Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Matriek is ene ‘kiffness’ in geleende pak by afskeid
David Scott (links), stigter en sanger van The Kiffness, staan by Jonathan Bouwer (18), wat die rooi blommotiefpak aan het wat Scott vir hom geleen het.

Almal wil ’n jas hê wat netjies pas, maar in dié geval was dit ’n gr. 12-leerling van die noordelike voorstede van Kaapstad wat ’n rooi blommotiefpak van The Kiffness se stigter en sanger, David Scott, wou hê.

Jonathan Bouwer (18) van die Hoërskool Stellenberg het Maandag gesê hy volg Scott en sy groep se musiek al ’n geruime tyd en is ’n groot aanhanger. The Kiffness is veral bekend vir hul satiriese musiekvideo’s.

Bouwer het gesê toe die skool bevestig dat hul matriekafskeid wel gehou gaan word, wou hy iets anders as ’n gewone pak kry. Hy het wel na ’n paar winkels gegaan om na pakke te kyk, maar het niks gevind wat hy van gehou het nie. “Ek het daardie dag in my kamer gesit en na my Instagram-profiel gekyk en gesien David het ’n foto gelaai waarop hy die blommotiefpak dra. Ek het geweet dit is die pak wat ek wil dra en het besluit om vir hom ’n boodskap te stuur. Ek het niks gehad om te verloor nie.”

Scott het gesê hy het op 10 Oktober toevallig na sy private boodskappe op Instagram gekyk, iets wat hy selde doen.

Hy het Bouwer se boodskap gesien en dadelik ingestem om sy pak vir hom te leen.

Die boodskap wat Jonathan Bouwer aan David Scott op Instagram gestuur het.

“Sy boodskap was baie nice en hy het soos ’n redelike ou geklink,” het Scott gesê.

Reëlings is dadelik getref sodat Bouwer die pak kan aanpas. Scott was bang die pak sou nie pas nie, omdat Bouwer ’n kranige fietsryer is en hul liggaamsbou nie dieselfde is nie.

“En daar pas die pak toe en om eerlik te wees, dit lyk toe beter aan hom,” het Scott laggend gesê.

David Scott in die pak wat hy in 2017 in Viëtnam laat maak het.
Jonathan Bouwer al pronkend in sy geleende “kiff” pak.
Jonathan Bouwer blom behoorlik in sy geleende pak, wat mooi by Liz Oliver se rooi matriekafskeidrok pas.

Bouwer het nie vir sy vriende van die pak vertel nie omdat hy almal wou verras, veral Liz Oliver, saam met wie hy na die afskeid gegaan het.

Sy het toevallig ’n rooi rok gedra, wat by die pak gepas het.

“Toe ons aankom by die afskeid het almal na die pak gekyk en daarvan gehou. Hulle wou my nie glo dat ek dit by The Kiffness geleen het nie, maar hulle het gou op sosiale media gaan kyk en besef dit is David se pak,” het Bouwer gesê.

Scott het gesê die pak moet raak soos die paar jeans in die Amerikaanse rolprent The Sisterhood of the Traveling Pants, maar in dié geval sal dit “The Brotherhood of the Travelling Flower Suit” wees en mense wat ’n pak nodig het, kan dit gebruik.

Scott en sy vrou, Juta, was in 2017 in Viëtnam om hul tweede huweliksherdenking te vier en het die pak daar laat maak. Hy dra dit gereeld vir opvoerings.

Bouwer, ’n kranige fietsryer, beplan om volgende jaar na Europa te reis om internasionaal mee te ding.

Meer oor:  David Scott  |  Jonathan Bouwer  |  Matriekafskeid  |  The Kiffness
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.