Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Moedersdag: Formidabele vroue skryf vir hul kinders

Daar is soveel formidabele Suid-Afrikaanse vroue wat op Moedersdag wonderlike lewenslesse met hul kinders en ma’s kan deel. Maryke Roberts het ’n paar gevra om dit neer te pen.

Dis net so ’n aks voor Moedersdag dat Marita van der Vyver se nuutste boek, ’n Baie lang brief aan my dogter, by NB-Uitgewers verskyn.

In die boek vertel Marita aan haar Franse dogter, Mia (21), van haar grootwordjare in die 1960’s en 1970’s, in die bloeityd van apartheid.

“(Dis ’n) liefdesbrief aan ’n dogter en aan ’n taal en aan ’n land. En ’n ma se poging om sin te maak van hierdie onverskillige en wrede wêreld waarin sy haar nou begewe,” lui die verklaring.

Dit het ons laat dink aan al die briewe wat formidabele Suid-Afrikaanse vroue hierdie Moedersdag aan hul kinders (en eie moeders) kan skryf.

Ingrid Jones en haar dogter, Malaika.

Ingrid Jones, televisie-aanbieder, motiveringspreker en mede-eienaar van Mikateko Media, het ’n dogter, Malaika (22), wat drama en teater studeer.

Toe die inperking laas jaar haar tydskrif-onderneming kniehalter, het Ingrid die Lockdown Recipe Storytelling Book-blad op Facebook geskep. Die private groep het nou meer as 3 000 lede wat resepte, stories en hartsake deel.

Die groep het al twee uitgawes van die tydskrif Koe’sister uitgegee en ’n kookboek, Lockdown Recipe Storytelling Book: Die stories van ons komvandaan, het in Desember verskyn.

Ingrid sê in ’n brief aan Malaika sy sal vir haar ’n foto stuur van toe syself agt of nege jaar oud was. “Dis ’n familiefoto van my ouers en grootouers en hulle is almal in wintersklere en ek het my baaikostuum aan. Het ek moedswillig besluit om uit te staan? Ek kan nie onthou nie, maar wat die foto wel vir my sê – en dis hoekom ek dit in die brief sal insluit – is dat ’n mens vroeg weet wie jy wil wees, hoe jy gaan ontwikkel.

“ ’n Mens vat egter ’n leeftyd om die stem te begin hoor. Jy moet jouself leer om meer intuïtief te wees – wat jong mense deesdae nie is nie – dan sal jy die stem hoor en die geraas van buite uitdoof. Daar is niks verkeerd daarmee om uit te staan nie, solank jy deel is van ’n familie wat jou ondersteun in alles wat jy doen.

“Ek dink ek sal in my brief vir haar sê sy moet daardie foto van haarself gaan soek – die een wat daai oomblik toe die saadjie geplant is, vasvang.

“Sy sal miskien nog nie lekker (na die stem) luister nie, maar eendag wanneer sy wel luister, sal sy onthou haar ma het haar gesmeek om daardie foto te soek – die een wat haar wys wat haar intensie om te leef is.”

Soos Marita in haar boek skryf: “ . . . enige vorm van triomf is skaars as jy kinders grootmaak.”

Magda Wierzycka en haar seuns, Alexander en Nicholas.

Magda Wierzycka, medestigter en uittredende uitvoerende hoof van Sygnia, is Suid-Afrika se rykste vrou. Sy’s in Pole gebore en het arm grootgeword.

Met Pole se ekonomiese verval het die familie gevlug en vir ’n jaar in ’n vlugtelingkamp in Oostenryk gewoon. Daar het haar ouers, albei dokters, slote gegrawe om te oorleef. In 1983 het hulle met R500 op hul naam in Suid-Afrika aangekom. Magda is met ’n studiebeurs na die Universiteit van Kaapstad.

Sy’t twee seuns, Alexander (23) en Nicholas (20). Sy sê hulle ken haar lewensverhaal baie goed. “Hulle het baie van my werketiek aangeneem en dis sigbaar in hul akademiese prestasies. Albei studeer aan Ivy League-universiteite in Amerika. “Ek was nog altyd die tipe ma wat gereeld lewenslesse met hulle deel.

“Sou ek ’n brief kon skryf sou ek een brief skryf aan hulle albei, want my insigte is dieselfde vir albei kinders. Kortom: Volg jou drome.

