Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Melanie moedig - sy was al deur 2 pandemie-siektes

Melanie en Gert Jacobs. Hul inkomste het opgedroog as gevolg van Covid-19, maar nadat sy reeds twee ander pandemie-siektes gehad het, is Melanie moedig oor die toekoms. Foto: Elizabeth Sejake
Melanie Jacobs het al twee pandemie-siektes in haar leeftyd gehad. Juis daarom glo sy sy kan ander moed inpraat te midde van Covid-19, skryf Kelly Minnie.

Melanie Jacobs was ’n perdfris tiener met ’n blink toekoms as ’n danser, atleet of model, toe haar lyf in 2003 in ’n oogwink meegegee het.

Sy het ’n dermatoloog gaan sien oor ’n vratjie op haar hand, wat reeds twee keer afgebrand is, maar elke keer weer terug gegroei het. Die dokter het poliodruppels voorgeskryf wat die vratjie sou weghou.

Die druppels het nie die vratjie genees nie en moontlik vir haar polio gegee, maar dit sou sy eers ’n dekade later uitvind.

Maande nadat sy die druppels gebruik het, was sy bedlêend en moes veg om haar lewe.

Sy’t gesukkel om asem te haal, gereeld flou geval en haar balans was swak. Haar spiere het begin styftrek en haar voete en linkerhand het 90 grade na binne gedraai. Van ’n skrander 15-jarige, het sy verander in iemand wat nie kon praat nie, want “jou tong is tog ook ’n spier”, en baie keer gevoel het of sy verdrink wanneer sy ’n slukkie water wou neem.

Hulle het vir omtrent al die neurologiese siektes getoets en wou selfs my brein oopboor op soek na antwoorde.

Talle dokters het probeer vasstel wat moontlik fout kon wees. “Ek het amper elke neuroloog in Suid-Afrika gaan sien. Hulle het vir omtrent al die neurologiese siektes getoets en wou selfs my brein oopboor op soek na antwoorde,” sê sy nou laggend.

In 2003 het Rapport berig dat medici nie weet waarom Melanie van Brits in Noordwes aan ’n rolstoel gekluister is nie.

Melanie Jacobs meer as 15 jaar gelede nadat dokters gesê het sy het net twee maande oor om te leef.

Sy het gesê hoe sy dikwels in die bed gelê en “geweet (het) as ek nie nou veg nie, is dit verby”.

Haar pa, ds. Jakes Jacobs van die Evangelies-Gereformeerde Kerk op die dorp, het vertel sy gesin is desperaat. Haar ma, Wilma, het gesê dat dokters nie hoop gehad het dat Melanie haar 16de verjaardag gaan haal nie. Maar toe sy 16 word, het Melanie besluit sy gaan leef. Die daaropvolgende jare het sy haarself weer leer loop, al het dokters gesê sy moes haar voete laat amputeer om dit te kan doen. “Ek het geweier, ek wil my eie toonnaels verf, nie ’n pop s’n nie.” Altesame 32 operasies later het sy haar eerste tree gegee.

Melanie ná een van haar 32 operasies om haar voete en linkerhand weer reg te draai. Foto’s: Verskaf

Varkgriep

Toe tref die 2009-’10-varkgriep-pandemie. Melanie was net op die been ná nóg ’n operasie en besig met haar prakties as spraakterapiestudent, toe sy begin siek voel. Sy is dokter toe en ná ’n paar toetse is dit bevestig sy het varkgriep onder lede. Weer was sy in die bed. “Ek het darem al geweet hoe dit voel om dood te gaan, so die varkgriep was nie so erg nie. Dit het gehelp dat ek ’n goeie sin vir humor het. Vir almal wat bekommerd gebel het, het ek gesnork soos ’n varkie.”

Toe sy weer haar studie kon hervat, het sy op iets oor die polio-pandemie van die 1900’s afgekom. Sy het teruggedink aan haar eie simptome toe sy 15 was en ’n ooreenkoms raakgesien. Sy’t met talle medici oor die siekte gepraat en dokters wat haar destyds ondersoek het, gekontak. Uiteindelik kon sy antwoorde kry.

“My ouers het destyds net een dokter vertel van die poliodruppels. Ons het eintlik gedink dis ’n neurologiese probleem.”

Melanie op haar 21ste verjaarsdag, toe sy weer haar eerste tree gegee het. Foto: Verskaf

Covid-19

Melanie hoop sy kan die Covid-19-pandemie vryspring, maar dit het haar op ’n ander manier getref. Haar man, Gert, is afgelê as ’n sjef – en as motiveringspreker en vermaaklikheidsredakteur vir Bella-tydskrif, het haar inkomste ook opgedroog.

“Daar is dae wat ek absoluut nutteloos voel. Dan is ek hartseer en kwaad vir God. Ek rou tot vandag toe nog oor die persoon wat ek gehoop het om te wees, maar ek sien myself nou as Melanie 2.0.”

Jy moet jouself toestemming gee om hartseer te wees as iets traumaties gebeur, solank jy net nie in daardie gemoedstoestand vasgevang word nie.

Jy moet jouself toestemming gee om hartseer te wees as iets traumaties gebeur, solank jy net nie in daardie gemoedstoestand vasgevang word nie.

“Wanneer ek vreeslik hartseer voel, kyk ek die fliek Titanic, eet sjokolade en huil, maar ek sê vir myself ná middernag is die dag verby en dan moet ek weer van voor af kies om op te staan.”

Haar raad is om die lewe dag vir dag aan te pak en beheer te neem oor jou denke. Fokus op wat jy het, nie op dit wat jy nie het nie. Volgens haar is dit dié clichés wat haar deur moeilike dae kry. “Vat dit dag vir dag. Vandag is die enigste een wat jy seker is jy het. Alles ná vandag is onseker.”

Sy vrees nie die koronavirus nie. “Ek gaan nie toelaat dat vrees my beheer nie. Ek het nie nou Covid-19 nie, touch wood, maar as hy vir my kom, is dit maar so.”

Meer oor:  Melanie Jacobs  |  Polio  |  Covid-19  |  Pandemie-Siektes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.