Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Maak van jou kind ’n boekwurm: Jaco wys hoe

Die kinderboekskrywer, Jaco Jacobs, sê dis belangrik om tyd te maak om saam met jou kinders te lees. Hier lees hy saam met sy dogtertjies Mia (8, links) en Emma (6). Foto: Elize Jacobs
Jaco Jacobs is ’n bekroonde kinderboek- skrywer en ’n pa wat ’n liefde vir lees by sy eie kinders wil tuisbring. Hy vertel vir Suzanne Venter hoe hy dit doen.

Het jy nog altyd gewonder hoekom honde aan mekaar se boude ruik? Dan is die kinderboekskrywer, Jaco Jacobs se nuwe boek ‘Kan ’n Walvis winde los?’… die antwoord op jou vraag.

“Ek het gedink aan al die gruwelikste vrae wat ’n mens oor diere kan vra, want kinders het ’n fassinasie met grillerige goed,” sê Jaco.

“Die boek is vol toilethumor, maar tussendeur is daar baie wetenskaplike feite en so lees kinders ’n boek in ’n japtrap deur sonder dat dit in hul keel afgedwing (moet) word en hulle afskrik.”

Dis vir die pa (40) van Mia (8) en Emma (6) hartseer dat Suid-Afrika onlangs laaste gekom het uit 50 lande in die Progress in International Reading Literacy Study (PIRLS) waar die leesvaardighede van 320 000 kinders wêreldwyd getoets is.

“Ek tel op dat kinders deesdae ’n effense vrees het vir boeke en dit assosieer met skoolwerk en sukkel. Daarom probeer ek om onderwerpe te kies wat dit vir hulle toeganklik maak,” sê hy.

Natuurlik is tegnologie deesdae boeke se grootste vyand, maar ek verkies om dit nie te sien as ’n probleem nie en eerder te fokus op maniere om kinders van kleinsaf bloot te stel aan die avontuur van lees.

Om goed te kan lees is belangrik vir ’n kind se vordering op skool. “Boeke maak nie net vir kinders nuwe wêrelde oop nie, maar kweek ook belangrike vaardighede wat nodig is om goed soos wiskunde en wetenskap te doen.

“Natuurlik is tegnologie deesdae boeke se grootste vyand, maar ek verkies om dit nie te sien as ’n probleem nie en eerder te fokus op maniere om kinders van kleinsaf bloot te stel aan die avontuur van lees,” sê Jacobs.

Hier is tien van sy beste wenke:

1. Dis nooit te vroeg om vir jou kind te lees nie

Daar is fantastiese boeke vir babas, soos kleurvolle badboeke, kartonboeke en boeke met interaktiewe elemente waaraan hulle kan vat en voel. Jaarliks verskyn daar kruiwavragte prenteboeke vir kleuters oor prinsesse, drake en allerhande goed. Maak boeke van kleinsaf so deel van jou kind se grootword-avontuur soos sy kombersie en bottel. Kinders moet gemaklik raak met boeke en dan moet jy elke geleentheid aangryp om hulle aan die wonders van stories bekend te stel.

2. Gee vir kinders boeke

Ouers vra gereeld raad omdat hul kinders nie wil lees nie. “En as ek vra of die kinders boeke het, is die antwoord in baie gevalle ‘nee’,” sê Jacobs.

Dis eenvoudig - as jy jou kind se innerlike boekwurm wil uitlok, is boeke die enigste lokaas wat gaan werk. En ja, boeke is duur en nie almal kan ’n boekrak vol bekostig nie. So wees daardie ouer of tannie of ouma wat vir elke verjaardagpartytjie en Kersfees boeke present gee.

“ ’n Boekrak in ’n kind se kamer is die perfekte oplossing vir daardie Ma-wat-kan-ek-doen?-tye.”

3. Gee kinders kans om self boeke te kies

Volwassenes se leessmaak verskil. Party van ons lees poësie of biografieë, ander verkies speurverhale of Mills & Boon. Daar is niks fout daarmee nie.