“Ek vertel hulle gereeld dat hul vermoë om dit te kan doen moontlik is omdat hulle die finansies het om keuses te maak. Ek het nie keuses gehad nie. Hulle verstaan dit en ek glo dit het hulle in diep empatiese en volwasse jong mans laat ontwikkel.”

Magda sê die oorkoepelende boodskap van só ’n brief sou wees dat hulle gelukkig moet wees met wat hulle ook doen, want die lewe is ’n kort reis.

Moet jou nie steur aan wat ander mense van jou dink nie.

Haar wysheid kom uit die voorbeeld wat haar ma aan haar gestel het: Harde werk is belangrik. “Sy is ’n dubbel- mediese spesialis en het my geleer dat vroue en mans gelyk is; jy hoef nooit vir ’n man terug te staan nie.”

Magda sê dis moeilik om te sê of sy só ’n brief van haar ma wou hê. “As vlugtelinge moes ek op 13 die verantwoordelikhede van ’n volwassene dra en vroeg besluite neem. Dit het my groot insig in my ouers se lewe gegee en ook in die besluite wat hulle vir ons geneem het.”

Dr. Angelique Coetzee saam met haar kinders, Johann, Patricia en Retief.

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama), het drie kinders, Johann (33), Patricia (30) en Retief (29).

Sy sê sy deel reeds bykans alles met haar kinders, maar in ’n brief sou sy dalk vir hulle vertel hoe sy as student gesukkel het om geld bymekaar te skraap om te studeer. “Dit was moeilik.

“Moederskap het my geleer dat ek ongeduldig is en te vinnig wil hardloop en toe my kinders klein was, kon hulle nie so vinnig saamhardloop nie. Noudat hulle groter is, kan hulle my ’n go gee – hulle het baie van my gewoontes aangeleer.”

Angelique sê sy sal wil hê ’n brief moet haar kinders haar laat onthou: “Hier is my ma; sy was ’n rustelose siel; sy het baie gedoen. Sy het baie omgegee – vir haar gesin, haar kinders, maar haar motto was om ’n verskil te maak in mense se lewe. Met elke mens in wie se lewe sy ’n verskil gemaak het, het ons hopelik ’n beter persoon daaruit gekry.”

Sy sal graag spesifiek aan haar dogter wil skryf oor verhoudings. “En ek sal vir haar en my seuns wil sê al maak hulle verkeerde keuses, sal ek altyd daar wees vir hulle of ek met die keuse saamstem of nie.”

Marita se woorde sluit goed hierby aan: “Ek het lankal aanvaar dat ek nie die hele wêreld kan verander nie, maar ek kan my kinders anders grootmaak as wat ek grootgemaak is. Wat nie beteken dat ek alles versmaai wat my ouers my geleer het nie. Inteendeel.”

Denise Newman (reg) en Dominique en Simone toe hulle jonger was.

Denise Newman, ‘Bridgette October’ in die sepie Suidooster, het twee dogters, Dominique (38) en Simone (36).

In haar brief aan hulle skryf sy: “Ek sal graag wil hê julle moet die brief lees as ek weg is; en dit weer lees elke keer as julle weer bevestiging nodig het oor hoe ongelooflik julle is. Julle is twee uitsonderlike vroue en ek is só trots op julle. Dankie dat julle my as jul ma gekies het. Hou aan om te doen wat julle doen, om die beste mense te word wat julle kan – nie noodwendig die rykste, slimste, maerste nie, maar die beste.”

Sy sê moederskap het haar onvoorwaardelike liefde geleer en ook om te deel en te gee, want as ma is “jy so verantwoordelik vir ’n ander klein mensie wanneer hulle gebore word”.

“Jy moet by hulle ’n morele kompas, ’n sin vir reg en verkeerd en die vermoë om lief te hê inprent. Maar hulle ook leer om vir hulself op te staan.”

Anél Potgieter en ma Babs.

Rapport se kosredakteur, Anél Potgieter, se ma, Babs, het verlede jaar by die dood omgedraai. Anél het nie kinders nie en sê haar ma sal nooit so ’n brief aan haar kan skryf nie, al wou sy.

