Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Maak dit ’n jaar wat altyd tel

As dit reg gedoen word, kan ’n oorbruggingsjaar ’n waardevolle ondervinding wees én goed lyk op ’n CV, skryf Delia du Toit.

EcoTraining bied ’n jaar lange professionele veldgidskursus aan.

Die woord “oorbruggingsjaar” laat menige ouer se nekhare rys. Hoe kan jy dan jou nat-agter-die-ore-tiener toelaat om stoksielalleen die wêreld in te vaar en basies ’n betaalde vakansie te geniet onder die vaandel van selfontdekking, terwyl jy jou tuis sit en bekommer?

Dis egter nie (altyd) die geval nie. Vandag is daar verskeie programme waar jong mense waardevolle ondervinding kan opdoen, kwalifikasies kan kry en meer oor hulself kan leer terwyl hulle ook die lewe, en alles wat die wêreld bied, kan geniet.

Annemi Zaaiman, bemarkingsbestuurder by EcoTraining, wat oorbruggingsjaaropleiding in natuurbewaring bied, sê só ’n jaar, mits dit reg gedoen word, help jong mense om meer duidelikheid oor hul toekoms te kry.

“Daar is deesdae soveel loopbaanmoontlikhede, dis ’n baie moeilike besluit. Oorbruggingsjare help jong mense om meer oor hul voorkeure en sterkpunte te leer. Dit moet egter nie ’n jaar se strandvakansies en partytjies wees nie. My raad is om ’n kursus of program te kies wat toekomstige werkgewers wys jy het nie jou tyd gemors nie, maar waardevolle ondervinding opgedoen – hetsy ’n kursus, vrywilligerswerk of ’n internskap.”

Die Bybelinstituut van Suid-Afrika (met die oranje dak regs onder op die foto) het ’n mooi ligging.

Dié opsies is net die ding:

Bybelinstituut van SA (Bisa), Kalkbaai In Bisa se jaar lange program sal studente teologieteorie leer, maar dit ook in praktyk toepas. Lorna Bucklow, registrateur, sê die program bestaan uit nege kursusse en praktiese opleiding onder toesig, waar studente gewoonlik met kinders werk. “Dis nie ’n vakansie nie, want ons verwag toewyding en deelname van studente.”

  • Vanaf R3 000 per maand, verblyf en etes uitgesluit. Besoek bisa.org.za.

EcoTraining, MbombelaEcoTraining se jaar lange professionele veldgidskursus is perfek vir jong mense wat in natuurbewaring wil werk, maar ook vir dié wat ’n betekenisvolle oorbruggingsjaar soek – waar dan beter om jouself te ontdek as in die bos? Opleiding vind in verskeie reservate soos die Krugerwildtuin en Mashatu in Botswana plaas, en studente sal ook werkondervinding by ’n safarilodge opdoen. Die kursus is geakkrediteer by die Sektorale Onderwys-en-opleidingsowerheid vir kultuur, kuns, toerisme, gasvryheid en sport (Cathsseta).

  • R222 350 vir die jaar; verblyf, etes, wasgoed en uniforms ingesluit. Besoek ecotraining.co.za.

Vrywilligerswerk

Vrywilligerswerk is ’n goeie manier vir jong mense om die wêreld te ontdek, kennis op te doen en meer oor hulself te leer - hetsy vir ’n jaar of net ’n paar maande, plaaslik of oorsee. Dié organisasies bied verskeie opsies:

  • Go Eco (goeco.org): Die internasionale vrywilligersorganisasie bied kort- en langtermynprogramme in byna alle uithoeke van die aarde – van opleiding in Nepalese kloosters tot skilpadbewaring in die Maledive en mediese versorgingswerk in Peru.
  • GVI (gviafrica.co.za): Die plaaslike organisasie bied vrywilligers- en internskapprogramme vir oorbruggingsjare in Suid-Afrika en oorsee, van Thailand tot Tanzanië en Griekeland tot Ghana. Daar is ook vakansieprogramme vir tieners.
  • Community Hours (communityhourssa.co.za): Dis nie spesifiek ’n oorbruggingsjaarprogram nie, maar jong mense kan kies uit ’n verskeidenheid plaaslike vrywilligersgeleenthede, sommige oor naweke, ander op lang termyn, om ondervinding op te doen terwyl hulle besluit oor hul toekoms.

Bly veilig

Sorg só dat jy veilig bly tydens ’n oorbruggingsjaar:

  • Maak afsprake om gereeld met iemand tuis te praat, en hou daarby. So kan jongmense hul reise rondom dié tye bespreek en nie voel hulle word dopgehou nie, en ouers weet hulle kan daai oproep verwag.
  • Laat iemand weet waar jy is. As jy uitgaan of ’n dagreis doen, stuur ’n Whatsapp vir ’n vriend, vertel die ontvangsklerk by jou blyplek, of lig jou kursusfasiliteerder in. So weet iemand altyd waar om te help indien dit nodig sou wees.
  • Stuur digitale weergawes van jou ID, paspoort, visums, bankkaarte en enige reiskaartjies na iemand wat dit vir jou kan aanstuur as jy dit sou verloor.
  • Koop ’n ou, goedkoop foon en plaaslike simkaart. Slimfone is baie handig, maar maak jou ook ’n teiken vir sakkerollers.
  • Bespreek hotelverblyf vir die eerste aand en vind jou voete. Daarna kan jy van die hotel na ’n goedkoper blyplek skuif, maar minstens weet jy jy kan die eerste aand rustig slaap.
Meer oor:  Cv  |  Oorbruggingsjaar  |  Ondervinding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.