Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Melville se 7de Straat een van coolste plekke ter wêreld

Die geur van kos wat gaar word, hang swaar in die lug as jy in Melville se Sewende Straat afstap.

Michelle de Villiers bedryf al 11 jaar lank die Junkie-liefdadigheidswinkel in Sewende Straat. Dié straat is altyd lewendig, sê sy. Foto: Isabel Venter

Dit is al goed winter, maar op die sypaadjies staan tafeltjies uitgepak waar mense ’n verskeidenheid van unieke kossoorte kan proe – van burgers tot seekos.

Dit is juis die toprestaurante wat daartoe bygedra het dat dié straat in die tydskrif Time Out as een van die top-30- gewildste strate ter wêreld aangewys is om in uit te hang.

Dié lewendige straat is 12de op die lys van dié internasionale tydskrif, wat op 9 Junie uitgereik is.

Volgens Time Out se indeks spog Melville met ’n aanloklike mengsel van kos, pret en kultuur.

Dié tydskrif doen jaarliks onderhoude met duisende mense van oor die wêreld heen om vas te stel waar die koelste plekke is om te besoek.

Verlede jaar was Melville 33ste op hul lys van die top-40- coolste woonbuurte.

’n Vrou stap verby ’n spitsvondige advertensiebord van die Sips-kroeg in Sewende Straat, Melville. Dié straat het die tydskrif ‘Time Out’ se lys gehaal van die top-30-strate ter wêreld om te besoek. Foto: Isabel Venter
Christian Sekeleoane, chef van Hell’s Kitchen in Sewende Straat. Dié restaurant is veral bekend vir sy burgers. Foto: Isabel Venter

Vanjaar het die tydskrif probeer bepaal watter spesifieke strate tops is en het hy sowat 27 000 stedelinge uitgevra.

Die slotsom was dat Sewende Straat die ideale plek is as jy lekker wil kuier. Daar is nie net goeie kos nie, maar ook heelwat klubs, kroeë en straatkuns om te geniet. Dit is ’n plek waar ’n mens lekker kuier, bedags asook saans.

Christian Sekeleoane, hoofsjef by Hell’s Kitchen, dink dit is omdat besoekers weer en weer terugkom vir hul burgers dat Sewende Straat dié benoeming gekry het.

“Ons is wyd bekend vir ons burgers. Mense bestel dit in die oggend, middag en aand,” sê hy.

Hy werk al langer as ses jaar by dié restaurant, waar die binneversiering net so ’n lus vir die oog is as die kos wat bedien word.

Restaurante is ook nie al wat ’n mens in dié straat sal kry nie.

’n Tipiese winkel wat jy sal kry tussen al die eet- en kuierplekke in 7de-straat in Melville, Johannesburg. Dit is die kombinasie van winkels en kuierplekke wat die straat sy benoeming in die sak gebring het. Foto: Isabel Venter

Michelle de Villiers bedryf al 11 jaar die liefdadigheidswinkel Junkie. Die helder pienk ingang, met die vensters vol dasse, skoene en hangers nooi ’n mens in.

Daarbinne sal jy alles kry – van ’n skildery of boek tot valstande.

Ja, mense skenk meer gereeld valstande as wat jy sou dink, skerts De Villiers.

En vir elke stel het sy al ’n koper gekry. Iets waarvoor sy dankbaar is, want die Junkie-winkel ondersteun heelwat ouetehuise, asook ’n kinderhuis en dieresentrum in die gebied uit hul inkomste.

Meer oor:  Melville  |  Johannesburg  |  Time Out
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.