Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Meeste nog durf Klipspringer by Augrabies aan

Die meeste inskrywings nog is vir vanjaar se Augrabies-Waterval-Klipspringer-uitdaging ontvang wat verlede naweek in en om die ongerepte landskap van die Augrabies- Nasionale Park in die Noord-Kaap plaasgevind het.

Volgens Warren King, organiseerder, het 200 atlete aan die Klipspringer en die Klipspringer Lite deelgeneem.

Met verlede jaar se uitdaging wat weens die Covid-19-pandemie afgestel moes word, sê King dat hulle aanvanklik gewik en weeg het of dit vanjaar moet plaasvind.

“Ons is baie bly ons het met die uitdaging voortgegaan,” sê hy.

Volgens hom het deelnemers uit veral Gauteng en die Wes-Kaap na die Noord-Kaap opgeruk en só ondernemings in die provinsie ondersteun.

“Deelnemers vanuit die rigting van Gauteng was bekommerd oor die protesoptrede wat in onder meer Jan Kempdorp, Warrenton en Kimberley aan die gang was, maar daar was gelukkig geen voorvalle nie.”

Omdat die uitdaging nie verlede jaar weens die pandemie aangebied kon word nie, was dit vir hom ’n verrassing om ná meer as ’n jaar by die Augrabies- Nasionale Park op te daag en te sien watter positiewe verskil Angela Isaks, parkbestuurder, maak.

Madeleine Vorster (voor) en Amanda Geldenhuys geniet die Klipspringer Lite Challenge op Sondag 2 Mei by die Augrabieswaterval- Nasionale Park.Foto: Anena Burger
Elzanne van der Linde van Upington het ook Sondag 2 Mei aan die Klipspringer Lite Challenge deelgeneem. Die gesogte wedloop het vanjaar 200 deelnemers van oor die land heen na die Augrabieswaterval- Nasionale Park getrek.Foto: Anena Burger
Johan van Schalkwyk van Kimberley konsentreer om mooi te trap by Ararat se steil afdraendes in die Augrabieswaterval- Nasionale Park tydens die Klipspringer Lite Challenge wat Sondag 2 Mei hier plaasgevind het.Foto: Anena Burger
Hou bene hou! Wilmie de Jongh van Upington beur teen 'n opdraende uit by Ararat in die Augrabieswaterval- Nasionale Park tydens die Klipspringer Lite Challenge op Sondag 2 Mei.Foto: Anena Burger

Isaks is begin 2020 as die nuwe bestuurder aangestel. Hy loof ook die samewerking wat die organiseerders van haar ontvang het.

“Die swembaddens was byvoorbeeld nog nooit so blou nie. En oral in die park is verbeterings sigbaar.”

King sê dat Covid-19-regulasies voor en tydens die uitdaging nougeset gevolg is en dat hulle unieke reëlings in plek gehad het.

Deelnemers moes by die wegspringpunt maskers aanhê en kon dit eers afhaal toe hulle in die oopte verder van mekaar was.

By waterpunte moes elke deelnemer sy of haar eie glasie of beker verskaf. Handreiniger is ook by dié punte beskikbaar gestel.

Die inligtingsessie, wat voorheen die aand voor die aanvang van die uitdaging in ’n lokaal aangebied is, is op video opgeneem en elektronies aan deelnemers verskaf.

Daar was ook geen amptelike prysoorhandigingseremonie nie.

Selfs die weer het saamgespeel. King sê die oggende was koel en vars. Saterdag het die temperatuur nie hoër as 26° C gestyg nie, en Sondag nie hoër as 30 °C nie.

Die Klipspringer bestaan uit ’n roete van ongeveer 65 km, waarvan sowat 32 km op die eerste dag gedoen word en 33 km op dag twee.

Die Klipspringer Lite strek oor ’n afstand van ongeveer 40 km, met onderskeidelik en ongeveer 21 km en 18 km oor die twee dae.

Dag een se roete het op die noordelike oewer van die Oranjerivier naby die Khamkirri-oord net buite die park begin en geëindig.

Dag twee se roete het aan die suidelike kant van die rivier by die park begin en oorvleuel met die Klipspringer-staproete wat gewoonlik oor drie dae aangepak word.

King is dankbaar vir borge wat hulle uitstekend ondersteun het.

Die manswenner in die Klipspringer is Philip Pierre du Toit Jordaan, wat die afstand van 65 km oor twee dae in 06:15:51 voltooi het. Johan Visser was tweede (06:56:53) en Vaughan Emslie derde (07:00:07).

Die vrouewenner in die 65 km-roete is Karine Bezuidenhout (06:46:08). Tweede was Nicolette Griffioen (07:07:26) en derde Mandy Albertyn (08:57:20).

In die Klipspringer Lite – oor ’n afstand van ongeveer 40 km oor twee dae – was Conrad Strauss eerste in die mansafdeling in ’n tyd van 03:06:59. Pieter Laubscher was tweede (03:20:52) en John Rae derde (03:24:44).

Die eerste vrou in die Klipspringer Lite was Kate Nugent (03:54:04), tweede was Lizil Knoester (04:01:54) en derde Leonie Jacobs (04:02:13).

Meer oor:  Klipspringer  |  Augrabies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.