Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Mimosahoffers ‘ontsnap’ vir piekniek langs Kurumanrivier

Inwoners van die ACVV-tehuis Mimosahof in Kuruman het hul Covid-19-inperking verlede Vrydag “ontsnap” om ’n heerlike piekniek te geniet langs die Kurumanrivier, wat jare gelede laas geloop het.

Dit was die eerste keer sedert 27 Maart 2020 met die aanvang van die inperkingstydperk dat hulle weer oor die veld kon uitkyk, die vars Kalahari-buitelug kon geniet en hul tone in rivierwater kon steek.

“Ons kon almal ontsnap,” sê Magda Swanepoel, bestuurder van die tehuis.

Dié droë rivierloop het ná die onlangse deurdringende reën in die opvangsgebied vol geloop. Die water was genoeg om die inwoners op te beur.

Die Mimosahof-inwoners wat by die rivier gekuier het, van wie sommige se kinders en skoonkinders hulle by die groep aangesluit het is, van links: Winnie Kriel, Marius Maritz, Steven Meyer, Louis de Jager, Annetjie Hohls, Rudi du Plooy, Bes du Plooy, Rosy du Plooy, Ans Benade, Martha Muller, Annatjie Nel, Dina Noeth en Johan Rossouw. Foto: Magda Swanepoel

“Dit was nogal ’n groot uitstappie. Ons het vooraf lekker piekniekkos van gekookte eiers, hoenderboudjies en kouevleis-toebroodjies gemaak. Die rooi koeldrank was koue koejawelsap. Tente en stoele is ingepak, selfs ’n draagbare toilet met ’n seiltjie daarom.

“Ons is eers tot by die brug op die McCarthy’s Rest-pad, waarna ons omgedraai en met die rivierpad tot by Aansluit gery het. Dit is kort voor die plek waar die Moshawengrivier in die Kurumanrivier loop. Die pad wat van daar onbegaanbaar was, het ’n piekniekterrein en groot swembad geword. Van ons was spyt dat ons nie ons baaibroeke saamgeneem het nie. Sommige inwoners was dapper genoeg om hul tone in die water te steek, maar ander was versigtig vir die snelvloeiende water. Intussen het van die bejaardes se familielede hulle by ons aangesluit. Ander plaaslike mense het in die rivier kom swem, want so ’n belewenis sien ’n mens maar min. Volgens almal is die riviervlak laer as met die 1974-vloed, maar hoër as met die 1988-vloed.

“Op pad soontoe was almal stil in die bussie, maar algaande het hulle soos kinders erg opgewonde geraak. Op pad terug het hulle vrolik gesing en stories uit die ou dae vertel.

“Ons het selfs oor donkiekarre gepraat en die ooms en tannies wat op plase in die omgewing grootgeword of geboer het, het vertel hoe hulle as jong mense met donkiekarre gery het om tot sonsopkoms op ander plase te gaan dans. Dan het hulle met hul aankoms by die huis dadelik ingeval om koeie te melk of eiers uit te haal. Ek wens ek kon meer opnames van al die lekker stories maak,” sê sy.

Die piekniek langs die Kurumanrivier was ’n gesellige uitstappie vir die bejaardes wat maande lank weens die Covid-19-pandemie ingeperk is. Hier kuier Ans Benade, Bes du Plooy, Netta Poolman, Dina Noeth en Annatjie Nel langs die rivier. Foto: Magda Swanepoel
Steven Meyer, Magda Swanepoel en Martha Muller geniet die koel water van die Kurumanrivier. Foto: Verskaf
Die piekniek langs die Kurumanrivier wat vir die eerste keer in jare sterk loop, was ’n welkome uitstappie en lafenis vir die bejaardes van Kuruman. Foto: Magda Swanepoel
Meer oor:  Kuruman  |  Koronavirus  |  Pandemie  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.