Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Ma, tannie bak koekies vir vliegles-geld
Tshepang Ralehoko agter die stuur van ’n vliegtuig. Foto: Verskaf

Terwyl ’n jong aspirantvlieënier hoog in die lug vliegopleiding ontvang, bak en brou haar tannie in die kombuis om geld in te samel.

Die vlieglesse is duur, maar opgee is nie ’n opsie nie.

Tshepang Ralehoko (22) van Atteridgeville, Pretoria, is ’n leerlingvlieënier aan die Blue Chip-vliegskool by Wonderboom.

Sy het reeds haar eerste goue strepie op haar epoulet verwerf ná die suksesvolle voltooiing van haar eerste solovlug.

Nou word daar land en sand koekies gebak om geld in te samel sodat Tshepang se drome vlerke kry en sy haar lugvaartkursus met vlieënde vaandels slaag en voltooi.

Tshepang het in gr. 9 besluit sy wil ’n vlieënier word, maar die saadjie is reeds op vierjarige ouderdom geplant.

“My ma het baie gereis vir werk en van kleintyd af was dit altyd baie opwindend vir my om saam lughawe toe te gaan,” sê sy.

Geld wat deur middel van die koekieverkope ingesamel word, betaal vir Tshepang se vlieglesse. Die mikpunt is R100 000.

Sy is positief dat sy haar private vlieënierslisensie oor sowat ’n maand sal verwerf en met haar tweede goue strepie op haar epoulet kan spog. Alles hang egter af van die geldsake.

Tshepang Ralehoko saam met haar ma, Lulu Ralehoko (links), en tannie Doris Temba. Dié twee vroue in Tshepang se lewe het besluit iets moet gedoen word om haar droom om ’n vlieënier te word te bewaarheid. Nou bak hulle koekies en verkoop dit. Foto: Verskaf

Dan lê daar nog twee strepies voor voordat Tshepang uiteindelik haar kursus voltooi het en as ’n volwaardige vlieënier bestempel kan word.

Tshepang het aansoek gedoen vir ’n beurs, maar intussen is besluit om koekies te bak terwyl sy vir terugvoering wag.

Haar ma, Lulu Ralehoko, en tannie Doris Temba het die geldinsameling sowat twee weke gelede begin. Hulle is albei werkloos, maar gaan nie toelaat dat dit in die pad staan van Tshepang se droom nie.

“Jy kan nie net sit en verwag dat hulp gaan kom as jy nie opstaan en iets doen nie. Sy is baie passievol,” sê Temba.

“Ons is lief vir bak en het besluit om iets te doen wat ons weet ons goed in is en iets waaroor ons beheer kan hou.”

Die koekies word gebak uit ou resepte wat oor die jare bymekaar gemaak is en hul gunsteling is die “melting moments”.

“Dit is baie lekker koekies – dit smelt so in jou mond,” sê Ralehoko en skerts dat dit ’n geheime resep is.

Tshepang Ralehoko (22) en haar tannie Doris Temba. Temba bak koekies terwyl Tshepang haar vlieglesse kry. Foto: Verskaf
Opgee is nie ’n opsie nie en ’n plan is beraam om geld in te samel vir Tshepang Ralehoko (22), ’n leerlingvlieënier, se vlieglesse. Nou word daar gebak en brou. Foto: Verskaf
Die geld wat ingekry word van die verkope van hierdie koekies betaal vir Tshepang Ralehoko (22) se vlieglesse. Foto: Verskaf

Die verkope van die koekies is nog stadig, maar hulle is hoopvol dat dit gou sal beter gaan en dat veral korporatiewe besighede daarin sal belang stel.

Ralehoko verduidelik dat die geld wat hulle inkry, reguit na die vliegskool gaan.

“Soos die geld inkom, gebruik ons dit vir haar vlieglesse.”

Ralehoko en Temba benadruk dat hulle nie vir skenkings vra nie. Enigiemand wat geld wil borg, kan die vliegskool regstreeks kontak, sê Temba.

Tshepang is “ongelooflik dankbaar” vir haar ma en tannie se ondersteuning.

“Hulle sal beslis my eerste passasiers wees. Sodra ek my tweede strepie het, kan hulle al saam met my Lanseria toe vlieg en terug,” sê Tshepang.

Tshepang se langtermyndroom is nie net om ander mense met dieselfde agtergrond te inspireer nie, maar om in staat te wees om hulle te finansier.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.