Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Mej. Heelal wil help om skool in haar tuisdorp te bou

Elke kind het die reg op ’n blink toekoms en dis hoekom Mej. Heelal, Zozibini Tunzi, wil help om ’n skool in haar tuisdorp, Tsolo, te bou.

Tunzi, sê die Oos-Kaap is elke jaar een van die provinsies wat akademies die swakste vaar.

“Ek wil help om ’n skool te bou in my tuisdorp. Ek het daar grootgeword en die uitdagings gesien waardeur leerlinge moes gaan om onderrig te ontvang. Geboue en klaskamers is fundamentele elemente vir leeromgewings. As leerlinge nie ’n dak bo hul kop het nie, plaas ons onsself alreeds op die pad van mislukking.”

Zozibini Tunzi, Mej. Heelal, met haar tuiskoms Saterdag by die O.R. Tambo-lughawe.Foto: Brümilda Swartbooi

Tunzi het Saterdagoggend by die O.R Tambo-lughawe in Johannesburg geland. Tunzi sê sy het oorgeloop van blydskap om weer op eie bodem te wees en van oor tot oor geglimlag.

Sy was Sondag bedrywig in Tsolo. Sy het die onthulling van ’n muurskildery bygewoon, is vermaak deur danspassies en het ’n bord tradisionele kos geniet.

Dit was vir Tunzi belangrik om haar tuisdorp te besoek, want sy wil graag die jeug inspireer en hulle herinner hulle is in staat om hul drome te bereik.

Dié jong vrou van die klein Oos-Kaapse dorpie het die afgelope twee maande, sedert sy op 8 Desember as Mej. Heelal gekroon is, baie gedoen, tot so ’n mate dat haar lewe radikaal verander het.

Sy het onderhoude gehad op die grootste televisieplatforms, met ander bekendes kennis gemaak en na plekke gereis waar sy nog nooit was nie.

“Ek dink nie my lewe sal ooit weer dieselfde wees nie. Die platform van Mej. Heelal het my wildste drome oortref. Ek het nog nooit die geleentheid gehad om te reis nie en ek het onlangs na Indonesië gegaan. Ek het vir dr. Phumzile Mlambo-Ngcuka, uitvoerende direkteur van United Nations Women, ontmoet, ’n vrou wat ek as ’n jong meisie bewonder het,” sê Tunzi.

Die meeste van Tunzi se tyd bestaan nou uit onderhoude, want sy verteenwoordig die Mej. Heelal-organisasie.

“Ek dink my kragtigste instrument as Mej. Heelal is my stem en ek wil seker maak dat ek die platform op ’n verantwoordelike manier gebruik om te praat oor sake wat die naaste aan my hart is en kwessies wat die wêreld raak,” sê sy.

Haar boodskap aan vroue wat oorweeg om vanjaar vir Mej Suid-Afrika in te skryf is om dit te doen, want hulle het niks om te verloor nie.

Ek dink nie my lewe sal ooit weer dieselfde wees nie. Die platform van Mej. Heelal het my wildste drome oortref.

Nog ’n vol program wag op Tunzi dié week. Sy en haar ma, Philiswa Nadapu, besoek Maandag Tunzi se ou laerskool, die Canaan Academy in Dutywa. Talle van haar destydse gr. 1- en gr. 2-klasmaats gaan haar by die skool verwelkom.

Die strate van Johannesburg sal Donderdagoggend, 13 Februarie, heelwat plesieriger wees wanneer Tunzi op ’n bustoer deur die stad gaan. Die roete moet nog aangekondig word.

Later die dag vlieg sy na Kaapstad waar sy ’n eregas van pres. Cyril Ramaphosa sal wees wanneer hy sy staatsrede in die parlement lewer.

Op Valentynsdag, Vrydag 14 Februarie, word ’n straatparade in Kaapstad ter ere van Tunzi gehou. Dié roete moet ook nog aangekondig word.


Meer oor:  Zozibini Tunzi  |  Oos-Kaap  |  Mej. Heelal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.