Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Man kry hulp uit motorfiets-gemeenskap ná winkel geplunder is

Die eienaar van ’n motorfietswinkel in Pinetown naby Durban wat in die onluste hier geplunder is, sê die ondersteuning van veral mense in motorfietskringe gee hom moed dat sy onderneming eersdaags kan voortgaan.

Rodney van Rooyen het sowat R1,2 miljoen se skade gely toe sy winkel, The Bike Shack, op 13 Julie geplunder is. Meer as 40 motorfietse en ander voorraad is gesteel en sy bakkie is voor die winkel aan die brand gesteek.

Hy sê nadat hy ’n paar video’s van die skade op Facebook geplaas het, het sy foon nie ophou lui nie.

“Mense het gebel om jammer te sê oor wat gebeur het, ander het gesê hulle kan finansieel bydra. Groepe motorfietsryers het geld ingesamel. Enigiemand wat iets met ’n motorfiets te doen het, wou op elke moontlike manier help,” sê hy.

The Bike Shack in Pinetown nadat die winkel in Julie geplunder is.

Mike Munro, eienaar van Drakensberg Enduro Tours en werknemer van Vermont Sales, is een van die mense wat ingespring het om te help. Munro is self ’n motorfietsryer en ken Van Rooyen al ’n ruk lank.

Drakensberg Enduro Tours het die afgelope naweek ’n motorfietsresies gehou, waarvan 20% van die inskrywingsgeld aan The Bike Shack geskenk is. Vermont Sales het gereedskap aan die winkel geskenk.

“Rodney is die tipe mens wat met motorfietse moet werk; dit is sy passie. As jou passie só vernietig word, is dit moeilik. Mense se ondersteuning het hom gewys dat hy nie alleen is nie en dat hulle wil hê hy moet voortgaan met sy werk weens sy goeie diens en interaksie met sy kliënte,” sê Munro.

“Ek weet hoe moeilik dit in hierdie land is vir besighede om te oorleef. Die ondersteuning help Rodney om te kan voortgaan.”

Rodney van Rooyen se bakkie is tydens die plundery voor sy winkel aan die brand gesteek.
Ek weet hoe moeilik dit in hierdie land is vir besighede om te oorleef. Die ondersteuning help Rodney om te kan voortgaan.

Die skenkings is nog nie genoeg om The Bike Shack weer heeltemal oop te kry nie, maar volgens Van Rooyen gee dit hom ’n kans om asem te skep terwyl hy die volgende stappe beplan.

“Ons het versekering, maar daar is tans ’n agterstand en daar is nog nie eens ’n assessor gestuur nie. Die skenkings help ons om ons rekeninge te betaal en vorentoe te beweeg totdat ons eise uitbetaal.”

Van Rooyen se personeel verdien intussen ’n inkomste deur by onder meer motorwerktuigkundiges te help.

Hy is ook van plan om The Bike Shack na ’n ander perseel te skuif.

“Ek het nie vertroue in die ou perseel nie en dink dis ’n risiko om daar te bly. Daar kleef ook nou ’n vibe aan die plek en ek weet nie of kliënte hul motorfietse weer hierheen sal wil bring nie,” sê hy.

“Ons moet vorentoe beweeg. Dit gaan moeilik wees, maar ek gaan al die moontlike doen.”

Hy hoop dat hy binne ’n maand die winkel weer gedeeltelik op ’n ander perseel sal kan oopmaak.

Meer oor:  Plundery En Geweld  |  Hulp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.