Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Mej. Planeet se wens is om andere te help
Deelnemers aan die pret-afdeling op die Outeniqua Wheelchair Challenge (OCC) Saterdag in George.Foto: Desmond Scholtz

Haar wens is om ander te help, sê Monique Best (19), Mej. Planeet 2019, wat Saterdag nie net medaljes by die Outeniqua Wheelchair Challenge (OCC) oorhandig het nie, maar ook gehelp het om geskenksakkies vir die atlete te pak.

Monique Best (regs) help geskenksakkies pak by die Outeniqua Wheelchair Challenge (OCC).Foto: Desmond Scholtz

Die internasionale rolstoelwedren, die enigste in sy soort in Suid-Afrika, is Saterdag in George in die Suid-Kaap gehou waar 463 atlete van so ver soos Zimbabwe en Ghana deelgeneem het. Die oudste deelnemer was 86 en die jongste 12.

Johan van Rensburg van Benoni het die 42 km-wedren gewen. Dit was die eerste keer dat hy deelgeneem het. Daar was ook ander afstande en ’n pret-afdeling.

Mej. Planeet 2019 se organiseerders het op hul Facebookblad laat blyk dat dit ’n groot eer vir hulle is dat Best na die wedren genooi is. Behalwe vir haar ander take by die OCC het Best ook gehelp met die registrasie van deelnemers.

Volgens haar was dit ’n belewenis om die atlete in aksie te sien. “Dit laat ’n mens se oë oopgaan en het net weer vir my gewys enigiets is moontlik as jy jou daartoe verbind.”

Monique Best (regs) by Zach Rauch-Legward (12) van Pretoria, die wenner van die 10 km-wedren van die Outeniqua Wheelchair Challenge (OCC). By hulle is Sean Snyman (links), burgemeesterskomiteelid vir maatskaplike ontwikkeling van die George-munisipaliteit.Foto: Desmond Scholtz

Sy sê dit was vir haar ’n hoogtepunt om vir Alwyn Uys, ’n voormalige rugbyspeler van die Sharks Akademie en Maties, wat ná ’n motorongeluk in 2014 verlam gelaat is, te ontmoet. Hy is die eerste parapleeg wat vanjaar aan die moordende Ironman-kompetisie deelgeneem het.

“Hy is ’n voorbeeld en ’n rolmodel vir baie.”

Best, wat ook Mej. Junior Tiener Suid-Afrika 2017 was, is soos Demi-Leigh Nel-Peters, voormalige Mej. Heelal, ’n oudleerling van die Hoërskool Outeniqua (Kwaggas) in George. Sy is in Maart vanjaar in Kambodja as Mej. Planeet 2019 gekroon.

Sy vertrek binnekort na die buiteland as Mej. Planeet om mense bewus te maak van kwessies soos besoedeling en klimaatsverandering.

Meer oor:  Skoonheidskompetisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.