SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Leef
Man samel geld in met staptog langs kus

Ná drie mislukte pogings om sy eie lewe te neem en ’n draai in ’n rehabilitasiesentrum het ’n man van Knysna in die Wes-Kaap sy sielerus in die natuur gevind.

Ronnie Spies stap Dinsdag verby die bekende The Willows-vakansieoord in Port Elizabeth. Foto: Lulama Zenzile

Ronnie Spies (47), ’n voormalige pakhuis-assistentbestuurder van Johannesburg, meen daar is ’n onmisbare verwantskap tussen die natuur en ’n mens se geestestoestand, en daarom beoog hy om oor die volgende drie jaar die kus- en grenslyne van Suid-Afrika te voet te verken.

“Ná ’n maand op die pad kan ek reeds ’n verskil, ’n verbetering, in my geestestoestand voel,” het Spies Dinsdag in Port Elizabeth gesê.

Hy het Donderdag die stad by Maitlandstrand binnegekom, nadat hy op 8 September met sy staptog vanuit Coney Glen, Knysna, begin het. Hy het die afgelope maand reeds sy eerste paar stapstewels flenters geloop.

“Tot dusver was die Tuinroete verreweg die moeilikste deel om te stap. Hoewel dit so ’n mooi gebied is, was daar vreeslik baie op- en afdraandes. Die verskillende paaie langs die kus wat my laat verdwaal het en net so 3 km ’n dag laat vorder het, was ook moeilik om te verwerk,” erken hy.

Maar benewens sy eie geestestoestand waaraan Spies werk, hoop hy om op die staptog van sowat 6 000 km onder die vaandel van die Walking Free-stigting geld in te samel vir sy bewusmakingsveldtog oor geestesgesondheid en omgewingskwessies.

“Ek is nie haastig nie. Ek het myself tot 2022 gegee om die roete te voltooi, maar wanneer ek klaar gestap het, is my plan om ’n stuk eiendom te koop en ’n sentrum vir die jeug op te rig.

“Die Walking Free-stigting is gestig met die doel dat trustlede tydens my staptog geld help insamel en sakeondernemings kry om betrokke te raak, sodat ons kort hierna die jeugsentrum kan oprig.”

’n Rugsak en sy tent is al wat Ronnie Spies as geselskap tydens sy sowat 6 000 km-staptog het. Foto: Lulama Zenzile

Volgens hom is daar ’n tekort aan sentrums wat tieners met drank- en dwelmrehabilitasie, asook geestestoestande, help.

“Uit my ervaring was daar meer as 1 000 mense by die rehabilitasiesentrum (waar hy behandel is). Van die kinders daar het gesê dit is al die vyfde of sede keer dat hulle daar is. Dit wys mos die sentrums werk nie.”

Ronnie Spies maak gereed om kuslangs tot by die Kaap Recife-strand te stap. Foto: Lulama Zenzile

Hy meen ’n kleiner, meer gefokusde sentrum, wat rondom die omgewing gesentreer is en waar mense met hul hande werk en spanwerk ervaar, kan hulle in die rigting van ware rehabilitasie help.

“Rehabilitasie is soos enigiets anders – jy moet ’n besluit neem om werklik te wil verander. Ek glo dié besluit kan kom wanneer mense meer in kontak met die natuur is.”

Hy het mense uitgenooi om hom langs die pad voor te keer indien hulle oor verslawing of hul geestestoestand wil praat.

“Ek het al agtergekom dit help om met mense hieroor te praat. Aan die begin was dit moeilik, maar ’n eerlike gesprek van my kant af laat ander mense gewoonlik op hul gemak voel en dan kan die gesprek vloei.”

Spies beoog ook om op sy reis motiveringspraatjies by skole te lewer.

Hy sal Woensdag vanuit Blouwaterbaai in die rigting van Canon Rocks verder stap.

Meer inligting oor die stigting is op die Walking Free-Facebook-blad beskikbaar.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.