Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Mej. SA: Ontmoet Gauteng se mooistes

Gauteng het vanjaar vier finaliste in die toptien-groep van die Mej. Suid-Afrika-kompetisie. Onder hulle is ’n vlieënier, mediese dokter en vroue wat hul eie ondernemings het.

Die vier finaliste van Gauteng in die Mej. SA-kompetisie is (van links) Tiffany Francis, Moratwe Masima, Cheneil Hartzenberg en Kgothatso Dithebe. Foto: Indirect Media

Die een kan nie kos maak nie, die ander het al op die loopplank geval, nog ’n finalis het al in ’n muur vasgeloop en haar tande gekraak, en een van die Gautengers sê Kaapstad is een van haar gunstelingplekke.

Cheneil Hartzenberg (24) van Meredale in Johannesburg is ’n kommersiële vlieënier en werk as ’n senior vluginstrukteur in ’n bestuursrol by ’n vliegskool. Sy het verlede jaar ’n kursus in digitale bemarking aan die Universiteit van Kaapstad aanlyn voltooi en werk tans vir haar lisensie vir lugdiensvervoer.

Hartzenberg het haar ook in 2019 vir die Mej. SA-kompetisie ingeskryf, maar het nie tot die volgende ronde deurgedring nie.

“Die afgelope twee jaar het ek baie gegroei en voel nou gereed om die geleentheid aan te gryp,” sê sy.

Cheneil Hartzenberg (24) is ’n kommersiële vlieënier. Foto: Verskaf

Die land se ryk kultuur en die nasie se veerkragtigheid is enkele aspekte wat haar trots maak om ’n Suid-Afrikaner te wees.

“Ek is mal oor ons land se landskappe. Dis mooi om in ons eie land met vakansie te gaan,” sê sy.

“Ek het al nege provinsies besoek. Daar is geen ander plek soos ons huis nie en dit maak my so trots om ’n Suid-Afrikaner te wees.”

Kaapstad is een van haar gunsteling-bestemmings.

Cheneil Hartzenberg saam met haar ouers, Neil en Cheryl. Foto: Verskaf

Sy het familie wat in die Moederstad woon by wie sy en haar ouers elke jaar oor Kerstyd gaan kuier.

Hartzenberg se ouers is vanjaar 27 jaar getroud en sy is hul enigste kind.

“My ouers het my nog altyd geleer om nederig te wees en om ander mense te respekteer en lief te hê.”

Moratwe Masima (25) van Sandton is ’n dokter wat met haar eerstejaar-internskap in die Charlotte Maxeke-hospitaal besig is. Sy is ’n aspirant- plastiese en rekonstruktiewe chirurg.

Moratwe Masima (25) is ’n mediese dokter. Foto: Verskaf

Masima skerts dat sy nie die beste kok is nie, daarom geniet sy veral haar ma se kos.

“Wat ook al sy maak, is absoluut my gunsteling. Wanneer ek by die huis kuier, sit my ma gewoonlik ’n tuisgebakte brood saam met ’n bredie voor,” sê sy.

“Op moeilike dae is ’n tuisgekookte ete presies wat ek nodig het.”

Sy is die oudste van drie kinders, en het ’n 23-jarige broer en ’n 16-jarige suster.

“Ek het grootgeword in ’n baie gewone Suid-Afrikaanse huishouding. Ek het buite gespeel, fietsgery en boom geklim,” sê sy.

“Ek dink dit is regtig iets wat my gehelp het om ’n afgeronde persoon te wees.”

Moratwe Masima (links voor) saam met haar pa, Tebello (heel agter), haar ma, Hopolang (middel voor), haar suster, Reabetswe (regs agter), en haar, broer Morapedi (regs voor). Foto: Verskaf

Die Masima-gesin hou daarvan om deur Suid-Afrika te reis en dit het haar aan baie plekke in die land blootgestel.

Masima was 13 jaar oud toe sy in ’n klaskamer vol leerlinge in die muur vasgeloop en haar voortande gekraak het. Sy beskou dié oomblik as een van die grootste verleenthede in haar lewe en tandartse moet tot vandag toe nog soms aan haar voortande werk.

“Ek het daai dag só gehuil, want ek was nog altyd iemand wat mal daaroor is om te glimlag. Dit was traumaties om nie te kon glimlag nie,” sê Masima.

Kgothatso Dithebe (26) van Centurion is ’n LLB-student en bestuur ook haar eie onderneming, wat by die verskaffing van goedere en dienste aan die konstruksiebedryf betrokke is.

Die manier hoe vroue mekaar bemagtig en opstaan vir mekaar, is van die dinge wat haar goed laat voel om ’n vrou te wees.

Vroue se krag, stem en hoop maak haar ook trots om ’n vrou te wees.

“Ons hou letterlik die mes aan die skerp punt.”

Kgothatso Dithebe (26) van Centurion. Foto: Indirect Media

Sy is in Mahikeng in Noordwes gebore, maar het in 2001 saam met haar ouers na Centurion verhuis. Sy en haar gesin is mal oor sport en hou daarvan om oefeninge te doen. Sy het ’n 17-jarige broer.

Dithebe speel graag netbal en geniet dit om kos te maak.

Haar gunsteling-kos is onder meer stampmielies en bredie.

“Ek hou van goed gegeurde kos en ek glo ek maak die beste bredie. Ek oefen nog die stampmielie-resep wat my ma my geleer het – ek sal dit nog regkry.”

Sy skerts ook dat sy vol vertroue is dat sy baie goed kan dans, hoewel ander nie so dink nie.

Tiffany Francis saam met haar ouers, Bernadette en Wayne. Foto: Verskaf

Tiffany Francis (22) van Mulbarton in Johannesburg is die eienaar van Tiffany K Models. Sy is ook ’n professionele model en student in mode-ontwerp.

Suid-Afrikaners se potensiaal en talente maak haar ’n trotse burger van dié land.

“Deur my onderneming word ek blootgestel aan die verskillende persoonlikhede, talente en potensiaal wat ons in die land het. Ons is regtig in staat om ons eie geleenthede te skep en platforms te bou,” sê Francis.

Tiffany K Models fokus op die gebruik van modelwerk as ’n instrument om vertroue by jong mense in te boesem, terwyl hulle hul vaardighede ontwikkel.

Tiffany Francis saam met haar gesin. Van links is haar ma, Bernadette, haar pa, Wayne, haar kleinboet, Liam, en haar broer Cole. Foto: Verskaf

Sy het twee jonger broers van onderskeidelik vier en 19 jaar oud, en kyk graag saam met haar gesin flieks en geniet veral komedies.

“Dit is ongelooflik om op dié manier saam tyd deur te bring en springmielies te eet. Enige tyd wat ons net kan lag en ’n goeie oomblik saam kan hê, is die kosbaarste.”

Volgens Francis is sy geneig om oor alles en nog wat te val – “selfs oor plat oppervlakke”.

Sy het al op een geleentheid drie keer ná mekaar op die loopplank in nuwe spykerhakskoene geval.

“Ek het dit net afgelag, maar ek het baie daaruit geleer.”

Meer oor:  Mej. Suid-Afrika  |  Finaliste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.