Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Marnus (11) vermurwe harte met sy kwêla

Hy het maar so onder die tafels by die Boeremusiekgilde grootgeword, sê Tienie Joubert oor sy seun Marnus (11), wat diep in die harte van Parysenaars en besoekers aan dié dorp gekruip het.

Met dié penniefluitjie het Marnus Joubert (11) vir sy gesin ’n nuwe toekoms oopgespeel. Foto: Alet van der Walt

Die gesin se lot het mense se harte aangegryp nadat iemand gesien het hoe Marnus op straat penniefluitjie speel vir ’n inkomste en Jacaranda FM op sy program Good Morning Angels vir hulle geld ingesamel het.

Marnus se musiektalent het nie net in moeilike tye kos op die tafel gesit nie; danksy dié bewusmaking het Joubert nou ’n aanbod vir werk gekry en die toekoms lyk weer rooskleurig.

Ma Rianda sê die hulp wat hulle van mense kry, is ongelooflik.

Die Joubert-gesin het ’n jaar gelede na Parys verhuis nadat Joubert sy werk in Rustenburg verloor het.

Daar moes hulle stuk-stuk hul besittings verkoop om te oorleef en hoewel Joubert en Rianda in Parys werk gekry het, was dit kortstondig. Hulle was maande lank dakloos en aangewese op ander se hulp en ondersteuning.

Geloof dra hulle deur die moeilike tye, sê Rianda.

Intussen het die Pinkster Protestante Kerk gesoek na musikante vir die kerk se erediens en Joubert maak nou daar saam met vriende musiek.

Die gesin is behoorlik uit musiektalent aanmekaar gesit.

Ons is deur diep waters. Marnus is erg geboelie op Rustenburg en ons het swaargekry die afgelope jaar.
Marnus Joubert (11) kan al vier musiekinstrumente bespeel. Hier speel hy klavier. Foto: Alet van der Walt

Joubert speel tromme en kitaar en is al jare lank by die Boeremusiekgilde betrokke, Rianda het ’n stem soos ’n nagtegaal, Marnus is besig om sy vierde musiekinstrument te bemeester en Cilliers, die egpaar se jongste, begin self al op die klavier tokkel.

Marnus het tussen die groot honde van die boeremusiekwêreld grootgeword. Mense soos Paul Roodt, Ricus Nel en dié se oom, wyle Kassie Nel, het almal bygedra om sy musiektalent te ontwikkel.

Ouma Ansie van Rustenburg, soos Marnus haar noem, het hom geleer tamboeryn speel. Dié vrou, wie se van hy nie ken nie, is sy musiek-ouma.

Die Joubert-gesin is vol musiektalent. Hier speel Cilliers (8) klavier, terwyl Marnus, Tienie en Rianda toekyk. Foto: Alet van der Walt

Rianda vertel sy verjaar op 3 Januarie en Marnus, wat toe net begin het om met sy penniefluitjie voor mense te speel, het gesê hy wil geld bymekaar maak sodat hulle haar kan bederf.

Marnus het die dag met sy vrolike penniefluitjie-deuntjies genoeg geld bymekaar gemaak dat pa en seuns lekkerruikgoed, ’n verjaardagkoek en nog geskenkies kon koop.

Vir Rianda was dit ’n moeilike tyd omdat haar suster kort tevore haar eie lewe geneem het en die drie “manne” wou dit vir haar ’n spesiale dag maak.

Rianda sê mense het hulle al veroordeel omdat Marnus vir hulle moet sorg, maar Joubert het nie vir Marnus aangemoedig om vir geld te speel nie. Hy wou hê Marnus moet selfvertroue ontwikkel om voor mense op te tree en dit is waar alles begin het.

Marnus en sy pa, Tienie Joubert, speel die 'Kalfiewals'. Foto: Alet van der Walt

Deesdae is die geld Marnus se eie en hy het die afgelope naweek pizzas en ander lekkernye vir hom, Cilliers en nog maats gekoop.

Die ander geld word gespaar omdat Marnus graag nog musiekinstrumente wil koop.

Hy wil eendag die saksofoon bemeester en een van die liedjies wat hy in Parys vir mense speel, is sy eie komposisie.

Hy noem dit “Marnus se kwêla”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.