Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
MacNab reik uit na seun met kanker
Francois Vorster (regs) het verlede jaar vir die eerste keer in die kompetisie onder sy pa, Hennie (middel), se leiding as gids opgetree. Hier is hulle by Louis Kernes (links), een van die jagters wat in 2018 ’n MacNab behaal het. Foto: Verskaf

Die gemeenskap van die Lady Grey-distrik in die Oos-Kaap gaan met hul 20ste Royal MacNab-jagkompetisie geld insamel vir die behandeling van ’n tienerseun wat onlangs met leukemie gediagnoseer is.

Francois Vorster het sy eerste vis op vyfjarige ouderdom gevang. Foto: Verskaf

Francois Vorster (16), ’n seun uit die gemeenskap, is op 16 Maart met akute limfoblastiese leukemie (ALL) gediagnoseer.

Hy is van kleins af lief om saam met sy pa, Hennie, een van die gidse in dié kompetisie, te jag en vis te vang. Hennie is ’n veeboer in die distrik.

Francois het verlede jaar vir die eerste keer in die kompetisie onder Hennie se leiding as gids opgetree, omdat hy 18 of ouer moet wees, sê sy ma, Charlene. Sy is ’n onderwyseres by die Lady Grey-kunsteakademie.

Louis Kernes, die jagter wat hulle in 2018 vergesel het, was een van twee deelnemers wat ’n MacNab behaal het.

Volgens Tersia Cock, sekretaresse van dié kompetisie, sal altesaam 25 jagters Saterdag probeer om tussen 06:00 en 18:00 ’n rooiribbokram en patrys te skiet en ’n forel te vang – wat bekend staan as ’n MacNab. Elke jagter jag op ’n ander plaas in die distrik en word deur ’n gids vergesel. Die forelle word in die Karringmelkspruit gevang.

Deur die kompetisie word lootjies teen R100 elk verkoop ten bate van die Francois Vorster-leukemiefonds.

Die gesin het net ’n hospitaalplan en Francois se behandeling gaan omtrent R1,5 miljoen kos, sê Charlene. Hulle gaan minstens 30% van dié koste moet dek, sê sy.

Die pryse vir die lootjietrekking is geborg. Die eerste prys is die jag van ’n koedoebul en drie nagte se verblyf vir ses mense naby Loskopdam in Mpumalanga.

Die trekking vind Saterdagaand plaas. Francois sal self die pryswenners trek.

Die wins van klere wat op die kompetisie verkoop word, sal aan die fonds geskenk word, asook die opbrengs van ’n veiling met geskenkte artikels.

Volgens Cock het MacNab voorheen al R20 000 vir die fonds gegee.

Die geld wat jaarliks deur die kompetisie ingesamel word, word aangewend om die gemeenskap te help, sê Cock.

Daar is min mense in die gemeenskap wat nie by MacNab betrokke is nie.

“Dit is maar ’n klein gemeenskap, almal ken vir almal – dis baie erg vir ons as so iets in die gemeenskap gebeur,” sê sy.

Francois, ’n gr. 11-leerling aan die Hoërskool Aliwal-Noord, bly sedert sy diagnose tuis. Sy ma het die skool geprys dat hulle tegemoetkomend is en sy skoolwerk vir hom huis toe stuur. “Dit knor, want hy het nie lus nie, hy voel nie lekker nie.”

Francois Vorster het sy eerste bok op sewejarige ouderdom geskiet. Foto: Verskaf

Hy is twee dae voor sy diagnose vir sinusitis behandel nadat hy moeg en koorsig was. Charlene sê die kanker is daarna deur toetse opgetel.

“Die dokter het vir hom gesê hy het die siekte al vir twee en ’n half weke gehad; 95% van sy bloed was vol kanker.”

Hy het reeds drie siklusse chemoterapie voltooi.

Sy 13-jarige suster, Esmarie, se beenmurg is tot 80% versoenbaar met syne en sy gaan as skenker optree.

“Ons het een wonderwerk op die ander beleef,” sê Charlene.

Sy en die kinders reis Woensdag na Pretoria vir voorbereidingstoetse voor die stamseloorplanting op 3 Julie.

Francois sal van 20 Junie, op sy 17de verjaardag, tot die oorplanting chemoterapie en bestraling kry.

Charlene sê die gesin is geseënd om in ’n “omgee-gemeenskap” te woon.

Meer oor:  Lady Grey  |  Kankerlyer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.