele pad op krukke hardloop. Mense is so ongelooflik en jy dink, wel, daar is niks fout met my nie. Ek het my ledemate, bene, arms, alles is nog oukei. Jy’t eintlik niks om oor huis toe te skryf nie. Dít plaas alles in perspektief.”

En dis uit dié perspektief dat Gillian krag geput het toe sy daardie Sondag om 06:58 besluit sy gaan háár wedloop tog voltooi, al moet sy dit op die perseel van die sentrum doen.

Een ronde was omtrent 190 meter: Af met die trappe, verby die hek en dan die administratiewe gebou, verby die wassery en die groot kombuis.

Toe doen sy nog ’n ronde. En nog een en nog een. Sy het eers laatmiddag opgehou, ná 45 kilometer. ’n Halwe Comrades!

Op die hardloop-app Strava het haar roete in helderoranje ’n vet nege gevorm.

Vir meer as drie maande daarna was dié roete in die vorm van ’n nege Gillian se enigste hardloop-pad, maar ná die bloedsweet van daardie Comrades sou niks haar keer nie.

In September het sy die Rainbows and Smiles-organisasie se uitdaging aanvaar om elke liewe dag van die maand te hardloop om mense bewus te maak van kinders met kanker. Sy het in 30 dae 230 km afgelê op haar sieldodende roete van 190 m. Elke dag se oefensessie is opgedra aan ’n kind wie se kanker in remissie is.

Sy het die Berlyn- virtuele marathon in vyf uur voltooi en die Run Zone- virtuele marathon in vier uur en 46 minute.

Gillian by ’n wedloop in 1997.
Om weer vry te wees

In Oktober het Park Care haar uiteindelik toestemming gegee om weer buite te hardloop, al was dit net vir ’n kort rukkie elke dag.

“Om weer alleen te kon draf – daardie vryheid – was verkwikkend,” sê sy. Sy het in daardie maand 300 km kafgedraf, in November weer en in Desember ’n allemintige 330 km.

Wanneer jy hier lees kan jy maar weet, Gillian was vanoggend waarskynlik weer op die pad – besig om die uitdagings wat die lewe in haar pad stoot een vir een te oorwin.

Meer oor:  Depressie  |  Wedloop  |  Sorgsentrum  |  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.