Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Ma se dood spoor Kariega-man aan tot wêreldrekord

Wat begin het as ’n persoonlike fietsry-uitdaging om die dood van sy ma te verwerk, het vir dié Oos-Kaapse fietsryer gelei tot die verbetering van ’n wêreldrekord.

Johan Oosthuizen van Fuel on Wheels, ’n organisasie sonder winsbejag, het Sondag ’n wêreldrekord verbeter toe hy vir die 101ste opeenvolgende dag ’n fietsrit van 100 km aflê.

Oosthuizen, ’n inwoner van Kariega (Uitenhage), wil nou seker maak dié rekord staan lank vas in die Oos-Kaap en mik om vir 365 opeenvolgende dae die fiets se speke vir 100 km te laat sing.

Johan Oosthuizen van Kariega in die Oos-Kaap het reeds 104 opeenvolgende dae 100 km op sy fiets afgelê en mik nou daarna om dit vir ’n volle jaar lank vol te hou. Blouwaterbaai in Gqeberha het Woensdag deel gevorm van sy roete. Foto: Lulama Zenzile

“Ek wil hê die rekord moet hier bly. Indien iemand dit wil verbeter, moet hulle eers deur dieselfde hel as ek gaan,” skerts hy.

Oosthuizen, wat plaaslik bekend is vir sy langasem-fietsry-uitdagings ten bate van liefdadigheid, sê dié rekordpoging het toevallig begin.

Hy het ná sy ma, Mary Ann, se dood op Nuwejaarsdag geweet hy moet iets doen om die verlies te help verwerk.

“Ek het gevoel ek moet my kop skoon kry en besluit dat ek vir 40 dae elke dag 100 km sal fietsry.”

In dié 40 dae het hy gehoor van ene Russell Kelsey van Brittanje wat 100 opeenvolgende dae 100 km op ’n fiets gery het, en besluit hy gaan dié rekord najaag.

Die afgelope Saterdag het Oosthuizen die rekord geëwenaar met ’n spesiale rit in Gqeberha (Port Elizabeth), waartydens hy deur ’n groot groep fietsryers ondersteun is.

Vroegoggend, wanneer die paaie nog redelik stil is, is wanneer Johan Oosthuizen sy 100 km vir die dag trap. As veiligheidsmaatreël word hy gedurende die ritte deur ’n voertuig vergesel. Foto: Lulama Zenzile

Ná dié hoogtepunt hou Oosthuizen sy oë op dag 365 gerig, wat op 22 Januarie 2022 sal aanbreek.

Hy erken sommige dae is makliker as ander, maar hy is vasbeslote om elke dag die 100 km te voltooi, selfs op dae wat ongelukke gebeur, soos op dag 70, toe sy fiets se ketting teen 60 km/h afgegly en hy op die teer beland het.

“Daar is dae dat ek die afstand in drie en ’n half uur voltooi, dan is daar weer dae wat dit my agt uur neem.

“Dit is een van die moeilikste uitdagings nog, maar ek kan dit voltooi.”

Maar die rekord is nie al waarom Oosthuizen vir ’n jaar elke dag tyd aan sy fiets wil afstaan nie. Hy span dit ook in om geld in te samel vir kospakkies vir behoeftiges.

“Oor die eerste 100 dae kon ons vir 4 000 mense kos gee met die geld wat ons ingesamel het.”

Volgens Oosthuizen het die lys van behoeftiges veral sedert verlede jaar se inperking weens die koronaviruspandemie gegroei.

“Ons is dankbaar vir elke onderneming en gemeenskapslid wat van R10 tot duisende rande skenk. Elke bietjie dra by tot die aankoop van ’n kospakkie.”

Meer oor:  Johan Oosthuizen  |  Oos-Kaap  |  Fietsry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.