“My liefste mamma is nie meer in staat om sulke sinne bymekaar te sit nie. Sy het demensie, so ons gesprekke is maar met foto’s en baie kort sinne.”

Anél sê wat sy egter in ’n brief aan haar ma sou skryf, sal só lui: “Liefste ma.

“Hoe kan ek begin om te beskryf wat Ma vir my en al ons kinders beteken? Ek het in die verlede miskien dankie gesê en my waardering en liefde gedeel, maar noudat ek ouer is, wil ek hê dat Ma moet weet wat ’n ongelooflike wonderlike, sterk en wyse vrou jy is. Maggies Ma, jy het Covid op 89-jarige ouderdom ’n helse skop gegee! En oor ’n week of twee word jy 90 en ons beplan ’n lekker makietie saam met jou! Ons Babs Norris se innerlike krag en veggees is nie net ’n voorbeeld vir ons kinders nie, maar ook vir die hele Suid-Afrika.

“Ek weet Ma het baie opgeoffer vir ons gesin en dat jy drome gehad het om ’n argitek te word, maar jy het gekies om jou vier kinders groot te maak.

“Ek dink met liefde aan al die wonderlike tye en saamwees en is baie dankbaar dat ek jou steeds kan druk en bederf.

“Baie lief vir Ma, Anél.”

Mosilo Mothepu en haar ma, Ntebaleng Malebenya.

Mosilo Mothepu, die fluitjieblaser wat ook ’n finansiële en ekonomiese adviseur van ’n kabinetsminister is, se boek Uncaptured: The true account of the Nenegate/Trillian whistleblower, is pas bekend gestel. Haar beëdigde verklaring aan die voormalige openbare beskermer Thuli Madonsela het haar deur diep waters laat gaan, terwyl Trillian, waarvan sy uitvoerende hoof was, se bates bevries is en die maatskappy se betrokkenheid by staatskaping aan die lig gekom het. “Ek was vir twee jaar werkloos en het geen ondersteuning van my mede-Suid-Afrikaners ontvang nie. Daar was wel enkele engele oor my pad, wat my geloof in mense help herstel het. Ek is besig om my lewe te herbou en dink die boek verduidelik my oorwegings.”

Sy ly aan depressie, posttraumatiese stresversteuring en slaaploosheid. Sy sien ’n hele rits geestesgesondheid-spesialiste, maar glo Suid-Afrika is ’n beter plek oor die opofferings wat sy gemaak het. Mosilo het nie kinders nie, maar sê as sy ’n brief aan al die jong mense in hierdie land kon skryf, sou sy sê: “My storie dien as inspirasie, maar ook om te bemagtig en ander aan te moedig om die waarheid te praat. Moenie bang wees om die smal weg te stap nie, want wat ons land nodig het, is dat almal vir haar veg. Staan sterk vir dit waarin jy glo en dit wat jy weet reg is, al wil mense jou omstoot.

“Deursettingsvermoë sal uitstaan.”

Mosilo sê haar ma, Ntebaleng Malebenya, het haar deur baie hartseer gedra en sy is haar rolmodel. “Ons praat elke dag vir ure en gesels oor alles onder die son. Sy is die eerste mens wat my goeie én slegte nuus hoor. Sy is my steunpilaar en ons het ons eie grappies en sêgoed en gesels as vroue, susters en vriendinne.”

Mosilo is een van drie kinders en sê haar ma het hulle grootgemaak met integriteit en die wete dat goeie opvoeding en harde werk beloon sal word. “My ma het gesê ons erfporsies is die opvoeding wat sy ons gegee het. Sy is onwrikbaar in haar oortuigings, ’n vrou van geloof en krag en het ons geleer van omgee.”

As sy vir haar ma ’n lang brief kon skryf, sou die boodskap daarop berus dat God hul familie ryklik geseën het en deur haar ma se gebede gesorg het sodat al drie haar kinders Godvresend is, lief vir mekaar en mekaar sal ondersteun wanneer sy die dag nie meer daar is nie.

Marita se slotboodskap vat al hierdie ma’s en hul kinders se wense saam: “Dat jy, soos Bob Dylan gesing het, altyd jonk sal bly, al word jy hoe oud. Want jonk het niks te doen met hoe jy lyk nie, dis bloot die vermoë om aan te hou droom.”

Meer oor:  Bekendes  |  Moedersdag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.