Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
‘Mama Fifi’ se groentetuin voed honderde

Haar groentetuin het klein begin, maar vandag voed sy honderde mense in haar gemeenskap.

Die doel van die groentetuin van Refiloe Molefe, oftewel “Mama Fifi” soos sy alombekend staan, is om armoede en hongerte in haar gemeenskap te help verlig.

Refiloe Molefe oftewel “Mama Fifi” het in 2006 ’n groentetuin in die besige middestad van Johannesburg begin om hongerte en armoede in die gemeenskap te help verlig. Foto: Brümilda Swartbooi

Vandag word honderde behoeftiges in die gemeenskap op Dinsdae en Donderdae met die kraakvars produkte uit die groentetuin in Bertrams in die besige middestad van Johannesburg gevoed.

Dis ook hoe die ma van sewe oor die jare ’n bestaan gemaak en selfs mense in diens geneem het.

Molefe het in 2006 die Bertrams Inner City Farm gestig nadat sy die nood in haar gemeenskap besef het.

Refiloe Molefe het nie formele opleiding in landbou nie. Sy sê haar passie vir plant het haar gemotiveer. Later het sy meer in slypskole geleer Foto: Brümilda Swartbooi

Sy sê sy het ’n kleuterskool uit haar dogter se motorhuis bedryf en gesien dat baie van die kinders nie ’n kosblik het nie, en sy het ook die nood vir gesonde kos geïdentifiseer.

“Ek het grootgeword sonder my ouers. Ek het ander weeskinders in die straat gesien en skielik besef ek moet iets aan my gemeenskap teruggee. Ek het toe klein begin, maar dit het steeds ’n verskil gemaak,” sê Molefe.

Sy het die kinders van die kleuterskool Precious Lilies genoem. Molefe het die Johannesburgse metro genader vir grond waar sy haar groentetuin kon begin.

Kraakvars produkte uit Refiloe Molefe se groentetuin. Foto: Brümilda Swartbooi

Die metro het die grond naby die Ellispark-stadion aan haar beskikbaar gestel mits sy waarde tot haar gemeenskap toevoeg.

“Dis belangrik om gesond te eet. Kos is medisyne. As jy goed eet, sal jy nooit siek wees nie. As jy ongesonde kos eet, sal jy gereeld siek word,” sê sy terwyl sy verby die mielies in die groentetuin stap.

Met Netwerk24 se besoek aan die tuin was daar spinasie, kool, mielies, tamaties en slaaiblare.

In die klein werkswinkel is daar pampoen, soetrissies, brandrissies, gedroogde speserye en verskillende groentesappe wat hoofsaaklik van spinasie en beet gemaak word.

Produkte uit die groentetuin voed Dinsdae en Donderdae honderde behoeftiges in die gemeenskap. Foto: Brümilda Swartbooi

Molefe sê sy het al verskeie kompetisies gewen, en die prysgeld is alles in die groentetuin en die verbeterings teruggeploeg.

Sy het later besluit om jongmense by die groentetuin te betrek. Dit was toe dat sy ’n vennootskap met die Universiteit van Johannesburg (UJ) gesluit het. Studente besoek die tuin sedert 2016 om praktiese ondervinding op te doen.

Molefe, wat nie formele opleiding het nie, sê sy leer baie by die studente.

“Ek weet hoe om te plant, maar ek het nie ’n akademiese agtergrond nie. Ek is ’n produk van slypskole en ek is steeds bereid om te leer.”

Sy sê passie was haar grootste dryfveer.

“As jy nie passie het nie, sal jy nooit iets doen nie.”

Meer oor:  Johannesburg  |  Groentetuin
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.