Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Mej. Supranasionaal, hier kom SA!
Zozibini Tunzi, Mej. Heelal, en Sasha-Lee Olivier, Mej. SA, nadat Tunzi Mej. Heelal geword het.

Suid-Afrikaanse skoonhede sal van vanjaar af nie net op die Mej. Heelal- en Mej. Wêreld-verhoë meeding nie, maar ook in ’n derde internasionale kompetisie, Mej. Supranasionaal.

Die topdrie van die Mej. SA-kompetisie sal aan dié internasionale kompetisies deelneem en die organiseerders sal kies wie na watter een gaan.

“Die eerste Mej. Supranasionaal-kompetisie het in 2009 in Pole begin met 40 lande van oor die wêreld heen. Daar is nou meer as 80 deelnemers van elke vasteland,” lui ’n verklaring van die Mej. SA-organisasie.

“Suid-Afrika het al voorheen deelnemers gestuur, maar dit sal die eerste keer onder die vaandel van die Mej. SA-organisasie wees.”

Voorheen het die betrokke jaar se Mej. Suid-Afrika gekies of sy aan die Mej. Heelal- of Mej. Wêreld-kompetisie wil deelneem. Die eerste prinses sou dan aan die ander kompetisie deelneem.

Verlede jaar het Zozibini Tunzi Suid-Afrika op die Mej. Heelal-kompetisie verteenwoordig en die titel verower, terwyl die eerste prinses, Sasha-Lee Olivier, na die Mej. Wêreld-kompetisie gegaan het. Nou gaan die tweede prinses egter óók aan ’n internasionale kompetisie deelneem.

Stephanie Weil, uitvoerende hoof van die Mej. SA-organisasie, sê hulle is bly dat ’n derde finalis nou op die internasionale verhoog kan verskyn.

“Sodra Mej. SA 2020 in Augustus gekroon word en die twee naaswenners aangekondig is, sal ons besluit watter kandidaat die beste by watter kompetisie sal doen.”

Gerhard Parzutka von Lipinski, hoof van die Mej. Supranasionaal-organisasie, sê die Mej. Suid-Afrika-organisasie word met groot trots as die jongste lid van die Supra-familie verwelkom.

Anntonia Porsild van Thailand, die huidige Mej. Supranasionaal. Foto: misssupranational.com

“Mej. SA lewer al lank fenomenale vroue. Ons sien uit daarna om een ??van die topdrie van die 2020-kompetisie by die 12de Mej. Supranasionaal te verwelkom.”

Die fokus van die Mej. Heelal- en Mej. Wêreld-kompetisie verskil. Die Mej. Wêreld-kompetisie soek ’n wenner wat op gemeenskapsdiens fokus, deelnemers moet hul talente toon en aan verskillende uitdagings deelneem. By dié kompetisie hoef vroue ook nie in hul swemklere te verskyn nie.

Daarteenoor is die fokus van die Mej. Heelal-kompetisie veral op skoonheid en glans, en deelnemers verskyn in hul swemklere, asook soms in uitspattige nasionale kostuums.

Dit is nog nie heeltemal duidelik waarna die beoordelaars van die Mej. Supranasionaal-kompetisie soek nie, maar die organisasie sê op sy webtuiste sy fokus is glans, mode en natuurlike skoonheid.

Die wenners van al drie dié kompetisies is in die verlede in Desember aangekondig.

Die nuwe Mej. SA word die eerste naweek in Augustus aangewys en die kompetisie word regstreeks op M-Net (kanaal 101) en Mzansi Magic uitgesaai. Weil sê sy is bly oor die groot getal inskrywings wat tot dusver van oor die land heen ontvang is.

Intussen sleep die drama op sosiale media voort rondom drie vroue wat hulle vir die kompetisie ingeskryf het, Bianca Schoombee, Oneida Cooper en Zizile Mthembu. Dié vroue is veral op Twitter geteiken oor ou sosiale-media-plasings wat as onder meer rassisties en onvanpas bestempel is.

Inskrywings vir Mej. SA sluit op 31 Mei om middernag en kan op die Mej. SA-webtuiste gedoen word. Almal wat daarvoor inskryf, moet ’n aantal vrae beantwoord, foto’s oplaai en ’n inskrywingsvideo op hul sosialemediarekening soos Instagram, Facebook of Twitter plaas.

Meer oor:  Mej. Sa  |  Skoonheidskompetisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.