“Onthou dat jou kind se leessmaak reeds vroeg vorm kry, en respekteer dit. As jou jong leser op die oomblik grilstories, reeksboeke of liefdesverhale verslind, moedig dit aan en moenie kritiek daarop lewer nie,” sê hy.

Vir party kinders is dit bloot ’n leesfase, vir ander is dit die begin van ’n lewenslange liefde vir sekere subgenres. Wees dankbaar jy het ’n kind wat in boeke belangstel, selfs al is dit katalogusse en beloon ’n ywerige leser gereeld met ’n uitstappie na die boekwinkel of biblioteek.

4. Niefiksie werk fantasties vir trae lesers

Moenie vasstaar in fiksie nie. “Sukkelende of trae lesers word soms afgeskrik deur ’n lang storie met baie hoofstukke en bladsye. Probeer ’n niefiksieboek om jou kind se belangstelling te prikkel, en sy/haar vrees vir boeke af te skud,” sê Jaco.

As jou kind op die oomblik net in trekkers of perde belang stel, kry boeke oor die onderwerp.

5. Hou jou kind se leesvermoë in gedagte

As jou kind ’n leesagterstand het, gee vir hom/haar boeke met minder en eenvoudiger teks, maar met temas wat nie te kinderlik is nie en by sy/haar ervaringswêreld aansluit.

Baie uitgewers publiseer deesdae sulke hoë belangstelling/lae inhoud-titels spesiaal vir sukkelende lesers.

6. Humor is ’n wenner

Min beginner-lesers sal nié swig voor ’n boek wat hulle laat skater van die lag nie. Grappieboeke, rympieboeke en snaakse stories kan wondere verrig om die tandekners van ’n sukkelende of trae leser se leeservaring minder te maak.

7. Hou ’n storie-wortel voor jou kind se neus

“Almal hou van stories. As mens na ’n lekker, boeiende storie luister, móét jy eenvoudig weet wat volgende gebeur,” sê Jaco.

As jy jou kind se belangstelling in ’n boek wil prikkel, vertel wat in die eerste deel gebeur … en laat hy/sy dan verder lees om uit te vind hoe dit eindig.

8. Maak tyd vir lees

In vandag se gejaagde lewe is selfs laerskoolkinders se dag so vol met skoolwerk, huiswerk en buitemuurs, dat hulle beswaarlik tyd kan afknyp om te lees vir die pret.

Probeer skermtyd beperk om tyd in te ruim om rustig te lees. “Selfs al kan jou kind reeds self lees, is dit belangrik dat ouers saans tyd maak om ’n hoofstuk van ’n storie of ’n paar rympies saam te lees,” meen Jaco.

9. Stel ’n voorbeeld

Dis nie net kinders wat meer tyd moet afknyp om te lees nie – jy kan gerus self die voorbeeld stel. ’n Ouer wat vir ontspanning en genot lees, is die beste rolmodel wat enige jong boekwurm kan hê.

Kinders moet sien dat boeke nie net oor skoolwerk en slim word gaan nie, maar dat ’n mens vir die lekkerte lees. So, sit gerus saans jou foon of skootrekenaar neer en tel ’n boek op.

10. Word deel van die avontuur

Jou kind staan op die drumpel van ’n lewenslange leesavontuur. Word deel daarvan.

“Gesels oor die boeke wat jy kleintyd geniet het. Soek saam na opwindende nuwe boeke en skrywers. Praat met jou tienerkind oor boeke wat oor aktuele onderwerpe handel. Hou storieaande. Lees rympies hardop voor en luister na oudioboeke op die langpad,” sê hy.

Jaco Jacobs se nuutste boek, Kan ’n walvis winde los?
  • Jaco sê Afrikaanse kinderboeke kan maklik aanlyn gekoop word op www.graffitiboeke.co.za, www.loot.co.za en ook natuurlik by winkels soos Exclusive Books.
Meer oor:  Lees  |  Kinders  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.