Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Matrieks groet voordat hulle na Antarktika vertrek
Kelby Barker loer by haar venster in die Table Bay Hotel in Kaapstad uit. Foto: Jaco Marais

Gepantser teen die koue is vyf matrieks slaggereed om saam met die avonturier Riaan Manser op ’n Russiese vliegtuig na Antarktika te vertrek.

Cobus Burger van die Hoërskool Duineveld in die Noord-Kaap, Ayakha Melithafa van die Sentrum vir Navorsing oor Wetenskap en Tegnologie in die Wes-Kaap, Boiketlo Lamula wat aan die Sedaven High School in Heidelberg in Gauteng gematrikuleer het, Thea Earnest van die Mountview Secondary School in KwaZulu-Natal en Kelby Barker van die Diocesan School for Girls in die Oos-Kaap vertrek Woensdag saam met Manser na Antarktika.

’n Aanlyn geleentheid is Dinsdag gehou om hulle te groet.

“Dit is ’n geleentheid wat julle nooit sal vergeet nie, so maak die meeste daarvan,” het Felicity Purchase, burgemeesterskomiteelid vir vervoer, aan die groep gesê.

Ian Neilson, onderburgemeester van Kaapstad, het die groep ook sterkte toegewens.

Thea sê sy kan nie wag om te vertrek nie.

“Ek is baie dankbaar vir die geleentheid. Dit gaan nogal snaaks wees om myself te sien akklimatiseer, maar ek is opgewonde.”

Manser het verlede jaar die projek Matrics in Antarctica bekend gestel nadat talle van sy ekspedisies weens die koronaviruspandemie in die slag gebly het.

Hy moes ’n nuwe projek beplan nadat die pandemie die nuwe reeks van die M-Net-avontuurprogram The Odyssey einde verlede jaar in die wiele gery het.

Daarom het hy matrikulante van oor die land heen genooi om in te skryf vir dié avontuur.

Die matrikulante moes in 100 woorde of minder sê hoe die ontdekkingsreis hulle gaan help om ’n groener, meer volhoubare bestaan op aarde te voer.

Ek is baie dankbaar vir die geleentheid. Dit gaan nogal snaaks wees om myself te sien akklimatiseer, maar ek is opgewonde.

Manser het saam met Fadli Wagiet, ’n onderwyskundige aan die Universiteit Stellenbosch (US), en Maryke Musson, uitvoerende hoof van die Twee Oseane-akwarium, 100 matrikulante uit al die inskrywings gekies en toe 50. Die tien top-inskrywings is in Desember aangekondig.

Prof. Jonathan Jansen, verbonde aan die US, sal die span as beskermheer van Matrics in Antarctica lei.

Die groep vertrek Woensdag omstreeks 07:00 en die reis sal ’n week duur.

Manser sê die reis fokus op omgewingsopvoeding en verryking, asook die verkenning en die ontwikkeling van toekomstige leiers met ’n sterk omgewingsetos.

“Die groep sal uitgedaag word om oplossings vir omgewingskwessies soos besoedeling, waterskaarste, voedselsekuriteit en volhoubare energiebronne te vind terwyl die welstand van mense en die planeet in ag geneem word.”

Hy sê die matrieks sal ook die geleentheid kry om eksperimente te doen.

“Hulle sal onder meer die varswater van Antarktika ontleed en die biodiversiteit bestudeer, sowel as fisiologiese ondersoeke doen oor hoe die liggaam op die ysige toestande reageer.”

Die vyf matrieks moes hulself nege nagte in die Table Bay Hotel in die V&A Waterfront in Kaapstad isoleer voordat hulle na Antarktika vertrek.

Jannette Horn, hoof van volhoubaarheid vir Sun International, sê hul volhoubaarheidsbeleid is deel van al hul sakebedrywighede en hulle evalueer voortdurend die impak wat hulle op plaaslike gemeenskappe, die omgewing en die veiligheid van hul gaste en werknemers het.

“Dit was belangrik dat die leerlinge, terwyl hulle in die hotel was, besef dat ’n mens se koolstofvoetspoor bepaal word deur daaglikse keuses soos die kos wat jy eet, water wat jy drink, klere wat jy dra en die elektronika wat jy koop.”

Volgens Manser sal die groep ook die Queen Maud-gebied verken, die nabygeleë Russiese navorsingstasie besoek en die rotsformasies bekyk.

“Met 24 uur se sonlig sal hulle ook genoeg tyd hê vir lekker aktiwiteite soos ystennis.”

Manser sê die groep sal terugkeer met ’n baie groter begrip van hul impak op die wêreld en hoe hulle hul gemeenskappe kan inspireer om saam te werk om hul koolstofvoetspoor te verminder en sodoende ’n beter omgewing vir almal te skep.

Meer oor:  Antarktika  |  Riaan Manser
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.